SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Boeke
Prooi: Spanningsweep klap hard

Fiksie

Prooi

Fanie Viljoen

LAPA, 220

Fanie Viljoen se eerste roman vir volwassenes, Prooi, bied ’n sterk sentrale intrige vir die spanningsliefhebber.

Dit is ’n liefdesdriehoek tussen die aantreklike en narsistiese, maar gefolterde Cody, die rokjagter, wat vas oortuig is dat elke vrou onder sy ewige sjarme sal swig; die aggressiewe, eensame dog ambisieuse Owen, die rateltaai hokvegter; en die skoonheidsterapeut Lauren, wat op soek is na iets groters as haar banale middelklasbestaan.

Owen en Lauren se verhouding wankel onder sy jaloesie en haar klaarblyklike gebrek aan toewyding, asook die feit dat albei karakters se gebrekkige verhoudings met hul ouers stadig maar seker begin manifesteer in die manier waarop hul eie interaksies ook simptomaties word van ’n algehele isolasie.

Soos Owen en Lauren uitmekaardryf, volg die leser ook die parallelle storielyn van Cody en sy beheptheid met seks en goedkoop intimiteit. Cody en Lauren se paaie kruis noodwendig by ’n ongewone huispartytjie. Wat die verhaal dan tot op die breekpunt dryf, is die verwikkelde, fanatiese spel tussen jagter en prooi, sowel as die voortreflike wyse waarop die grense tussen prooi en jagter deurgaans verduister word.

Viljoen slaag uitstekend daarin om geloofwaardigheid, dimensie en tekstuur aan sy eg menslike hoofkarakters te gee. Die najaag van soms bloedstollende spanning word uitstekend met gelaaide vertellings afgewissel wat genoegsaam op elke hoofkarakter fokus. Benewens oortuigende, byderwetse dialoog, ’n aanvoeling vir die Kaapse milieu en subtiele deernis vir individuele gebrokenheid, is hierdie vaardige skrywer ook in staat om snydende sosiale kommentaar te lewer. Die uiterstes van vervlakking en vervreemding kom duidelik na vore, veral tussen jong volwassenes wat op die snypunt van moderne tegnologie hul (digitale) bestaan voer.

Viljoen skroom nie om te illustreer, in verskeie kragtige tonele, presies hoe Owen in die hok van sy frustrasies probeer ontslae raak nie of hoe Cody in verskeie sekskapades verstrengel raak wat op die lange duur niks vir hom sal beteken nie. Die skrywer lig die sluier op hoe gevaarlik die jag na plesier en seksuele ekstase kan wees. Hier dink ek veral aan die slottonele, asook die haas ongelooflike opbou van spanning wat hierdie tonele voorafgaan.

Viljoen klap die spanningsweep kliphard sonder om vir een oomblik in die slaggat van oorbeklemtoning of preek te verval. Hy vel nie ’n morele oordeel oor sy karakters se (moontlike) ondergang nie en stel dalk eerder daarin belang om die leser se eie grense uit te daag, sonder sensasie. Prooi, met sy gestroopte, kragtige prosa en intuïtiewe verstaan van die kontrak tussen skrywer en leser, is slaggereed om toe te slaan. 

 Jonathan Amid is ’n doktorale student in ­Engels aan die US.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.