Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skop, skiet en wonder
Vanjaar, ’n eeu nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het daar nie net heelwat publikasies oor dié oorlog verskyn nie, maar verskeie ander konflikte is ook in heroënskou geneem. Jan Taljaard bekyk ’n paar van dié boeke.

Boeke oor oorlog kan om ’n verskeidenheid van redes boeiende leesstof wees – vir dié met ’n belangstelling in geskiedenis, mense wat self in ’n bepaalde konflik vasgevang was en nou meer wil weet oor die verloop daarvan, of die bloot avontuurlustiges en selfs maagdelike bloeddorstiges wat deur ander se ervaring ’n proesel van kartets en kruit wil hê.

Die beste boeke oor oorlog­ervarings is net so goed soos die beste in algemene letterkunde. Dit is werke soos Im Westen nichts Neues (All Quiet on the Western Front) (Erich ­Maria Remarque), The Thin Red Line (James Jones), Chickenhawk ­(Robert Mason) en ons eie ­Deneys Reitz se Kommando.

Benewens dat dié boeke heelwat meer as net ’n knerts kartets en kruit oordra, dra almal eindelik ook saam tot ’n ontgogelende bewuswording van die veelsydigheid, grusaamheid en futiliteit van oorlog.

Onder die onlangse oes van oorlogsboeke wat uitgewers rakke toe gestuur het, was daar nou nie juis een wat met die grotes kan saampraat nie, maar daar is tog ’n paar wat verskillende lesers om uiteenlopende redes interessant kan vind.

Weep for Africa: A Rhodesian Light Infantry Paratrooper’s Farewell to Innocence deur Jeremy Hall. Uitgewers: Helion & Company (VK) en 30⁰ South Publi­sh­ers (SA). Prys: R295.

In dié boek skets Hall sy wedervaringe – eerstens as diensplig­soldaat in Suid-Afrika en daarna as vrywilliger in die Rhodesian Light Infantry.

Die jong Hall is erg ontnugter oor hoe hy as Engelstalige in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag behandel is en het nie veel goeds te sê oor die omgewing of sy opleiding nie.

Steeds erg omgekrap, sluit hy by die RLI aan waar hy in verskeie operasies teen die destydse bevrydingsbewegings te staan kom.

Dit is grootliks ’n verhaal van ontnugtering wat eindelik, dekades later, tot voleinding kom wanneer hy as Kanadese emigrant sy familie in Durban besoek en die slagoffer van ’n huisrooftog word.

The Rebel in Me: A Zanla Guer­rilla Commander in the Rhode­sian Bush War, 1975-1980 deur Agrippah Mutambara. Uitgewers: Helion & Company (VK) en 30⁰ South Publishers (SA). Prys: R250.

Mutambara se boek is miskien die grootste teleurstelling, en juis omdat dit op die oog af soveel belowe.

Tussen die magdom van boeke oor die konflik wat al aan “Rhodesiese” kant verskyn het, is ’n mens aanvanklik opge­wonde oor ’n skrywe vanuit die geledere van die vryheidsvegters. Die boek stel egter teleur omdat dit meestal oor ideologie gaan en net hier en daar raak aan wat werklik in die veld gebeur het.

Ná Hall se vertelling van Operasie Dingo, toe die Rhodesiese veiligheidsmagte Zanla se basis in Mosambiek aangeval het, sien ’n mens byvoorbeeld daarna uit om Mutambara se weergawe van dieselfde aanval te lees.

Waar Hall sonder tierlantyntjies die ontberinge van ’n voetsoldaat oordra, val Mutambara telkemale terug op ideologie en die uitwys van vermeende wandade. Dit is wel aanduidend van hoe belangrik die rol wat die politieke kommissaris in die ­bevrydingsleërs gespeel het, maar is tog ook ’n begin om die ander kant van die storie op voetsoolvlak te vertel.

Forged in Battle deur Jan Breytenbach. Uitgewer: Protea Boekhuis (heruitgawe, eerste uitgawe in 1984 deur Saayman en ­Weber). Prys: R250.

As stigter-bevelvoerder van die berugte/beroemde 32 Bataljon bied Jan Breytenbach unieke insigte in sy eerstehandse vertelling van hoe die gevegseenheid tot stand gekom het.

