Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Skuldig’-resensie: Storievraat soek spoedig ’n opvolg vir dié lekker ‘krimi’

Misdaadfiksie

Skuldig

Martin Steyn

Sagteband:Leserskring-klubprys: R185; R215 vir nie-lede

E-boek:Leserskring-klubprys: R168.30; R187 vir nie-lede. Klik hier om vir die welkomaanbod (R92.50) in aanmerking te kom.

Ek moet dadelik bieg: Ek het nie ’n lang geskiedenis as leser van misdaadfiksie nie.

Deon Meyer het my oortuig die genre is my leestyd waardig. Daarna het Yrsa Sigurðardóttir, Robert Galbraith en Karin Brynard bygekom. O, en Conan Doyle se Sherlock Holmes-verhale.

Ek besef daar is soveel om in te haal en soveel nuwelinge om te ondersoek – ’n mens moet iewers jou grense stel.

Maar as storievraat weet ek wanneer ’n storie my beetpak en boei, wanneer ek hulpeloos oorgegee is aan die krag van ’n vertelling.

En dit kry Martin Steyn reg met Skuldig.  Ek het vasgenael gelees.

Steyn het in 2014 gedebuteer met Donker spoor, waarin Jan “Mags” Magson die marteldood van ’n aantal tienermeisies ondersoek het.

Magson het sedertdien van loopbaan verander omdat die ontsteltenis, saam met ’n gesinstragedie, te groot was.

Sy spanmaat, Colin Menck, moet nou in Skuldig met ’n nuwe medewerker saamwerk: ­Derek Winters is 15 jaar jonger as Menck. Sy jeug en die feit dat hy anders as Mags is, tel teen hom.

Dan word ’n middeljarige tandarts in sy huis tereggestel. Die moord is klaarblyklik baie professioneel gepleeg.

Voor sy dood het die slagoffer met sy eie bloed die woord “skuldig” teen die muur geskryf. Die rede vir die moord, die rede waarom Willem Vorster as “skuldig” gesien word, is duister.

’n Week later is daar nog so ’n moord. En kort daarna ’n derde. Wat is die gemeenskaplike faktor? Is die reeks eindeloos, of is daar ’n stel mense wat skuldig is aan een bepaalde daad?

Menck, as sentrale karakter in Steyn se tweede boek, worstel met hierdie saak, veral wanneer dit met elke nuwe lyk al hoe ingewikkelder raak. Hy is uniek onder die speurfigure waarvan ek kennis dra omdat hy nie gebuk gaan onder ’n gebrek of ’n krisis in sy lewe nie.

Hy is ’n gelukkige gesinsman, baie verlief op sy vrou, gaande oor sy kinders. Uiteindelik word hierdie liefde, hierdie geluk, deel van die verhaal.

Van ’n speurder verwag ’n mens oplettendheid sodat hy die patrone en afwykings kan raaksien en sodoende die saak kan oplos.

Dit beteken die skrywer moet die wêreld waarin die gebeure afspeel in fyn besonderhede skets sodat die leser saam kan soek na leidrade. Steyn doen dit meesterlik.

Dit is duidelik dat hy deeglik navorsing gedoen het, maar hy bied sy inligting tog aan met inagneming van die leser. Die lykskouingstoneel was byvoorbeeld nooit so grillerig dat ek wou ophou lees nie.

Voorts moet die speurder menslik voorkom.

Lesers moet vir die karakter omgee en duim vashou dat sukses binne bereik is. Ook hierin slaag Steyn deur Menck te laat optree binne ’n groep kollegas wat soms teen wil en dank moet saamwerk.

Dit is juis die menslikheid wat die lede van die SAPD teenoor mekaar toon wat Skuldig vir my besonders maak.

’n Aspek van die roman wat dit onverwags diepte gee, is die morele krisis waarvoor Menck te staan kom. Die moordenaar probeer hom van sy spoor afgooi deur middel van waarskuwings. Hoe eerlik moet Menck wees oor wat hy alles weet en ervaar, veral sover dit sy familie se veiligheid raak?

Wanneer hy begin uitvind hoe die reeks tereggesteldes saamgestel is, wonder hy hoe spyt hy is oor wat met hulle gebeur het. Ook hierin lê Menck se menslikheid: Dit word nog ’n aspek wat die leser uitdaag en ontroer.

Ek reken meer ervare misdaad­lesers sal Skuldig ook geniet.

Die deernis waarmee Steyn sy karakters uitbeeld en die helder beeld wat hy skep van die omgewing en die misdade verseker dat ek beslis in die toekoms leestyd sal afstaan aan sy speurtogte.

En hy moet vinnig skryf aan die derde boek, want daardie rand-van-die-afgrond finale sin . . . 

 Coenraad Walters is ’n onderwyser en bibliotekaris by Somerset College in Somerset-Wes.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.