Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe whodunnit deur Peet Venter hier
Lem, nuwe whodunnit deur Peet Venter.

Lem

Peet Venter

LAPA, R220

Ná ’n reeks boeke waarin die nou bekende karakter Thys Krige die botoon gevoer het, leer ken ons nou ’n splinternuwe karakter, Lemmer Bosman, oftewel Lem. Hy is ’n oudlid van die ou weermag se spesiale magte wat ná die koms van demokrasie by ’n sekerheidsfirma gaan werk. Hier raak hy betrokke by ’n onwettige staatsgreep in Botswana wat skeefloop en hy beland in die tronk.

Dan kom hy agter dat hy ’n rat voor die oë gedraai is en ná sy vrylating is die wraaksugtige Lem op soek na dié wat hom in die rug gesteek het.

Lem se ma was ’n prostituut en dwelmverslaafde wat dood is toe hy klein was. Só het Lem as kind op straat beland, maar Fleur Bloem (’n blommeboer en toppunt van nominatiewe determinisme) neem hom onder haar vlerk. Dan is daar Irma Storm, ’n verslaggewer wat Lem se lewensverhaal wil dokumenteer, en adj. Christine Watts, ’n speurder, wat ook betrokke raak.

Dit is ’n boeiende verhaal met sterk karakters – veral vrouekarakters – wat gemaklik lees. Daar is min ooreenkomste tussen Lem en Thys, maar wat vreemd is, is die ooreenkomste tussen Lem en Deon Meyer se karakter, Lemmer. Dieselfde naam, albei oudspessoldate, albei was in die tronk . . . Maar dis waarskynlik bloot toevallig.

Venter is ’n gesoute skrywer wat ’n verhaal met verskeie kinkels en storielyne naatloos aanmekaar kan flans. En Lem is ’n sout-van-die-aarde-karakter by wie vele lesers aanklank sal vind.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.