Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skadu oor die sonwyser: Vaardige digter se bundel kort vlerke

Poësie

Skadu oor die sonwyser

Kobus Lombard

PROTEA, R150

’n Mens is dikwels uit die veld geslaan oor die gehalte van vaardig vervaardigde handwerk en kontreikunswerke wat jy soms met vakansie langs die pad te siene kry – ’n klipleeu, ’n gevlegte mandjie, ’n draadkar, ’n kralearmband, ’n houteend.

Kobus Lombard het sy vorige bundel genoem Vlerke vir my houteend, wat vir my ’n raak beskrywing is van al sy verse – dit is netjies afgewerkte artefakte, mooi kleinkuns, gesofistikeerde plattelandsheid, kleindorpse kuriosa.

Jy loer daaroor, hou dalk van ietsie ouliks, maar jy het meestal daarvan vergeet as jy wegry. Dis duidelik ’n vaardige hand wat hier werksaam is, en die harde en toegespitste werk dwing respek af, maar dit het geensins die allure van grootsheid nie – die gedigte kry by wyse van spreke helaas nie vlerke nie.

Heelwat van die temas uit sy vorige werk is terug in hierdie nuwe bundel, maar met ’n donkerder perspektief en amper ’n soort futloosheid. Voorop staan die naderende dood, soos die bundeltitel en die voorbladplat ook impliseer. Gesitueer in die Namibiese landskap, maar dit is sonder daardie spesiale iets wat jou hart werklik aangryp oor hierdie wye en droewe land alleen onder die groot suidersterre en die eenvoudige mense wat getrou en enkeld bitter dinge doen (om Van Wyk Louw se woorde te gebruik).

Daar is steeds die Christelike aksente, maar geen aangrypende groot geding met God nie. Steeds worstel die digter met sy aanneemstatus as kind (hier selfs op die agterplat in ’n lomp biografiese beskrywing vooropgestel), en hoewel plek-plek aangrypend, word dit te veel van ’n eenselwige droefheid oor vier bundels heen. Die sentimentaliteit en die nostalgie in byvoorbeeld “Ek wou nog” oorspoel die gedig in só ’n mate dat dit huisgenooterig voorkom. Met verwysing na ’n vorige bundeltitel van Lombard – daar kom ’n tyd dat jy die afwesige naelstring móét knip.

In hierdie bundel is daar wéér gedigte oor die digterlike ambag, maar ook nie verrassend nuut nie. Die algemene indruk is dat die digter geweldig geïsoleerd is, en dat die wyer digterlike diskoers hom geensins raak nie.

Daarom val dit op dat sekere gedigte presies probeer doen wat sekere ander groot tekste of kunswerke gedoen het, maar dan ongelukkig sleg afsteek daarby. “Tentwoning” praat Totius se “Die wêreld is ons woning nie” na, maar sonder die diepgang van die voorvaderdigter. “Ontnugtering” boots die tipografiese truuks van Opperman se ”Sirkus” na, maar nou sonder die effek. “Die mond gesnoer” is reeds veel dramatieser deur Elsa Joubert in Melk gedoen. “Moederkerk” is ná die sanger Bono se uitsprake oor georganiseerde godsdiens ’n flou digterlike verwoording. “Stad in die verte” is amper ’n herskrywing van Opperman se “Stad in die mis”, maar sonder die metaforiese gespierdheid van die argiteks. Edvard Munch gil geluidloos veel harder as die gedig “waar vind jy taal...” wat hom probeer ná-gil.

Die meeste gedigte het ’n gemoedelik lokaal-realistiese toonaard, bykans soos puntdigte, met ’n enkele insig, ’n epifanie, ’n vlugtige beskouing, ’n geslote digterlike belewenis – die gedigte word, in ’n mooi sin, aforisties afgesluit, en open nie – soos groot poësie – vistas en afgronde nie. In ooreenstemming met die gedig “Gondwana” is hierdie poësie nie aardverskuiwend nie.

Hoewel daar ’n tematiese eenheid in die bundelgeheel is, is daar nie sprake van kundige bundelkomposisie nie. Die motto’s by elke afdeling, wat uit gedigte in die afdeling gehaal is, is ’n poging daartoe, bes moontlik deur die redigeerder van die teks voorgestel, maar dit bly flou. ’n Mens verwag meer van die digter wat al soveel gepubliseer het as net ’n knapsak los gedigte.

Tog is daar ’n handvol raak digterlike momente, dikwels knap metafoorgebruik, goeie afgerondheid en oorspronklike verwoording van sterk sintuiglike belewenisse, maar vir ’n digter wie se vierde digbundel nog geen eie, onderhoudende digterstem gevestig het nie, is dit nie goed genoeg nie. Daar is weinig groei in die oeuvre te bespeur. Vir my is die dramatiese aanspreekvorm in ’n menigte gedigte en veral die hebbelikheid tot personifikasie, dikwels studentikoos.

Al sê Daniël Hugo tereg in sy versamelbundel oor dié landskap se gedigte, Land van sonlig en van sterre, dat dit soms lyk asof die Namibiese landskap spesiaal vir die poësie geskep is, het Namibië helaas nog nie sy groot Afrikaanse digter opgelewer nie. Die Lombards het ’n ryk geskiedenis van verowering die wêreld oor (sien die familiegeskiedenis in Historia Langobardorum), en al sou daar ’n bard (volksanger) skuil in Lombard, is hy ongelukkig geen lang baard (die etimologiese betekenis van die van Lombard) nie.

Terugskouend van E.A. Schlengemann se eerste Namibiese gedig, deur Doc Immelman se ongebundelde versies, Piet van Rooyen se digterlike bydrae, asook Lombard se verdigtings van die Namibiese wêreld, moet daar veel, veel meer gebeur tussen wysvinger en duim om oor opgewonde te word van wat “ ’n beter uitsig / op dié wêreld (sou) bied”.

 Tom Gouws is ’n ­digter van Pretoria.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.