Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Roman soos n trein na sy bestemming
Met hierdie roman het Breytenbach die resep vir ’n aksiebelaaide spanningsroman vervolmaak, skryf Dewald Koen.
Kerneels Breytenbach

Fiksie

Ester

Kerneels Breytenbach

HUMAN & ROUSSEAU, R196

Dit is die jaar 1946. Die Unie van Suid-Afrika neem bestekopname van die nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog. Jan Smuts, eerste minister, se regering veg verbete om die verdeeldheid in Afrikanerkringe binne die unie te herstel. Talle sosio-ekonomiese sowel as politieke struikelblokke laat die Smuts-regering wankelrig. En op die politieke horison pryk Smuts se grootste politieke opponent dr. D.F. Malan en die Nasionale Party wat sy regering en leierskap bedreig.

Kerneels Breytenbach gebruik laasgenoemde geskiedkundige gebeure as vertrekpunt vir sy jongste roman, Ester.

Breytenbach is alom bekend as onder meer joernalis, skrywer, rubriekskrywer en publikasiebestuurder met talle publikasies wat uit sy pen voortgespruit het.

Van sy publikasies sluit in Morsdood van die honger (1993), Piekniek by Hangklip (2011) asook ’n kookboek Die lekkerste lekker (2005).

Die roman Ester speel hoofsaaklik af op ’n treinrit tussen Windhoek in die voormalige Suidwes-Afrika en Kaapstad.

Adjudant-offisier Dieter Bergman word vanuit ’n banale bestaan in Piet Retief deur die oppergesag in Pretoria opgekommandeer en op ’n sending gestuur wat van besonderse landsbelang is en gevolglik die geskiedenis van die Unie van Suid-Afrika vir goed sal verander.

Bergman se belangrike taak behels onder meer om ’n Duitse spioen, mev. Thyra Denk, op haar plaas buite Windhoek te gaan haal en per trein tot in Kaapstad te vergesel om voor die Gekose Parlementêre Komitee te verskyn.

Die komitee is belas met ondersoeke na spioenasiebedrywighede deur Duitsers en Suid-Afrikaners tydens die Nazi-regime. Die hoofdoel van die ondersoek wat deur die Smuts-regering gelas is, is om vas te stel of die opposisie LV, dr. D.F. Malan, enige kontak met die Nazi-regime tydens die oorlog gehad het deur met mev. Denk as tussenganger te skakel.

Die roman is deels op ware gebeure gebaseer. Breytenbach het sy feite deeglik nagevors en gevolglik word die fynste besonderhede as deel van die storielyn weergegee.

Hierdie roman is egter nie ’n vervelige geskiedenisles nie.

Die treinrit word op gedetailleerde wyse verwoord en Breytenbach skenk besonderse aandag aan die beskrywing van die landskap, hoewel dit nie met landskapbeskrywings van ­Karel Schoeman kan wedywer nie.

Die leser word meegesleur op ’n spanningsvolle rit deur die natuurprag van Suider-Afrika.

Op amper nostalgiese wyse herroep Breytenbach die vergange dae van die stoomtrein en die sjarme wat met dié treinreise gepaardgegaan het.

Breytenbach se kennis van kos en musiek kom duidelik in die narratief na vore. Die vyfgang-maaltye tydens die treinrit word op amper poëtiese wyse beskryf en prikkel die leser se sintuie behoorlik.

Breytenbach slaag daarin om die spanningselement tot aan die einde van die roman te behou.

Die tempo van die roman begin relatief stadig, maar tel geleidelik spoed op soos die trein nader aan sy bestemming beweeg.

Met talle onbeantwoorde vrae word die leser gedwing om stip te lees om sodoende te verseker dat enige terloopse handeling nie misgelees word nie.

Die groot vraag wat die leser van bladsy een af teister, is die vraag rondom Ester se identiteit. Wie is Ester en waarom tree dié klaarblyklike skim­figuur nie na vore nie? (Die leser sal egter self die roman moet lees om die antwoord op dié vraag te verkry.)

Die roman skiet ook geensins tekort aan romantiese oomblikke nie en sal aanhangers van die hygroman nie teleurstel nie. Passie en wellus is volop en vorm ’n integrale deel van die narratief. (Wees gewaarsku – in dié roman staan Afrikaans nie terug wanneer dit by die seksuele kom nie.)

Ester deur Kerneels Breytenbach.

Die vertelperspektief verleen verdere meriete aan die roman. Breytenbach se keuse van verteller dwing die leser om by die handelinge betrokke te raak en sodoende die gebeure eerstehands mee te maak, wat die spanningselement verder versterk.

Die roman bevat talle humoristiese oomblikke met karakters soos Jurie Kimberley en Daveltjie wat trek op die tipe karakters wat gewoonlik in ’n Jeanne Goosen-roman aangetref word. Die onderskeid tussen die verskillende sosiale klasse word sodoende belig.

Die karakters word realisties uitgebeeld deur middel van hul taalgebruik en die wyse waarop hulle met die onderskeie karakters omgaan en Breytenbach laat elke karakter tot sy of haar volle reg kom.

Ester is ’n spanningsroman wat ongetwyfeld die meeste lesers sal boei.

Hoewel die roman spanningslektuur is en nie as hoë letterkunde geklassifiseer kan word nie, gaan dié roman myns insiens deur lesers verslind word.

Die roman lei die leser ook tot verdere nadenke oor die politieke gebeure van 1946, aangesien dit die nuuskierigheid oor die ware geskiedkundige gebeure prikkel.

Op watter wyse kon die spioen se getuienis Suid-Afrika se toekoms en die opkoms van die Nasionale Party in 1946 beïnvloed het? Kon die land ’n ander politieke rigting ingeslaan het? Vir die leser is daar egter meer vrae as antwoorde, maar die feit bly staan dat een vrou moontlik Suid-Afrika se politieke lot bepaal het.

Ester is die tipe roman wat meer as een maal gelees moet word.

Met hierdie roman het Breytenbach die resep vir ’n aksiebelaaide spanningsroman vervolmaak.

■ Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad.

Klik hier om die boek te koop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.