Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Tussen elke heining ’n storie
Tussen heinings konfronteer lesers met die Suid-Afrikaanse werklikheid, skryf Dineke Volschenk.
Omslag van Tussen heinings deur Corlia Fourie.

Tussen heinings

Deur Corlia Fourie. 

Uitgewer: Tafelberg. 

Prys: R260. 

Resensent: Dineke Volschenk

Dis ’n hele paar jaar laas dat daar ’n nuwe boek van Corlia Fourie verskyn het. Haar nuwe roman, Tussen heinings, is dus ’n blye gebeurtenis.

Fourie kan met die kleinste moontlike aantal woorde ’n storie vertel. Daar is geen tierlantyntjies en oorbodigheid in haar werk nie. In hierdie roman is dit weer die geval. Haar talent om dialoog te skryf sodat dit voel asof jy mense afluister, word ook hier weer ten toon gestel. Die styl is vintage Fourie.

Die titel is die sleutel tot waaroor die roman gaan: tussen heinings in ’n stad is daar vele wonings bewoon deur allerhande soorte mense. Elke huis is ’n klein wêreldjie van intrige met mense wat ’n stryd het om te stry, met vreugdes, teleurstellings, verlangens en verliese. Elkeen van hierdie vestings bevat potensieel ’n roman.

Fourie vertel die verhale van ’n handvol mense en hul verhoudings met mekaar in die groot, gevaarlike post-apartheid-stad, Johannes-­burg. Die romanse met die “nuwe Suid-Afrika” is verby en misdaad en die stryd om finansiële oorlewing is die nuwe realiteit van die meeste gewone mense.

Die verhaal begin by Tom, ’n ou man en wewenaar wat sy vrou tot met haar dood versorg het. Sy nuwe werklikheid is eensaamheid en om sy vrou se dood te verwerk.

Hy staan een oggend en wag vir sy koerant om afgelewer te word en staan en kyk na die “hiëna” wat in sy asblik krap. Hierdie mense, aasdiere (-mense) wat in ons asblikke kom krap om plastiek te herwin en oorskietkos te kry, is aan alle stedelinge in Suid-Afrika bekend en is ’n simptoom van die wêreld waar die gaping tussen ryk en arm steeds groter word.

Tom is die buurman van Elize en haar dogter, Michelle. Elize, ’n geskeide enkelouer, werk by ’n vrouetydskrif. Haar broer en sy gesin was slagoffers van ’n gewapende rooftog in hul huis, en hy besluit om te emigreer. Dit bring vir elke betrokkene sy eie uitdagings en emosies.

Fourie is meedoënloos in haar uitbeelding van die stedelike lewe in die Suid-Afrika van vandag. Die gegewe is dikwels droewig. Maar al die karakters is helde in hul klein lewens.

Elize het ’n rits kleurryke kollegas by die tydskrif in ’n tyd dat die gedrukte media sukkel om te oorleef en stresvlakke hoog is.

Daar is onder andere een wat die ander kollegas boelie; ’n jong bruin joernalis wat dikwels onder haar deurloop; ’n idealis wat ’n poësieblad wil vestig – almal vroue met hul unieke probleme.

En dan is daar Welcome, ’n Zimbab­wiër met ’n verskriklike geheim wat hom teister, wat in Elize-hulle se buurt rondswerf om los werkies te vind met drome vir ’n toekoms van welvaart en gemak vir hom en sy familie.

Hy loop ’n vriend raak wat blykbaar besig is om dit “te maak” as verwer. Hy begin saam met hom werk en vir ’n wyle lyk dit asof sy droom binne bereik is. Lina is Elize se swart huiswerker. Dis moeilik om met haar te kommunikeer, want sy kan nie Engels of Afrikaans goed praat nie en baie dinge gaan verlore in die doolhof van mense wat mekaar nie werklik verstaan nie – lost in translation. Dis die verhaal van talle in ons wye land.

Fourie is meedoënloos in haar uitbeelding van die stedelike lewe in die Suid-Afrika van vandag. Die gegewe is dikwels droewig. Maar al die karakters is helde in hul klein lewens. Hulle beur vorentoe en hou aan beweeg ongeag wat gebeur.

Mandla Langa, visepresident van PEN Suid-Afrika, die plaaslike tak van ’n internasionale skrywersorganisasie, skryf in die jongste nuusbrief oor die skrywer se verantwoordelikheid om ’n getuie te wees van die tyd waarin ons leef. Ons leef in een van die opwindendste lande ter wêreld, met geen tekort aan stories en boewe nie, “in this instance being incidences of corruption, murder, power outages, rapes of women and children, avoidable accidents and general mayhem . . .”

Dit is helend vir ons almal om te onthou dat ons deel is van ’n groter gemeenskap waarin mense sukkel om te oorleef op talle vlakke in hierdie komplekse land. Ons moet leer om onverdraagsaamheid en vrees te konfronteer as ons as ’n nasie wil oorleef, skryf Langa. En dit is presies wat Fourie doen met hierdie roman. Sy is ’n getuie van ons almal se lewens en sy noem die monsters op die naam.

Dis jammer dat daar nie meer optimisme iewers versteek is nie. Die kruipende geweld en onheil sou getemper gewees het met ’n bietjie humor. Tog is daar hoop in die karakters se verstommende gehardheid, hul vermoë om hul probleme te bowe te kom.

Langa haal James Baldwin aan: “ . . . the artist (or writer) must always know that underneath visible reality hides a deeper one, and that all our action and achievement rest on things unseen. A society must assume that it is stable, but the artist must know, and he must let us know, that there is nothing stable under heaven.”

In Tussen heinings konfronteer Fourie ons met ons realiteit sodat ons kan besin oor al die dinge wat agter die sienbare lê, sodat ons uiteindelik kan onthou dat dit is hoe die lewe is, só is dit. En dalk met meer empatie kyk na ons medereisigers.

■ Dineke Volschenk is ’n ouduitgewer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.