Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Elsa Joubert oor vertaling
‘Missionaris’ bly aktueel
Die bekroonde skrywer Elsa Joubert se indringende blik in die Europese sendelingelewe aan die Kaap in Missionaris, is nou pas ook in Engels te lees as The Hunchback Missionary. Sy het aan Willem de Vries van die romans vertel en van die belang van vertaling.
Elsa Joubert Foto: Natalie Gabriels

In ’n bespreking van Missio­naris skryf Rykie van Reenen dit “is nie maar net ’n rekonstruksie van ’n sendelingslewe nie.

“Dit word ’n verbasend ­lewendige gesprek tussen die pioniersverlede en die ­hedendaagse Suid-Afrika.”

In ’n bespreking van die boek in Die Burger in 1988 word genoem dat Joubert die karakter van Aart Antonij van der Lingen “midde-in die twiste van sy tyd” plaas, naamlik “die spanning tussen boer en sendeling, kerk en sending, staat en kerk – waarteen baie van ons ­eietydse troebelheid afgelees kan word”.

Eintlik is die Engelse boek ook méér as ’n vertaling van die verhaal van Van der ­Lingen se reis van Rotterdam, van onder meer godsdienstige hoogmoed tot die heiden in eie hart aan die Kaap.

“Om ’n roman oor te sit in ’n ander taal is ook om dit na ’n ander wêreld te neem, te meer nog ’n verhaal wat so sterk gesetel is in koloniale ervarings,” sê Joubert. “Ook kom dit uit die sfeer van die London Missionary Society, iets wat eweneens aan Engelse lesers bekend is.”

Die omslag van die Engelse vertaling van Missionaris as The Hunchback Missionary.

Die Europeër se rol in Afrika is ’n kwessie wat voorop gestaan het vir Joubert in die ­jare tagtig. “Dit was op daardie tydstip vir my ’n baie groot kwessie. Ons voor­geslagte was dan so heilig en het die swart mense bekeer. Wat as dit heeltemal andersom is? Dat ons hierheen ­gestuur is om iets te kry? Dit was toe ook my eie soektog in Missionaris.”

Dit was Joubert se eerste boek ná die reusesukses van Die Swerfjare van Poppie ­Nongena en sy wou vir eers iets van die geskiedenis skryf, iets weg van haar.

Wat bly haar vandag by van die wêreld van Missio­naris?

“Niks is eintlik opgelos nie. Dit is om ons elke dag, heeldag. Spanninge van tóé ervaar ons nog vandag. Iets wat ek in die boek uitgebring het, is dat op die ou end is die grootste strydfront eintlik binnekant, in jouself.”

Om die verhaal uit sy ­Afrikaans en Nederlands oor te plaas in Engels moes sy verskeie veranderinge ­aanbring. Tussen die Afrikaanse boek in 1988 en die Engelse boek vanjaar het Joubert gewerk aan verskeie boeke, soos Die Reise van Isobelle, maar sy het ook Van der Lingen se verhaal nooit heeltemal ­eenkant toe geskuif nie.

“Dit het van die eerste vertaling tot nou baie gevorder. Ek het die hele boek oorgeskryf van die derde in die eerste persoon. Die Engels is ’n nuwe weergawe.

“Hier ná Reisiger [2009] het iemand vir my gesê hulle het Missionaris gelees en wil dit só graag in Engels sien. Toe sê ek, ek het ’n vertaling daarvan, maar ek meen dit is nog nie reg nie.

“Een aand staan ek van my lessenaar op, lees weer daaraan en besluit ek gáán dit regkry. Van ál my boeke was dít die een wat die naaste aan my hart was.

“Al die naspoelinge van Reisiger was ook toe al agter die rug. Ek gaan toe na Jonathan Ball met die vertaling van Missionaris. Hy het ­glad nie eens getwyfel nie.”

Sy is verheug om te sien deesdae verskyn ’n hele paar boeke feitlik gelyktydig in Afrikaans en Engels. Sy voel sterk oor die beskikbaar­stelling van die Afrikaanse letterkunde in Engels.

“Ek wou nog altyd gehad het dat ’n prys ingestel word waarvan die prys is dat die boek vertaal word. Sodat dit nie ’n literatuur bly wat afgesluit is van ander nie. Ek wil hê Afrikaanse denkwyses moet toeganklik word in ­Engels ook. En dís miskien wat nou gebeur.”

■  Jonathan Ball is die uitgewer van The Hunchback Missionary.

Missionaris se ontstaansgeskiedenis

 Elsa Joubert oor hoe Missionaris sy beslag gekry het:

Aart Antonij van der Lingen was nooit dashing nie, maar iemand aan die rand. Ek het gekies om op hom te fokus, eerder as op die lewe van sy bekende seun, ds. G.W.A. van der Lingen.

