Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Plasenta: ‘Gotiese antiheld’ tref die kol

Misdaadfiksie

Plasenta

Peet Venter

LAPA, R220

Nog ’n week, nog ’n spanningsroman om te resenseer.

Maar dié week is ’n bietjie anders, want Peet Venter se jongste, Plasenta, is ’n welkome ligpunt.

Deon Meyer het die sluise vir die spanningsroman behoorlik oopgedraai en daar is deesdae vele skrywers wat agter die spreekwoordelike ambulans aanhardloop.

Dié wat regtig goed is – goed ten opsigte van boeiende storielyne, driedimensionele karakters én knap met ­prosa skryf – is egter yl gesaai. Venter is een van die goeies.

Reeds van bladsy een gebéúr dinge. Die leser voel asof hy onverwags in ’n fliektoneel ingewals het. En dié benadering van Venter wérk.

Só wek hy van die begin spanning op, eerder as om bladsye aaneen gebeure en karakters te probeer inkleur voordat die sports begin.

Lesers behoort al bekend te wees met die karakter Thys Krige. Ná drie vorige boeke is Krige se wroe­gings, bloeddorstigheid en speurvernuf al gevestig, en in ­Plasenta tel hy vele drade wat in die vorige boeke ­agtergelaat is weer op.

Hierdie verwysings is egter nie so oorweldigend dat dié boek nie op sy eie voete kan staan nie.

Dié keer is sy beweegrede weer eens persoonlik en stel hy ondersoek in na die verdwyning van sy halfsuster 15 jaar tevore.

Die dood van Krige se meisie, Robyn, moet ook opgelos word.

Krige se ondersoek is besaai met eksotiese karakters, plekke en raaisels wat die leser boei, terg en fassineer.

Op die spoor van ’n Turkse sluipmoordenaar maak Krige ’n draai in Maputo – die plek van waar hy vermoed sy suster na Pakistan ontvoer is.

Daarna is dit Ciprus, waar Krige deur booswigte gevange geneem word, en dit is hier waar die leser en Krige behoorlik begin kopkrap. Veel meer wil ek nie oor die verhaal self sê nie, anders gee ek die hele ding weg, want die merkwaardigheid van Plasenta – soos met Venter se vorige werke – is die ekonomie waarmee hy skryf.

Dis ’n ou skrywershand wat hier besig is, want elke sin en gebeurtenis is geweeg en gestroop van enigiets oorbodigs.

Naas Meyer is Venter my gunsteling-spanningsromanskrywer. Maar waar Meyer se boeke soos ’n hoofstroom-polisiereeks op TV voel, is Venter se skrywes eerder donker, broeiende rillerflieks.

Meyer se Bennie Griessel is ’n Huisgenoot-held terwyl Venter se Thys Krige soos ’n gebroke Gotiese strokiesprent-antiheld dié randfiguur van die spanningsromangenre in Afrikaans geword het. 

 Riaan Grobler is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.