Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nobelpryswenner Günter Grass (87) sterf
Die Duitse skrywer en Nobelpryswenner Günter Grass is Maandag op 87 in Lübeck, Duitsland, aan longontsteking dood. Foto: hermanbredehorst.com

Die Duitse skrywer en Nobelpryswenner Günter Grass is Maandag op 87 in Lübeck, Duitsland, aan longontsteking dood.

Grass is veral bekend om sy eerste roman, Die Blechtrommel (Die bliktrommel, 1959), wat die verhaal van Duitsland in die eerste helfte van die 20ste eeu vertel aan die hand van die lewe van ’n kind wat weier om te groei.

Die roman, ’n mengsel van fantasie, ’n familiesage, bildungsroman en politieke fabel, is deur kritici aangeval, in Düsseldorf verbrand, weerhou van die Bremen-literatuurprys deur woedende senatore, maar het ’n wêreldwye topverkoper geword.

Saam met die novelle Katz und Maus (Kat en muis, 1961) en die roman Hundejahre (Hondejare, 1963) het dit die Danzig-trilogie gevorm.

Al drie werke handel oor die opkoms van Nazisme en die ervaring van die oorlog in Danzig en omstreke.

Grass was benewens romansier ook ’n digter, dramaturg, beeldhouer en grafiese kunstenaar.

Die Nobelprys vir letterkunde is in 1999 aan hom toegeken.

Grass is in 1944 as 16-jarige deur die Waffen SS gewerf, vir wie hy as ’n tenkkanonnier diens gedoen het.

Toe sy betrokkenheid by die oorlog in sy outobiografie Beim Häuten der Zwiebel (By die skil van die ui, 2006) aan die lig kom, is Grass van verraad, skynheiligheid en opportunisme beskuldig.

Die heftige reaksie het hom onkant gevang en hy het wal gegooi deur te benadruk dat hy indertyd gedink het die SS was bloot “ ’n elite-eenheid”, dat hy in die 1960’s oor sy betrokkenheid by die oorlog gepraat het, en dat hy ’n leeftyd deurgebring het waartydens hy in sy skryfwerk deur die onbevraagtekende oortuigings van sy jeug moes “werk”.

Sy deelname aan die oorlog is ses maande later beëindig “sonder om ’n skoot te skiet”, toe hy in Cottbus gewond en deur die Amerikaanse weermag in ’n militêre hospitaal gevange geneem is.

Ná die oorlog het hy kuns in Düsseldorf en Berlyn gestudeer en hom saam met skrywers soos Ingeborg Bachmann and Heinrich Böll by die literêre vereniging Gruppe 47 aangesluit.

Joachim Gauck, Duitse president, het in ’n verklaring hulde gebring aan Grass.

“Günter Grass het beweeg, geboei en die mense van ons land laat dink met sy literatuur en kuns,” het Gauck gesê.

Binne minute nadat sy uitgewer, Steidl, Grass se dood op Twitter aangekondg het, het die huldeblyke begin instroom.

Salman Rushdie het getwiet: “Dit is baie hartseer. ’n Ware reus, inspirasie, en vriend. Slaan trom vir hom, klein Oskar.”

Die Turkse Nobelpryswenner Orhan Pamuk het aan theguardian.co.uk gesê: “Grass het baie geleer van Rabelais en Celine en was invloedryk in die ontwikkeling van magiese realisme en Marquez. Hy het ons geleer om die storie te grond op die vindingrykheid van die skrywer, ongeag hoe wreed, ongenaakbaar en polities die verhaal is.”

Grass se laaste roman, Krebsgang (Kraploop) het in 2002 verskyn. Dit handel oor ’n Duitse skip vol oorlogsvlugtelinge wat in 1945 deur ’n Russiese duikboot gekelder is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.