Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sprankelende, kwiksilwer-talent
Dit is verfrissend om 75 jaar ná sy dood kennis te maak met Johann Buhr, wat beskou is as een van die begaafste joernaliste in die land, skryf Cas van Rensburg.
Johann Buhr (regs) saam met die prins van Wallis in Stellenbosch, 1925. Foto uit: Buhr van die Bokveld

Niefiksie

Buhr van die Bokveld: ’n Sprankelende intelligensie

Saamgestel en ingelei deur Hermann Giliomee

AFRICANA UITGEWERS, R200

In dié tyd dat Die Burger se 100ste bestaansjaar gevier word, word min gewag gemaak van die rits begaafde joernaliste, kleurryk en soms ­eksentriek, wat die hoekstene was van die sukses van hierdie koerant.

Dit is dus verfrissend om in hierdie bloemlesing 75 jaar ná sy dood kennis te maak met Johann Buhr, ’n man wat deur wyle Markus Viljoen, destydse redakteur van Die Huisgenoot, beskou is as een van die veelsydigste en begaafste joernaliste wat hy ooit teëgekom het.

Nou praat ’n mens van die 1920’s, tien jaar ná die ontstaan van Die Burger, en jou wrintie, wie Buhr se verslae noukeurig lees, sal gou ook iemand soos Rykie van Reenen se stem herken.

Dit is moeilik om te glo dat iemand wat op so baie mense ’n groot indruk gemaak het, slegs ses jaar by Die Burger gewerk het. Hy moes in 1930 op 30 weens tuberkulose uittree. Hy het hom op sy geboorteplaas, Grasberg, buite Nieuwoudtville gaan vestig en tot sy dood in 1940 steeds bydraes tot Die Huisgenoot en Die Burger gelewer, asook talle kortverhale.

Dat hy die hoogste sport by die Pers sou kon bereik het, is gewis. Hy was ’n ware leier, soos M.E.R., onder andere, getuig het.

As redenaar en debatteerder het hy uitgeblink. Saam met Hendrik Verwoerd, Van Zyl Steyn, op 26 die jongste professor in regte, en L.C. Steyn, later hoofregter, het hulle oor die hele land met groot sukses teen mekaar gedebatteer. Op Kroonstad het tot 700 mense die debat bygewoon.

As redenaar kon hy ’n studentegehoor met ’n groot skeut humor oorreed om koers te kies in die ­rigting waarin hy hulle wou stuur, selfs nadat ’n besluit reeds geneem was. Van sy toesprake toe hy studenteraadvoorsitter was, is in die bloemlesing opgeneem en is pure leesplesier!

So moes hy as voorsitter in 1925 die destydse prins van Wallis, wat later koning Edward VIII geword het, op Stellenbosch verwelkom. Nie alleen het hy hom op dié dag verslaap en moes sy maters hom in Wilgenhof uit die bed gaan ruk nie, maar het hy vooraf ook die owerhede beproef omdat hy geweier het om sy toespraak vir goedkeuring voor te lê. Hy praat uit sy kop, het hy gesê, en sy pittige toespraak was ’n groot sukses – die prins het selfs versoek dat ’n afskrif daarvan aan die koning gestuur moet word.

In ’n brief aan sy pa agterna het Buhr egter geskryf: “Die prins, tussen ons gesê, is ’n taamlike hope­lose specimen of humanity.”

’n Rusie oor die ontvangs van die prins tussen hom en die visevoorsitter, Recht Malan, het daartoe gelei dat Malan wou bedank. Buhr se antwoord was: “Ag nee, Recht, so gaaf sal jy darem nie wees nie.” En Malan het gebly. Hulle was tot Buhr se dood vriende. Malan het dikwels vir hom nuwe boeke plaas toe gestuur.

As verslaggewer het hy ’n unieke onortodokse styl gehad. Hy het sy berigte ingekleur met persoonlike waarnemings en baie humor. Volgens Markus Viljoen was hy ’n “gebore humoris wat snaaks kon wees sonder om dit selfs te bedoel”.

In 1929 het hy byvoorbeeld daagliks verslag gedoen oor kapt. Malcolm Campbell se ­aanslag op die wêreldsnelheid­rekord op Verneukpan in die Noord-Kaap. Die beskrywing van die verskillende pogings om die rekord te verbeter laat ’n mens kort-kort hardop lag.

Tussen 8 Desember 1926 en 22 Januarie het Buhr saam met die toneelgeselskap van Paul de Groot, die Hanekoms en Wena Naudé gereis en agt artikels oor beroepstoneel in Suid-Afrika geskryf. Benewens sy uitstekende sketse van die persoonlikhede van die akteurs was sy besorgdheid oor die Afrikaners se gebrek aan belangstelling en die tekort aan skrywers duidelik. So het hy byvoorbeeld uitgevaar oor “die verregaande gebrek aan ondersteuning van die Afrikaanse publiek wat gewoonlik heel veel te sê het oor die verheffing van ons kultuur”.

In ’n ander artikel oor die gebrek aan dramas in Afrikaans sê hy: “ ’n Enigsins beskaafde volk sonder ’n ontwikkelde toneelkuns is in elk geval net so ondenkbaar as ’n volk sonder ’n godsdiens . . .”

Van die artikels wat hy ná sy aftrede vir Die Huisgenoot geskryf het, was onder meer drie diepte-artikels oor die skattejag in Namakwaland waar gerugte van diamante die koors hoog gejaag het, veral omdat die Namakwalanders bang was die regering lê beslag op hul rykdom. Hulle smokkel en verneuk vir ’n vale, stukkies glas word ver-kwansel en as ’n nuwe motor op ’n werf ingetrek word, wis almal waar die geld vandaan kom.

Wium van Zyl reken dat D.J. Opperman deur hierdie artikels geïnspireer is om sy gedig “Blom van die baaierd” te skryf.

’n Besonder snaakse artikel verskyn op 10 April 1937 in Die Burger onder die opskrif “Die bioskoop in die buitewêreld” waarin vertel word van die bioskooptent wat in die Nagmaalnaweek op die dorp opgeslaan word tot verontwaardiging van al die stoere kerkgangers en vermaak van die jonges van gees.

Omdat daar nie aan die styl of spelling gepeuter is nie, is dit aanvanklik ’n effens stram leeservaring, maar ’n mens word gou oorrompel deur die varsheid en amper onskuld van sy beriggewing en kortverhale wat ook ­sosiopolitieke dokumente is. Jy besef: As ’n mens wil vorentoe kyk, moet jy verwysings hê van waar jy kom.

Hermann Giliomee moet beslis geloof word vir die samestelling en inleiding van hierdie bloemlesing. Dit moet genoem word dat Giliomee die susterskind van Johann Buhr is. ’n Groot bravo! Ook vir Piet Westra, oudhoof van die Staatsbiblioteek, wat die bundel gepubliseer het. 

■ Cas van Rensburg is ’n skrywer van Onrusrivier.

■ Die boek kan bestel word by africanapublishers@mwebbiz.co.za

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.