Lichtenstein, ’n Duitse reisiger en navorser kry myle der myle uit die Kaap, doer onder ’n doringboom ’n afgeslete wa, ’n verwaarloosde vrou by ’n vuur, ’n verwaarloosde man en ’n paar werkers. Ene Van der Lingen. Dit prikkel toe by my die gedagte: Wie is hierdie verdwaalde man op die Afrika-vlaktes?

Ek lees verder en ek kom toe agter dit kan nie ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl wees nie. Die jare verskil te veel. In ’n tesis lees ek toe sy pa, Aart Antonij, het uit Holland gekom. Wat doen hy hier? So bleek, rooi gebrand van die son. Hy was heeltemal onaangepas by Afrika. Hoe het hy daar gekom? Waarnatoe sou hy gaan? Hoe sou dit kom dat sy kind die dominee in die Paarl sou word? G.W.A van der Lingen het gehelp om die teologieskool in Stellenbosch te stig, hy het ’n groot figuur geword. Toe dog ek ek stel meer belang in die pa. Ek is altyd een vir die underdog.

Ek gaan toe na die kerkargiewe, destyds nog in die gebou langs waar die sinodesaal gestaan het. Dit word toe vir my ’n geweldig interessante ervaring. Daar kry ek ’n notule van die genootskap, dat hulle eintlik opgeskeep sit met Aart Antonij van der Lingen, iemand wat nie opgelei is nie, en hy’s nie sterk nie. Maar hy het net die drif.

Al die wedervaringe van die mense in die boek het ek daar in die argiewe gekry. Die bibliotekaris ds. Charles Hopkins het ook begin belang stel en kry toe Van der Lingen se briewe aan die genootskap. Hy vind toe ook ’n joernaal wat Van der Lingen op trek gehou het. Maar stukke daaruit, onvolledige goed. Verslae wat die man ook geskryf het, ook net stukke. Hy het geskryf van aardbewings in die Kaap. So dit wás werklik. Ek het nie eers geweet daar was so iets nie. Met dit alles dog ek toe ek wil in hierdie man se kop kom. Ek wil weet: Wat het hom besiel?

Die arme Van der Lingen wat so verlore was. Hy was op Allegonda van Lier so verlief al was sy so siek en aan die sterwe. Vir hom was dit ’n vreeslike slag toe die enigmatiese Kircherer aan haar verloof geraak het. Ek het as kind in die kerk gesit en eendag het ons twee of drie versies gesing van Allegonda van Lier wat in ons gesangeboek was, voordat dit nou vertaal is in Afrikaans. Ek het daardie verse dus geken.

Aart en sy vrou is later met hul kind terug na Holland waar hy sy opvoeding ontvang het. Aart se seun is later terug na Suid-Afrika.

Van GWA van der Lingen het ek deur my oupa in die Paarl bewus geword. My oupa was ds. Izak de Villiers van Worcester, maar hy het kom aftree in die Paarl, want sy familie is daar en hy is daar gebore. Hy het my vertel toe hy ’n seuntjie was in die Paarl, het op sekere oggende die kinders geoefen om te sing en dan het hulle gegaan na die pastorie, ’n pragtige Hugenote-gebou. En dan moes hulle daar voor die venster van ds. [GWA] Van der Lingen gaan sing vir sy verjaardag. En dié ds. Van der Lingen, vertel my oupa, het ’n baie groot indruk gemaak. Hy kom uit die huis, dan het hy ’n sigaar in die hand en daar wag sy koets vir hom. As hy ry deur die Paarl op na die kerk toe in die bo-Paarl sien ’n mens net hoe borrel die siggaarrook uit die koets. By die konsistorie se ingang was daar so ’n blik met grond waar hy altyd sy sigaar doodgemaak het, voordat hy die kerk in is.

Hy was baie ingestel op die onsienlike. Hy was die man van die Pinkster-bidure. Hy het dit in Suid-Afrika begin.

Die stoomtrein, het hy gedink, is die koms van die Antichris. Toe dit op Sondae ook loop toe het hy verbied dat mense daarop mag ry. Hy en ’n klompie boere het ’n koetsdiens tussen Kaapstad en die Paarl ingestel. Gereelde gery, elke dag. Dit het vir omtrent ses maande gehou.

Hy was ’n besonderse mens.

Maar met die navorsing het al die stukke oor die verlore Aart Antonij van der Lingen in mekaar begin loop. Dít is hoe ek die boek begin skryf het. Ek was gedrewe om dit te skrywe. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.