Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe François Loots-roman ’n piek in sy oeuvre
Drie karakters se verhale word op verrassende wyse in dié boek byeengebring, skryf Dewald Koen.

In sneeu geskryf deur François Loots. Uitgewer: Umuzi. Prys: R210. Resensent: Dewald Koen

François Loots is geen groentjie wanneer dit by die Afrikaanse romankuns kom nie en sy vyfde roman, In sneeu geskryf, het pas by Umuzi verskyn.

Loots debuteer in 2001 met ’n spanningsverhaal, Nagvoëls, gevolg deur Lente in Beijing (2003), Die jakkalsdans (2011) en die historiese roman oor die lewe van Bram Fischer, Rooi Jan Alleman, wat in 2013 verskyn het.

Reeds met die verskyning van Rooi Jan Alleman het Loots hom goed van sy taak gekwyt om historiese feite met fiksie te verweef en sodoende ’n kreatiewe, boeiende narratief te skep. In sy jongste roman word feit en fiksie weer dig verweef om ’n fiktiewe verhaal weer te gee gegrond op ’n tragiese gebeurtenis wat hom in 2003 in Kaapstad afgespeel het.

In Januarie daardie jaar het die Sizzlers-slagting die nuusmedia oorheers en was talle Suid-Afrikaners geskok deur die wreedaardige moord op nege mans wat in die Sizzlers-masseersalon in Seepunt gewerk het.

Die jeugdige gesigte van dié mans het talle mense aangegryp, juis weens die wyse waarop die moorde gepleeg is.

Wat Loots se roman besonders maak, is die feit dat hy nie bloot die feite weergee soos gereeld die geval is met opspraakwekkende moordsake nie.

Loots se invalshoek fokus op die persoonlike lewensverhale van die slagoffers en moordenaars eerder as op die moorde self.

Boonop moet die leser self agter die kap van die byl kom om te bepaal wie watter rol binne die konteks van die roman vertolk.

Gevolglik word fiksie en feite saamgevoeg om ’n spannende, hartroerende en ook skokkende verhaal te vertel.

Die roman se inleiding speel af tydens die Russiese Revolusie en vertel die verhaal van twee priesters wat hulself midde die gevegte tussen die Rooi en Wit Leër bevind. Die inleiding eindig met die priesters wat ’n teregstelling dophou.

Met laasgenoemde gebeure as vertrekpunt spring die verhaal na die hede en word die verwysing na Rusland en veral sneeu op onverwagte wyse deel van elke karakter se lewensverhaal.

In sneeu geskryf vertel die verhaal van drie karakters.

Heinrich is ’n onskuldige seun wat uit Mareesdrif vlug om geld in Kaapstad te verdien sodat hy sy ma uit ’n finansiële verknorsing kan help. Hy beland op onvoorsiene wyse by Sizzlers en word ingelyf in die wêreld van homoseks en dwelms.

Dit is by Sizzlers waar Heinrich met talle vrae rondom sy seksuele identiteit en skuldgevoel gekonfronteer word.

Bertus se lewensverhaal kom tweede aan die bod. Hy besit ’n aantal boekwinkels en bevind hom in ’n ongelukkige verhouding waaruit hy wil vlug.

Deur middel van Bertus se lewensmaat, Gerald, word die leser blootgestel aan talle stereotipes wat in gay-verhoudings voorkom.

Bertus se wanfunksionele verhouding lei daartoe dat sy pad met dié van Heinrich kruis en hom tot nuwe insigte oor sy lewe en toekoms bring.

Een van die interessantste karakters en storielyne in die roman is dié van Adam. Adam werk by ’n restaurant en word deur talle uitdagings in die gesig gestaar.

Vanuit talle oorde word finansiële druk op hom geplaas wat hom tot raserny dryf. Adam is ook ’n skisofreen.

Hy praat met sy skoene, waarvan hy ’n uitgebreide versameling met interessante name besit.

Dié gesprekke sien met tye, ten spyte van sy psigologiese toestand, humoristies uit.

Dit is veral in Adam se storielyn waar Loots sy uitnemendheid as skrywer ten toon stel. Hy verwoord Adam se skiso-frenie op geloofwaardige en kreatiewe wyse. (Lesers kan ook Verstevlei van Jaco Fouché vergelyk.)

Die verskillende karakters wat Adam deur middel van sy skoene aanneem, stel die leser in staat om die gedagtes van ’n skisofreen binne te dring.

Ten slotte kom die drie karakters se verhaallyne op verrassende wyse byeen. Die slot is onverwags en myns insiens besonder geslaagd.

Dit verg uiters kreatiewe denke om ’n tragedie soos die Sizzlers-moorde in fiksie te inkorporeer sonder om bloot op die sensasionele en feitelike aspekte daarvan te fokus.

Hoewel die sekstonele party lesers dwars in die krop mag steek, het Loots dit op ’n eerlike dog sensitiewe wyse verwoord.

In sneeu geskryf kan deur sommige as ’n “gay-roman” gekategoriseer word, maar dit is allesbehalwe die geval. Die seksuele identiteit van die karakters is maar een van verskeie temas wat aangeroer word.

Loots fokus op die storie agter die mens en die tragedie wat dikwels agter die identiteit van sekswerkers skuil. Die roman bied ’n insiggewende blik op die daaglikse bestaan van sekswerkers en die gevare wat werkers in die bedryf in die gesig staar.

In sneeu geskryf is ’n uitstekende roman en waardevolle bydrae tot Loots se oeuvre. Hierdie roman sal beslis nie teleurstel nie en sal die leser tot op die laaste bladsy onverpoos laat lees.

 Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.