Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer boer met skop
Fiksie, Skoppensboer, Duane Aslett, QUEILLERIE, R200

Ontmoet Rex Reyneke – voormalige PUK-prim, toegelate prokureur en ’n man wat wéét hoe om met ’n Audi S5 deur Pretoria se spitsverkeer te vleg.

Hy is die held van Duane Aslett se debuutroman, Skoppensboer, ’n titel wat amper nie anders kán as om Eugène Marais se ikoniese gedig voor oë te roep nie. Die gelyknamige hoof-antagonis geniet dit dan ook om ’n sekere koeplet uit dié gedig aan sy slagoffers voor te dra, alvorens hy hulle met twee borsskote uit sy CZ75 van gras maak.

Skoppensboer is egter nie ’n reeksmoordenaar nie, maar staan aan die hoof van ’n rampokker-sindikaat, wie se sakebelange enigiets van geldwassery en smokkelary tot afpersing en prostitusie insluit. Die meer eietydse naam vir hierdie vorm van boewery is “georganiseerde misdaad” – ’n veld waarmee die skrywer intiem vertroud is deur sy opleiding as forensiese rekeningkundige.

Een van die sindikaat se meelopers, Niel Campher, se kierangs braai wanneer hy té dapper met sy beperkte talente begin woeker. Die polisie besef dat Niel vir hulle meer waardevol búite as binne die tronk sal wees, en maak hom ’n aanloklike aanbod: Help vir Rex Reyneke om die sindikaat te infiltreer, of loop die risiko om jou selmaat se playmate te word.

Aslett is op sy knapste wanneer hy aksietonele beskryf: Soms is dit ’n wilde jaagtog op die R21 tussen ’n Ducati en Rex se Audi, waar die leser as’t ware die brandreuk van Pirelli-bande in sy neusvleuels voel. Andermaal is dit ’n hoë risiko-pokerwedstryd rondom ’n deftige eetkamertafel.

Rex se vaardighede as spioen word bevredigend genoeg beskryf, maar Skoppensboer self – ná die aanvanklike belofte van prima boosheid – kon veel meer gewees het.

Desondanks is Skoppensboer ’n stewige debuut deur ’n baie belowende nuwe stem in Afrikaans. 

Nico Geldenhuys is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

■ ​Bestel die boek hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.