Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meneer Karsten se stemmige afgryse
Chris Karsten is soos ’n pianis wat jare der jare toonlere geoefen het en nou aan die vertolking reg kan laat geskied, skryf Cas van Rensburg.
Chris Karsten Foto: Brenda Veldtman

Fiksie

Die respektabele meneer Hartslief

Chris Karsten

HUMAN & ROUSSEAU, R220

Dit is seker nie die gebruik om ’n resensie van ’n spanningsverhaal met die uitspraak van ’n digter te begin nie. Die bekende Engelse digter W.H. Auden het egter op ’n keer ’n bra duister bewering oor spanningsliteratuur gemaak wat in Chris Karsten se jongste boek, Die respektabele meneer Hartslief, opgeklaar word.

Auden het beken dat hy van kindsbeen af aan spanningsverhale verslaaf was soos ander mense aan drank of tabak. Sy verklaring hiervoor was dat hy van alle skuld gesuiwer word wanneer hy hom in die fantasiewêreld van hierdie verhale begeef en dat hy by die lees daarvan telkens sy onskuld herwin. ’n Mondvol!

Karsten bring egter duidelikheid hieroor in sy vertelling van ’n traumatiese episode in die lewe van ’n hegte onderdorpse gesin wat hulself soms flentergatte noem. In een van die afgesloofde huisies in Brixton se Dip het Antie Hartslief vier van haar broerskinders, asook nog vier ander, alleen grootgemaak. Terselfdertyd het Antie ook nog al die jare ’n sopkombuis bedryf. Goeie mense, met al die drome van diegene wat na ’n beter lewe streef. Lottie wil model word en Poppie ’n Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioen. Dit is egter Elie (die respektabele van die titel) wat van bankklerk en deur buitemuurse studie tot ’n blinkjan in Sandton gevorder het met Jeep en al! Hy is die spil waarom alles draai, want dis hy wat vir Lottie se modellesse betaal of vir Moks, die maer gay outjie, se sjefskool. Hy ondersteun ook Antie se sopkombuis.

Dan tref die eerste trauma hulle wanneer die sagmoedige Basie, die jongste in die gesin, betrokke raak by die pragtige minnares van die King of Sleaze, Bogdan Petrescu. Hy boet vir hierdie gelukkie op ’n afgryslike manier met sy lewe.

Op ’n kalm en deurdagte manier ontvou die verhaal hiervandaan. Die polisie het geen leidrade nie, die dossier vergader stof en Elie begin uiteindelik vrae stel – met tragiese gevolge. Dit is op hierdie punt dat ’n mens die boek nie wil neersit nie. Die hele gesin word betrek en die einde, wat die leser maar self moet beleef, is uiters bevredigend.

Dit is juis hierdie einde wat die gedagtes na Auden laat teruggaan het. Die konfrontasie tussen die onskuldige “flentergatte”, mense wat ons almal ken, en die opperste van boosheid in die samelewing bou ’n spanning in die leser op wat uiteindelik tot ’n soort katarsis lei wanneer die weerlose onderdorpers wen.

Natuurlik is die oorwinning oor die bose en regverdige vergelding die tema van iedere spannings- of speurverhaal, maar Karsten kry dit reg om deur sy eenvoudige vertelstyl die leser intiem by die karakters en gebeure betrokke te laat raak. Elie se oorwinning word die leser s’n, en dit bring ’n tevredenheid, ’n soort hoop dat die goeie steeds bobaas is. Is dit dalk Auden se gevoel van onskuld?

“Eenvoudig” is miskien nie die regte beskrywing van Karsten se vertelstyl nie. Sy verhaal rus swaar op sy keurige taalgebruik. In ’n tyd van al hoe meer verslonsde Afrikaans is ’n mens dankbaar vir die goed geskoolde joernaliste van ouds wat nou heeltyds skryf, en wat die ganse taalregister bemeester het. Karsten is soos ’n pianis wat jare der jare toonlere geoefen het en nou aan die vertolking reg kan laat geskied.

Voeg hierby die varsheid wat hy bring deur die gebruik van ou woorde soos “beduimelde” Bybel (soek dit op!) of om te praat van die geronk van enjins of die “skynheilige uitstalling van tande”.

Maar nog is dit het einde niet. Die poeding van hierdie verhaal is die ongelooflik komplekse karakter Lood, oftewel die Lood­gieter. Hy is die King of Sleaze se huurmoordenaar, die gesig van die bose, wat al die verskriklike dade pleeg wat jou te midde van die gemoedelike vertelling van hierdie verhaal kort-kort die rillings gee.

Hy is ’n koelbloedige moordenaar wat elkeen van sy vele dade deeglik beplan terwyl hy Lucky Strike rook en rooibostee drink. Sy passie is die saksofoon. En boeta, hy ken saksofoonmusiek en beskik oor ’n groot versameling plate van die vroegste tye af. Maar sawens op sy verweerde stoep op die plaas, speel hy self vir sy uitheemse honde, egte wilde mensejagters, op sy saksofoon terwyl hulle op hul kombersies lê en luister. Wat ’n prentjie!

Wat nog verder diepte aan hierdie besondere karakter gee, is Karsten se navorsing oor die saksofoon, die musiek en die mond- en ander gesigspiere wat gebruik word. Lood se mondspiere is dan ook so sterk ontwikkel dat ’n beskrywing in die boek van wat hy daarmee kan doen, so grusaam is dat dit ’n ouderdomsbeperking nodig het. Tog skemer daar aan die einde van die boek ’n menslikheid deur wat die leser simpatiek stem. Dit laat jou ook wonder wat sy storie is. Waar kom hierdie moordenaar met ’n “siel” vandaan. Hoekom het hy geword wie hy is?

Goeie navorsing is inderdaad ’n ander kenmerk van hierdie boek, soos dit enige misdaadskrywer betaam. Dit val ook op dat hy ondanks grutonele nie oorboord gaan nie. Selfs die einde, wat ’n bloedbad kon gewees het, is nogal stemmig – hoewel op ’n manier besonder spanningvol.

Wat wel genoem moet word, is dat dit nie heeltemal duidelik is wat met Lood gebeur nie. Is hy dood of nie? Dit het die vermoede laat ontstaan dat Karsten self die waarde van hierdie besondere karakter besef. Dalk duik hy weer in ’n volgende boek op.

Dit is duidelik dat Karsten as misdaadskrywer reeds interna­sionale status bereik het en hopelik sal hy, soos die Skandinawiese skrywers dit reggekry het, ook van ons klein taaltjie die spreekwoordelike beiteltjie maak wat “klink”. – Cas van Rensburg is ’n skrywer van Onrusrivier.

Klik hier om die boek te koop. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.