Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sestien in die toptien
Vrydag was dit presies 90 jaar gelede dat Afrikaans as amptelike landstaal erken is. Om dié geleentheid te herdenk, het ons drie vooraanstaande uitgewers gevra om die tien beste of invloedrykste boeke sedert 1925 te identifiseer. Leon Rousseau sê dit was ’n geval van oë toeknyp en induiwel waar die engele weifel. Daarom kroek hy en wy ’n beduidende deel van sy relaas aan die puik Afrikaanse romans wat nié sy lys gehaal het nie.
2. André P. Brink
1. Etienne Leroux
3. Elsa Joubert
4. Wilma Stockenström
5. Etienne van Heerden
6. Karel Schoeman
7. Dan Sleigh
8. Marlene van Niekerk
9. Ingrid Winterbach
10. Willem Anker

Om op romans te konsentreer – soos ek hier gedoen het – kan jy ’n skewe beeld van die Afrikaanse literatuur kry. Ons poësie is ons grootste taalbate, ’n “pêrel van grote waarde” geset in ’n montuur van goud.

Klinkende name soos D.J. Opperman, N.P. Van Wyk Louw, selfs Breyten Breytenbach, sal dus in hierdie lys ontbreek. Dit geld ook groot kortverhaalskrywers soos Abraham H. de Vries en Hennie Aucamp; dit geld reuse soos J.C. Kannemeyer en J.C. Steyn; dit geld essayiste en toneelskrywers. My verskoning aan hulle almal.

Met moderne Afrikaanse romankuns word meestal die werk van die afgelope 55 jaar bedoel, met ander woorde uit die tyd van die Sestigers en later. Die 35 jaar tussen 1925 en 1960 is nie leeg nie, maar wat sterk romans betref, is dit yl bevolk.

Drie klipstapels staan op daardie valerige vlakte uit: Mikro se ­Toiings-trilogie, Jochem van Bruggen se Ampie-trilogie en Van Melle se Bart Nel (1936, met sy huidige titel eers in 1950).

Bart Nel sou my keuse no. 1 gewees het (die volgorde is nagenoeg chronologies, nie volgens gehalte nie). Ongelukkig moet soveel literêre reuse nog in slegs tien titels behandel word dat ek Bart Nel teensinnig nie op die hooflys kan sit nie, maar op ’n aanvullende lys.

Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (1962) is no. 1, nie net danksy sy literêre gehalte nie, maar as werklik vernuwende werk. Dit is as’t ware die boegbeeld van die ­Sestigers.

André P. Brink begin in dieselfde tydperk vernuwende werk lewer, met Lobola vir die lewe (1962) as keuse no. 2.

Human & Rousseau, by wie dit verskyn het, was toe maar drie jaar oud. Ek het die manuskrip bo in ons kantoorgeboutjie, Keeromstraat 72, sit en lees en besef: “Niemand het nog in Afrikaans só geskryf nie.” Dit was ’n opwindende, ontroerende oomblik.

Dink Leroux en Brink en jy dink Jan Rabie. Jan het die hoogste offer vir sy ideale (die wesenlike eenheid van ’n volk van “witter en bruiner Arikaners”) gebring met die verskeie romans waarin hy gehalte ondergeskik gestel het aan sending­ywer. Dit het nie gebeur in Die groot anders-maak (1964), een van my gunstelingromans nie, maar omdat dit myns insiens insluiting in die toptien nét mis, wil ek dit óók op die aanvullende lys sit.

Dieselfde met Kroniek van ­Perdepoort (Anna M. Louw, 1975). Hierdie werk het hoë lof van die kritici ontvang, maar vir my gevoel bly daar iets kunsmatigs en onoortuigend aan die toewysing van vier doodsondes aan toevallig juis vier broers.
Lion Cachet se Sewe duiwels en wat hulle gedoen het (saamgebundel in 1907) is in dié enkele sin oortuigender omdat die sondes onder sewe lukrake persone in ’n gemeenskap voorkom.

No. 3 op my lys is Die swerf­jare van Poppie Nongena (Elsa Joubert, 1978), wat geskiedkundig van belang was omdat dit baie Afrikaners bewus gemaak het van die onregte wat met instromingsbeheer in die Wes-Kaap gepaard kon gaan. Dit het binnelands miskien meer invloed gehad as André P. Brink se politieke romans omdat die amptenare nie sadistiese skurke is nie, maar redelike mense wat in baie gevalle moeite doen om, binne die beperkinge van die wet, lyding te verlig. (Dit is seker waar dat menige leser later met toenemende wrewel gewonder het wanneer Elsa ’n balanserende roman skryf met ’n titel soos Poppie se 999 neefs en niggies kom Kaap toe.)

P.G. du Plessis se Siener in die suburbs (1971) het groot opslae gemaak toe dit die eerste keer opgevoer is. Dit is ’n robuuste, realistiese drama in die Afrikaans van Johannesburg se suidelike voorstede. Dramas word net in uitsonderlike gevalle in ’n romanlys opgeneem, en ek wil dit as aanvullend aandui. (Du Plessis se indrukwekkende Fees van die ongenooides het baie deugde, maar is myns insiens ongelukkig nie heeltemal sterk genoeg vir die toptien nie.)

