Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Storie styg bo sy agenda uit

Fiksie

eMajuba

Dawie Louw

​Koop die boek hier of kry ​die eBook vir net R96.

NALEDI, R174

Agterin eMajuba is ’n nota van Dawie Louw, die skrywer. Hy sê hy’t die boek geskryf weens die pas waarteen die Afrikaner verengels.

Die verhaal maak dit dan ook duidelik dat Louw bekommerd is oor die taal, want plek-plek slaan daar ’n prekerigheid in die boek deur oor die dreigende heengaan van (goeie, ordentlike, suiwer) ­Afrikaans.

Louw het twee ander dinge ook op sy agenda, al sluit hy dit nie pertinent by sy eindnota in nie: Hy voel duidelik beswaard dat die Boere alleen die skuld vir apartheid dra, en dat die Britte skotvry daarvan afkom. Ook is hy nie gelukkig met die plek van die Anglo-Boereoorloë, of Vryheidsoorloë, in die geskiedenis nie, want daaroor preek die karakters ook plek-plek vir mekaar.

Ek het nie ’n probleem daarmee dat skrywers ’n agenda het nie – my probleem is eerder dat dit hier lomp hanteer is in dialoog wat dikwels net nie werk nie. Die karakters laat hang sulke Sokratiese vrae oor dié kwessies aan die einde van intense gesprekke en binnegesprekke, en die leser kan maar net saam kop skud oor die vreemdheid van die wêreld.

As jy saamstem met Louw oor die taal en die geskiedenis, soos baie mense sekerlik doen, gaan jy sommer lekker lees. Maar wees gerus, selfs al is jy nie gepla met die Afrikaner en sy geskiedenis nie, is daar oorgenoeg in die boek om jou te boei. Louw se liefde vir Suid-Afrika en al sy mense kom sterk deur, en dit keer dat bitterheid die botoon voer.

Dié dubbele familiesage is ambisieus in omvang en strek vanaf 1901 tot die hede. Dis ’n macho storie, vol wraak en verkragting. Bloederige aksietonele en stomende sekstonele is volop, en goed geskryf. Meer hiervan in die volgende boek, asseblief. Die liefdesdramas tussen verskeie karakters is ook meesleurend.

Nelia, ’n briljante kuberkraker, en Retief, ’n misterieuse geskiedkundige, is die hedendaagse hoofkarakters wie se soeke na identiteit (letterlik en figuurlik) die raamwerk skep vir die dele van die verhaal wat in die verlede afspeel. Louw het sy huiswerk goed gedoen en die historiese karakters is almal fassinerend. Feite en verbeelding word optimaal vermeng sodat die stories geloofwaardig en interessant is, of dit nou gaan oor die Vryheidsoorloë, Ierland se “Troubles” of die stryd teen apartheid. Die geskiedenis kry lewe in hierdie soort ­fiksie. Een van die karakters is Chris Hani!

Die boek kry spoed in die laaste derde. Daar is ’n uitstekende kinkel in die laaste blaaie, en die verhaal eindig op ’n noot van hoop en versoening vir Nelia en ­Retief. Hulle het hulself losgemaak van die vloek van die verlede, en kan hul unieke herkoms vier. Meer as dit wil ek nie weggee nie... Gaan lees self.

Net ’n laaste woord: Die omslagontwerp is treffend. 

 Helen Schöer is redakteur van Baba & Kleuter.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.