Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meester Meyer vlieg hoog
Die skepper van Bennie Griessel is terug met ’n storie van wêreldklas wat meer raaiselroman as nekbreekspoed-riller is, skryf Elmari Rautenbach.

Ikarus deur Deon Meyer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R270.

Net so voel jy in dié verhaal aan eie lyf wat my Afrikaans- onderwyser in matriek “die patos van menswees” genoem het en Bennie Griessel “die donkerste kant van hierdie samelewing”. Maar jy het ook veel, veel plesier aan wat net beskryf kan word as die warm kollegialiteit en vriendskap wat alles oortref in dié klein broederskap van Valke.

Die storie skop af wanneer die lyk uitgeken word van Ernst Richter, die skatryk jong eienaar van ­alibi.co.za, ’n webwerf wat die statige gemeenskap van Stellenbosch se stertvere behoorlik deurmekaar kom krap het met die aanspraak dat mense wat die kat in die donker knyp hier ’n alibi kan koop. Dit sluit in enigiets van ’n vervalste hotelrekening, uitnodiging na ’n denkbeeldige konferensie, vliegkaartjie, ensovoorts.

Ikarus. Wat te hoog wou vlieg. Omdat hy so arm grootgeword het, sê Uncle Frankie.

Parallel hiermee loop ’n tweede storie in die vorm van ’n biegsessie voor ’n advokaat: ’n jong wynboer wat ook te hoog wou vlieg, maar nou wil bely oor hoe hy by die Richter-saak betrokke is. Of is hy?

Want dis die kruks van dié boek. Anders as in sy vorige boeke, vernaam die driemanskap 13 Uur, 7 Dae en Kobra, wat met nekbreekpas hardloop, is hierdie meer ’n raaiselroman. Die storie loop om en om in ­sirkels om die lus geleidelik nouer te trek om die eintlike skuldige. En kort-kort word jy op dwaalspore gelei.

Tog word die spanning op twee maniere aangehits: Die wynboer se storie staan al dwingender end se kant toe, en ’n naamlose Twitter-gebruiker, @NoMoreAlibis, dreig om die ware identiteit van al die Alibi-gebruikers binne ’n sekere tydperk bekend te maak.

Soos vantevore is Meyer se noukeurige navorsing ’n plesier. Al noem hy net die DJI Phantom 2 Vision+-kwadkopter, of verduidelik ’n IT-term soos zero vulnerabilities; delf in ’n ou skandaal in die Stellenbosse wynbedryf, of probeer uitpluis hóékom Bennie weer begin drink – hy integreer sy feite naatloos. Sodoende verkry sy storie ’n geloofwaardigheid, genuanseerdheid en ’n gevoel van plek wat min hom kan nadoen.

Waarmee Meyer veral wys hy’s meester van sy ambag, is sy karakteruitbeelding. En nêrens meer so nie as wanneer jy sien hoe ’n karakter onder sy vingers blom.

In Ikarus is dit veral die randkarakters se beurt. Daar is ’n warmte en diepte, maar ook ’n sprankeling wanneer hy die nou al bekende lede van die Valke méns maak: Bones, die syferman, Mooiwillem met sy slag met vroue, Lithpel Davids, ­Uncle Frankie, Vusi wat sy ouers in Gugs onderhou. Ook die forensiese ondersoekers Dik en Dun – “the Eagles, to your Hawks” – wat soos ’n gedugte span skerpskertsers die draak met alles en almal steek.

Een aand sit die groepie speurders laat buite Richter se huis sommerso op die kar se enjinkap en sypaadjie en broodjies eet. Hulle terg mekaar, die darkies, die whiteys en die klong, en hulle lag sag “uit konsiderasie vir nabye huise”. Bennie, oorbewus van sy eie broosheid, kyk na hulle en dink “die dun lyn, die delikate skans tussen die duiwel en die diep blou see, ’n afgesonderde – deesdae verstote – groep. Hulle het eintlik net vir mekaar.”

Ikarus is ook Mbali Kaleni se storie, majoor nou en beginselvas soos altyd, maar gedempter én skraler. (Dat haar kantoor dikwels ’n blomkoolklankie het, is ’n deurlopende bron van eietydse vermaak.) Maar een keer per week sal sy haar deur toemaak en die blok Lindt Excellence 70% uit haar onderste laai haal. Want al is professor Tim slim, “verstaan mans nie die hart van ’n vrou nie . . .”

Bowenal is hierdie egter die storie van Vaughn Cupido. Wat nes Bennie sy ontstaan as ’n randkarakter gehad het, nogal as irritasie vir Bennie in Infanta (2005). Maar nou word die cool cat, wat almal voor en agter “pappie”, groot. Sy wapperende swart jas en tekkies waarmee hy die siele van sy seniors versondig het, is verruil vir ’n pak en leerskoene.

Met Bennie uit die prentjie is hy immers ondersoekleier. En hy wonder vir die eerste keer oor alleenwees en verantwoordelikheid aanvaar.

Maar dit keer hom nie om sy prate te praat nie (so outentiek soos trouens elke ander karakter), soos net hy kan. En in ’n onbewaakte oomblik blaker hy aan “ou Benna” uit, die jin tot sy jang: “. . . ma’ eintlik, die ­heart of the matter is, ek kan nie Vaughn the Terrible wees as jy nie Benna the Sober is nie. Dis soos daai line in die movies: You complete me.” Met Bennie wat droogweg antwoord: “En nou gaan jy my soen?”

Cupido en Griessel. Wat ’n paar. Wat ’n span. Want op die ou end is dit mense wat ’n ­storie maak. En hierdie twee hou kers vas by die bestes in wêreldmisdaadfiksie.

■ Elmari Rautenbach is ’n vryskutjoernalis en onder meer ­oudredakteur van Insig.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.