Boeke
Treffende vertellings uit Duitswes van weleer

Fiksie, Daar doer in Duitswes, Helm Jooste, PROTEA, R170

Wyle Helm Jooste was ’n voortref­like onderwyser toe Namibië nog Duitswes was.

Later word hy sakeman, burgemeester en beesboer. In 1989 publiseer hy as 80-jarige hierdie eerste bundel outobiografiese vertellings.

Jooste was ook die boeiende verteller in Dinge daar doer (1992) en Verdriet se moses (1996).

Hy neem ons terug na heel aan die begin van die vorige eeu toe hy nog kind was in die Unie. Een nag leer hy by ’n Engelse oom – ’n vreemde wese vir hom – hoe bestry jy luise wat tuis is in ’n man se onderlyf. Sy geliefde mofram laat die gesette tant’ Maryntjie vlug en vergeefs boontoe roep. Kyk net hoe het T. O. Honiball die dreigende ramp geteken! Daarna is hy student aan die onderwyskollege in Heidelberg in Transvaal. Op ’n “hemeldag” verskyn Jessica voor hom.

Hý kan sing van liefde, maar nie die musikale Reich, wat so “anders” is nie; jare later vind Helm uit presies hóé anders.

Van bl. 60 is hy in Suidwes. By eenmanskooltjies soos Westfalen en Volmoed leer ken hy die landstreek en sy mense baie deeglik.

Daar’s die droogtes en die vloede en die paaie se beproewinge vir hom en sy verskillende soorte motors. Sy skool raak skielik ’n ark in ’n yslike pan water. En die mense . . . Soos die “Suidwes-Nazi’s” wat moeilik kan raak, al klink hul marsmusiek hoe lekker. Daar’s ’n uitgeslape spekulant wat een laatnag ’n hotel koop om ’n baie ongewone rede.

Bloemlesers kan ag slaan op “Josephus en sy mes”.

In 1933 moet Helm dringend in Windhoek kom, maar treinspore is verspoel. Hy kry in Mariental ’n geleentheid saam met ’n sterk man en nog ’n passasier: ’n swygsame geestelik versteurde wat ’n mes vertroetel. Die slot is ’n voorbeeld van hoe Jooste sy vertellings treffend afrond.

’n Mens het ook lof vir Jooste se oortuigende dialooggedeeltes, ritmiese sinne waarin alliterasies voorkom, sy gebruik van inversie vir beklemtoning en dramatisering, geslaagde onderbeklemtonings, ironiserings, evokatiewe detail­beskrywings, woordspelings en ja, humor.

Maar, die redaksionele versorging kon beter gewees het. Ek het tien soorte steurnisse aangeteken waar- onder die verkeerde spelling van handelsname, inkonsekwente hooflettergebruik, onpresiese aanhalings uit gedigte en liedere van weleer . . . – Danie Botha is ’n vryskutboeke­redakteur van Kaapstad.

Koop die boek hier.

Volg Netwerk24