Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nie ligte vermaak, maar die lees werd
Fiksie: Tirza, Arnon Grunberg (uit Nederlands vertaal deur Lina Spies), PROTEA, R180

Arnon Grunberg word beskou as een van Nederland se grootste kontemporêre skrywers, indien nie dié grootste nie. Van sy tien romans staan Tirza bekend as een van die beste. As jy dus iets van kontemporêre Nederlandse literatuur wil weet, moet jy Tirza lees. Maar al het jy geen affiniteit met die Nederlandse literatuur nie, mag jy hierdie roman nie misloop nie.

Hofmeester is ’n middeljarige man met twee kinders. Hy is niefiksie-redakteur by ’n uitgewery en woon in ’n gerieflike huis met ’n uitsig op Vondelpark. Hy is eintlik doodgewoon, ’n unieke individu is hy sekerlik nie, liewer ’n tipe. Selfs die feit dat sy vrou van tyd tot tyd ontrou is en dat sy oudste dogter ietwat van ’n probleemgeval is, laat hom nie uitstaan as ’n uitsonderlike persoon nie.

Hofmeester het maar een groot passie in die lewe wat ook die enigste dryfveer vir sy bestaan is. Dit is sy jongste dogter, Tirza. Sy is sy prinses, in ’n sekere sin sy meesteres. Vir haar sloof hy homself af, spaar hy, lees hy saans voor, kook hy.

Aan haar is hy byna verslaaf.

G’n wonder dit is vir hom loodswaar dat hierdie lieflingdogter van hom ’n vriend in haar lewe het nie, ’n jong Marokkaanse man, Choukri. Weens sy afkoms assosieer Hofmeester hom op vergesogte maniere, soms onbewustelik, met diegene verantwoordelik vir die val van die Twin Towers. Soms verspreek Hofmees-ter hom selfs en verwissel die name van Mohamed Atta (die terroris) met Choukri, die vlieg in sy salf. Dit is die bestanddele vir ’n familie-drama. Die toestand in Hofmeester se huis en lewe kry ’n onstuitbare momentum en die klimaks waartoe dit lei, is rou en ontstellend.

Hoewel Grunberg humor en tragiek goed afwissel, laat Tirza jou met ’n beklemming, of jy in ’n nagmerrie vassit. As jy dalk nog dink geluk, beskawing of medemenslikheid is iewers te vind, gaan Tirza jou fondamente deeglik skud. – Annemarié van Niekerk is ’n vryskutresensent van ­Nederland.

Koop die boek ​hier. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.