Daarom is dit ook ’n belangrike tydsdokument en nodig dat Protea dit 30 jaar ná sy eerste verskyning weer die lig laat sien.

Die onderhoudende vertelling is grootliks dié van ’n professionele soldaat, maar soos Mutambara kan Breytenbach dit ook nie help om sy kleintoontjie so een of twee keer in die ideologiese pot te druk nie.

Hy beperk dit egter tot die minimum en die boek bly interessant, veral waar dit die sluier lig van die deurmekaar tydperk kort ná Angola se onafhanklikwording en die siniese manipulering deur politici. ’n Hele hoofstuk word byvoorbeeld gewy aan die vraag of Unita die vriend of vyand behoort te wees.

Kruger Kommandos & Kak: ­Debunking the Myths of the Boer War deur Chris Ash. Uitgewers: 30⁰ South Publishers. Prys: R350.

Dit is jammer dat hierdie toevoeging tot die yslike boekery oor die Engelse oorlog (1899– 1902) getakseer word op sy allitererende titel.

Die kragwoord dui wel daarop dat die boek oor die stroop van mites gaan, maar daarsonder – sonder om preuts te wees – sou ’n mens die boek dalk ernstiger opgeneem het.

Dat die oorlog, veral van Boerekant, van ’n paar mites gestroop kan word, is nie altemit nie. Afrikanernasionalisme en die skrywes van iemand soos Arthur Conan-Doyle het die Boerekryger soms tot super-edele en supervaardige krygsman verhef.

Volgens sy eie vertelling is die skrywer genoop om die boek te skryf na aanleiding van kroegpraatjies waar die Boere as volmaak en die Engelse as deur en deur boos gesien is.

Hoewel ’n mens sekere aannames van Ash kan bevraagteken – soos dat Paul Kruger groot imperialistiese drome gehad het – is die boek deeglik nagevors en is veral die detail en sketse oor spesifieke veldslae insiggewend.

Die leser gaan dalk nie met alles saamstem nie, maar as jy ’n belangstelling in dié tydperk van die geskiedenis het, lewer die boek ’n waardevolle bydrae.

Mercenaries: Putting the World to Rights with Hired Guns deur Al J Venter. Uitgewers: Casemate Publishers (VK) en 30⁰ South Publishers (SA). Prys: R320.

Nog ’n teleurstelling. Al J Venter maak al dekades lank naam met handleidings en koffietafelboeke oor duik en boeke oor konflikte in Afrika en elders.

Hy is ook deeglik ingegrawe in die wêreld van die huursoldaat, ’n gereelde bydraer tot die tydskrif Soldier of Fortune en het ook al ’n TV-reeks oor huursoldate agter sy naam.

Ongelukkig is sy jongste boek ’n opsigtelike sameflansing van ou stories wat boonop verwater is – dalk sodat dit nie met die oorspronklike titels moet meeding nie.

Die subtitel “Putting the World to Rights with Hired Guns” dui voorts op ’n eensydige en baie aanvegbare siening van die huursoldaat.

In die skrywes van Venter word die huursoldaat nie ’n man wat homself vir die hoogste bod verkoop nie, maar eerder altyd vir die edeler saak veg.

Nou, ja.

The Battle for Mozambique deur Stephen A. Emerson. Uitgewer: 30⁰ South Publishers. Prys: R250.

Emerson se boek van 205 bladsye (sonder die omvattende notas, bibliografie en indeks) sal die leser nie sommer deur die nag wakker hou nie, maar is ’n waardevolle gids vir mense wat meer oor die ontstaan en daaropvolgende 16 jaar van konflik in ons buurland wil weet.

Die skrywer was ’n streekspesialis wat in die vroeë 1980’s politieke en militêre ontleding vir die Amerikaanse departement van verdediging gedoen het en daarna verskeie regering- en akademiese poste beklee het.

Die konflik tussen Frelimo en Renamo, asook Renamo se ­Rhodesiese en Suid-Afrikaanse wortels, van 1977 tot 1992, word bekyk en daar is vele vertellings van eerstehandse bronne soos soldate en bevelvoerders wat self by die gevegte betrokke was.

Beslis die moeite werd.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.