Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Stiletto’s van staal’ weeg min, maar lees maklik

Fiksie

Stiletto’s van staal

Bernette Bergenthuin

LAPA, R214

Die raakste beskrywing in dié teks is dalk een karakter se opmerking dat hulle ’n sepielewe lei.

Drie susters, Lona, Vanessa en ­Sienna, is in verskillende stadiums van hul lewe. Elkeen ervaar haar eie uitdagings en hanteer dit op haar eie manier. Lona – ’n jong getroude vrou met twee klein kinders. Vanessa – wat met haar werk getroud is en onlangs ná ’n onverwagte vakansieromanse (waarvan sy niemand wil vertel nie) uit Venesië teruggekeer het. Sienna – ’n student wat effens twyfel oor haar kursus en wie se liefdesverhouding nie meer bestaan nie. Hulle is die drie dogters van ’n Italiaanse ma en ’n Afrikaanse pa.

Soos die titel reeds aandui, is al drie vroue sterk en selfstandig, die aanslae ten spyt.

Wat die genre, die liefdesroman, betref, slaag die skrywer.

Die teks is nie onrealisties nie – een van die susters se lewe kan heel waarskynlik selfs die waarheid of werklikheid van een van die boek se lesers wees.

Die einde en baie van die verwikkelinge in die storie is egter net te voorspelbaar.

Toegegee, die skrywer moet hou by die vereistes van die liefdesroman.

Binne dié raamwerk sorg die skrywer vir ’n gemaklike lees. Met ’n paar mooi sinne en beskrywings, buiten die aanhoudende gebruik van die letter “e” in bykans al die karakter-dialoog wanneer die karakters stotter of nie vlot praat nie.

Die storie weeg min.

En wat aan die einde gebeur, het jy al in die eerste hoofstuk (min of meer) geweet.

Weer eens: In ag genome die beperking van dié genre, het Bergen-thuin tog ’n storie met herkenbare karakters geskep. Ook kwellinge waarmee lesers hulself kan vereenselwig. Vir die ontspanning, lees gerus. 

■  AJ Opperman is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Lees ook nog 'n mening oor die boek.

Klik hier om die boek te koop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.