Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sit aan vir ’n rit duisend
Die boek Ester is elke bibliofiel se droom: Dit kaap jou kop en aanvaar geen losprys nie. Kerneels Breytenbach se jongste roman is ’n luukse treinrit vol intrige, kinkels en wellus. Maar veral hunkering.
Ester deur Kerneels Breytenbach.

Ester deur Kerneels Breytenbach. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R220. 

Die boek Ester is elke bibliofiel se droom: Dit kaap jou kop en aanvaar geen losprys nie. Kerneels Breytenbach se jongste roman is ’n luukse treinrit vol intrige, kinkels en wellus. Maar veral hunkering.

Die verteller, wat op 80 terugkyk op ’n paar dae wat hom gevorm en geskend het, noem homself ’n frotteur, ’n persoon wat hom vir seksuele genot teen ander vryf. In ’n treintoilet het hy hom as jong, bombastiese advokaat teen ’n verleidelike vrou aangeskuur, vir volk en vaderland. Op verskeie geleenthede – moenie vra nie. En nooit daarvan herstel nie.

Breytenbach neem ’n historiese gegewe: Dr. D.F. Malan, teoloog, redakteur, politikus en vegter vir die Afrikanersaak, het in oorlogstyd een ontmoeting met ’n Duitse spioen gehad. Hiervoor kan hy van hoogverraad aangekla word. Dit sou sy politieke loopbaan en daarmee saam die kans dat die Nasionale Party die volgende verkiesing wen en die bewind oorneem, kelder. Die leser besef met die volmaakte visie van retrospek wat die implikasie hiervan sou wees: Jan Smuts en J.B.M. Hertzog was meer toegewend teenoor die “naturelle” en die apartheidsbeleid sou nooit op die wetboeke beland het nie. Op ’n speldekop kan alles draai. Onherroeplik.

Dit is ook die onvergeetlike liefdesverhaal van ao. Dieter Bergman, stasiebevelvoerder van Duitse afkoms, en die

femme fatale mev. Thyra Denk, oftewel Ester Hechel. Breytenbach het ’n stadige, ligte hand met erotiese beskrywings en pluk nuutskeppings soos “skaamdos” uit die hoed. Die minnaars wys deur die oop treinvenster hul naakte lywe vir die warm Karoolandskap. Bergman moet die beeldskone spioen per trein van Windhoek na Kaapstad vergesel en bewaak. Daar moet sy voor ’n gekose komitee gaan getuig oor haar ontmoeting met Malan. Daar moet natuurlik ook vooraf seker gemaak word dat haar getuienis die leier nie sal skaad nie. Die 39-jarige vrygesel Bergman se voete word vierkantig onder hom uitgeslaan, soos die voete van min of meer elke man op die trein.

Aan Ester kleef die gesofistikeerdheid, sensualiteit en hedonisme van ’n dekadente voor-oorlogse Berlyn, van ’n Dietrich. Omgeef van ’n wolkie eksotiese parfuum, met nertsstola om die nek en sigaret in ’n kokertjie tussen lang vingers wieg sy op slanke, gespierde bene verby. “Sy is lekker fris gebou,” brom die legendariese drywer Jurie Kimberley.

Die stoomtrein word ’n tydkapsule waarin ’n stukkie van die verlede volmaak bewaar is soos ’n fossiel in ’n klip, die “warm kokon van ’n trein onderweg deur die dorre streke van ’n winterse Karoo”. Dit word ook ’n kruitvat, met erotiese hunkering en plein jagsheid die vuurhoutjie wat die hele spul tot in die hiernamaals kan wegblaas. Spanning bou amper ondraaglik op in die drukkende hitte. Feromone tart, testosteroon oorproduseer en geweld begin dreigend broei.

Soos die trein, bly alles voortdurend wieg. Die leser wil die tog verleng, wil nooit by die bestemming aankom nie. Ons ervaar die sinnelike genot van SAS & H se eersteklas-etes: spierwit damastafeldoeke, egte silwer-eetgerei, silwer-koepeldeksels wat gang ná gang triomfantelik van die geregte gepluk word, 1929-KWV-port, vioolmusiek en sigaretrook wat lui plafon toe spiraal. Die beskrywings van die stoomtrein, die eksentrieke ritueeltjies van drywer en stokers, die taal van rangeerders wek nostalgie selfs by dié wat dit nooit ervaar het nie.

Veel word gesuggereer en aan die leser oorgelaat om te ontsyfer, soos die eendersheid van mense oral. Daar is lyne deur te trek na die huidige politieke bestel: ’n leier, D.F. Malan (volgens die skone Ester het hy die oë van ’n weekdier gehad), ’n man vir wie sy makkers moet lieg en konkel om sy politieke loopbaan te red ten einde hul party aan die bewind te kry. Daar is niks nuuts onder die son nie.

Wanneer dinge een aand jolig raak in die eetwa merk Ester op dat die Afrikaners presies soos Berlyners voor die oorlog kuier: “Hier’s baie drank. Nou nie Kristall nie, maar drank. Olie die masjinerie van ontvlugting. Van vergeet. Hier’s musiek.” Ikoniese volksmusikante soos Hendrik Susan, Nico Carstens en Chris Blignaut is ook op die trein: Hulle maak ’n spoggerige buiging in ’n heerlike kamee of twee.

Hierdie roman is tydloos, universeel en behoort ’n akkoord by alle lesers raak te slaan, selfs dié wat nie ʼn duit omgee vir geskiedenis, spioenasie of stoomtreine nie. Dis louter genot, soos ingevoerde sjokolade. Breytenbach is ’n meesleurende verteller en sy woorde oorrompel en verlei soos ’n beeldskone Duitse spioen. Dis tegelyk dralend en vaartbelyn. Tergend. Die suiwer vreugde wat hy ooglopend ervaar by die weef van sy web trek die leser in en herinner soms aan Etienne van Heerden. Watter voortreflike, wêreldklasskrywers het ons nie in Afrikaans nie. Hulle, eerder as manipulerende politici en narcistiese sangers, sal die taal laat voortleef.

■ Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.