Kerneels kies

Kerneels Breytenbach, skrywer en voorsitter van PEN Afrikaans, was vir 20 jaar lank ’n uitgewer, aanvanklik by Human & ­Rousseau en ná die samevoeging van H&R en Tafelberg ­publikasiebestuurder van NB ­Uitgewers.

Sy lysie van die 10 mees invloedryke (eerder as “beste”) Afrikaanse boeke is:

 Eerste Afrikaanse Bybel­vertaling (1932)

 Kook en geniet deur S.J.A. de Villiers (1951)

■ Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux (1962)

 Bart Nel deur Van Melle (1936)

 Kennis van die aand deur André P. Brink (1973)

 Stories van Rivierplaas deur Alba Bouwer (1955)

 Somer deur C.M. van den Heever (1935)

 Griet skryf ’n sprokie deur ­Marita van der Vyver (1992)

 Tristia deur NP Van Wyk Louw (1962)

 Agaat deur Marlene van ­Niekerk (2004)

No. 4 op my lys is Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (1981). Dit is ’n meesterlike werk.

Nou begin die realiteit sy lelike kop uitsteek. Daar is nou al vier boeke op die lys, wat plek oorhou vir nog ses, en onder hulle is Afrikaans se top-swaargewigte. Ek ken die getal 5 op die lys toe aan Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati (met Toorberg as gelyke keuse). Wees bly, liewe leser, u sit nie in my stoel nie. Met ’n swaar hart sit ek Griet skryf ’n sprokie (Marita van der Vyver) op die aanvullende lys. So ook Eben Venter se Wolf, wolf (of Foxtrot van die vleiseters as ge­lyke keuse).

As u die aarde ’n bietjie voel dreun, is dit omdat koning ­Karel op pad is. Ek gebruik hierdie bynaam vir Karel Schoeman sonder satire. Sy drieluik Stemme (bestaande uit Die uur van die engel, Verliesfontein en Hierdie lewe) is met min twyfel die grootste romanwerk in ons taal. Dit is no. 6 op ons lys.

Vir die baie lesers wat Stemme moeilik vind, is daar ’n menigte ander boeke deur Schoeman. Hy het ’n enorme produksie sonder om ooit onder ’n bepaalde peil te daal. Ek wonder hoeveel boeke hy al geskryf het sedert sy outobiografiese werk met die spottende titel Die laaste Afrikaanse boek.

No. 7 is Dan Sleigh se Eilande, my persoonlike groot-groot gunsteling.

Marlene van Niekerk se Agaat is no. 8. Hier is ’n baie groot skryfster aan die woord.

No. 9 is Niggie deur Ingrid Winterbach, nog ’n groot stem.

Willem Anker se Buys, no. 10, is ’n roman oor die voorsaat van die Buys-basters. Dit is ’n robuuste werk met ’n enorme vitaliteit (en emmers vol lelike woorde) wat oplaai en oplaai en op die ou end vir ’n heel besonderse leeservaring sorg. Dit is pas met die Universiteit van ­Johannesburg se literêre prys bekroon.

Die tien titels is dus: Sewe dae, Lobola, Poppie, Kremetartekspedisie, Mario Salviati, Stemme, Eilande, Agaat, Niggie en Buys.

Die ses aanvullende titels is Bart Nel, Die groot anders-maak, Kroniek van Perdepoort, Siener in die suburbs , Griet skryf ’n sprokie en Wolf, wolf. As die Afrikaanse literatuur teen sy huidige tempo aanhou groei, sou ’n lys van 20 titels meer realisties wees as een van tien.

■ Leon Rousseau was medestigter van Human & Rousseau in 1959. 

Moeilike keuse

Annari van der Merwe was uitgewer by Tafelberg en stigter-uitgewer van Kwela (NB) en Umuzi (’n druknaam van ­Random House).

Sy moes ’n munt opskiet om tot by dié tien af te skaal. Dié boeke het haar opgewonde gemaak, was betekenisvol en het iets nuuts in Afrikaans ingelei. “Ek ys egter as ek dink aan al die ander wat ook ’n plek op die lys verdien.”

 Dwaalstories deur Eugène Marais (1927)

 Die halwe kring deur NP Van Wyk Louw (1937)

 Bart Nel deur Van Melle (1936)

 Die ysterkoei moet sweet
deur Breyten Breytenbach (1964)

 Kambrokind deur F.A. Venter (1979)

 Missionaris deur Elsa Joubert (1988)

 Griet skryf ’n sprokie deur ­Marita van der Vyver (1992)

 Kleur kom nooit alleen nie deur Antjie Krog (2000)

 Agaat deur Marlene van Niekerk (2004)

 Alfabet van die voëls deur S.J. Naudé (2011)

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.