Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Rugbyverhaal boei, maar is soms onkant
Beseringstyd

Fiksie

Beseringstyd

F.J. Labuschagne

NALEDI, R143

Twee van die Maties se grootste rugbysterre besluit onverwags om hul rugbyheil by Tuks te gaan soek.

Dít is die premis van F.J. Labuschagne se debuut – ’n rugbyroman.

Beseringstyd is gedompel in rugbykultuur. Jy kan die Deep Heat ruik. Jy maak jou somme en jy weet die mense wat hierdie roman bevolk, bestee omtrent jou jaar se salaris aan die was van klere.

Hulle gee baie geld uit op ander dinge ook – motors, drank, pille. Voluptueuse vroue werp hulle voor die manne neer. En in die kollig is die oud-Matie en nuwe redder van Tuks se eer, Etienne “Chase” Wernich.

Vir Chase is wen alles. Maar Chase het ’n kop-probleem. Hy het storings en hy besef dit nie. En met elke wedstryd neem die storings toe – én die pille wat die pyn moet demp.

As ’n mens die geniale losskakel se uitspraak op dié roman toepas, is die uiteinde miskien gelykop, hoewel ek my somme miskien uit simpatie met die skrywer maak.

Aan die plus-kant is daar ’n aangrypende, boeiende verhaal, verskeie karakters wat meer as eendimensionele figurante word, ’n uitstekende aanvoeling vir die Pretoria-konteks van die grootste deel van die verhaal, en ’n baie lewendige voorstelling van die wêreld waarin die groot rugbydramas afspeel.

Die grootste wins wat Labuschagne bring, is die uitbeelding van die groot weelde en rykdom waarmee sommige rugbyspelers omgeef is, en hoe swak hulle emosioneel toegerus is vir die volwasse wêreld.

Aan die negatiewe kant is daar egter ook baie te noem. Die slot is verwarrend en laat ’n mens voel die skrywer was te ambisieus om so ’n wending onder woorde te probeer bring.

Die rede hoekom ek simpatie vir die debutant voel, is omdat sy redigeerder hom in die steek gelaat het. ’n Kundige redigeerder sou hierdie roman meer vaartbelyn gemaak het, clichés verwyder het en die slot gered het.

Waar Beseringstyd handel oor twee Matie-rugbysterre wat om duistere redes Tuks toe verkas, sou ’n mens van die redakteur verwag het om die skrywer te beskerm teen provinsialistiese lesers en vitterige kritici. Vet kans, soos Chase sou sê. Brooklyn se strate herinner skielik baie aan dié van Jonkershoek (ja, Jonkershoek!). Die Ou Hoofgebou op Stellenbosch is skielik die Hoofgebou en het matte in die gange. Elementêre foute.

Maar F.J. Labuschagne kry krediet vir die intrige wat hy geskep het rondom Chase en sy vriend Reghardt se lewe. Dit het my geboei en gee my nuwe insig in dinge wat op die veld gebeur. Ek sal nooit weer sê Jannie du Plessis is oor die muur nie – Labuschagne leer ’n mens om die pyn agter die grimas te herken. 

■ Kerneels Breytenbach is ’n oud-uitgewer en skrywer van Bettysbaai.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.