Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uit ons eie stories kan ons altyd leer
Te midde van soveel witwarm retoriek as wat tans weer opklink oor waarheen die land op pad is, kan hierdie boek dalk kalmeer en leer, skryf Ruda Landman.
Nie-fiksie, It’s a Black/White Thing, Donna Bryson, TAFELBERG, R185

Tradisie en verandering op Suid-Afrika se histories Afrikaanse universiteite is weer midde-in die nuus. In die noorde maak Leon Wessels se verslag oor die Noordwes-Universiteit se Potch-kampus nog opslae, in die suide gaan dit oor transformasie op Stellenbosch en die argumente daaroor in die week voor die skielike dood van die rektor, prof. Russel Botman.

Enigeen wat hierdie skerp verdelende kwessies uit meer as een hoek wil probeer verstaan, kan gerus die swart Amerikaanse joernalis Donna Bryson se It’s a Black/White Thing lees. Dit gaan oor die derde soortgelyke kampus, die Universiteit van die Vrystaat, wat in 2008 wêreldwyd opslae gemaak het toe ’n rassistiese video uit een van hulle koshuise (Reitz) op YouTube beland het.

Bryson was vir Associated Press in Suid-Afrika van 1993 tot 1996, en weer as hoof van hul buro in Johannesburg van 2008 tot 2012. Ná die Reitz-video is sy Bloemfontein toe vir ’n storie. Dit het ’n vyfjaar-projek geword wat uiteindelik tot hierdie boek gelei het.

Die tema van die boek word reeds in die inleidende hoofstuk gestel: “Stereotypes, like lies, are best kept simple. The complicated truth of the province of the Free State, its university and their histories is that they are a microcosm, not an excep­tion. The truth of this one place holds lessons for many other places, across South Africa and beyond.”

Sy vertel die verhaal van deurlopende, doelbewuste pogings tot transformasie, om ’n wit Afrikaanse instelling ’n plek te maak waar swart studente ewe welkom sou voel. Een rektor ná die ander het dit aangepak: Stef Coetzee van 1997 tot 2002, Frederick Fourie van 2003 tot 2008, en daarna Jonathan Jansen.

Die komitee wat Coetzee aangestel het, het vir hom gesê hy het drie prioriteite: transformasie, transformasie en transformasie. In daardie stadium was minder as 40% van die studente swart, maar hy het voorsien dat dit sou verander. Hy het ’n organisasie gestig met die titel die Breë Transformasieforum, wat 18 maande lank beraadslaag het oor nuwe beleid op allerhande gebiede. Hy is baie trots daarop dat hy van die konserwatiewe wit ouervereniging tot radikale swart studente gekry het om deel te neem.

Frederick Fourie het die proses voortgesit, met “a campus-wide conversation, in small groups, about where the institution was headed”. Vir hom, skryf Bryson, was die sleutelelement om te werk na ’n kultuur waarin geen groep sou domineer nie. Hierdie gesprekke het uitgeloop op ’n manifes en transformasieplan wat in 2007 deur die senaat en die raad aanvaar is.

Een element van die kampus het alle pogings tot hervorming weerstaan: die manskoshuise. Keer op keer het die koshuise weer volgens raslyne verdeel.

Dit is hierdie weerstand teen transformasie wat uiteindelik in 2007 gelei het tot die Reitz-video, waarin wit manstudente skynbaar in kos urineer wat hulle dan aan swart vroue-werkers voorsit. Min mense weet miskien daardie video het geëindig met teks op die skerm: “Dit is wat ons regtig van rasse-transformasie dink.”

Ná die video het Fourie bedank. Bryson skryf: “His health, like Coetzee’s before him, had also suffered. Looking back, Fourie says that lack of support in the university community, personal attacks in the local press and even threats to his life had drained him.”

Jonathan Jansen het oorgeneem, en dryf die transformasie-agenda sterker as ooit. Deel hiervan is ’n program om eerstejaarstudente twee weke lank na oorsese universiteite te stuur. Bryson volg een so ’n groep na Texas, waar sy onmiskenbare parallelle met die Vrystaat vind: ’n universiteit wat aanvanklik een wit en een swart kampus gehad het, in die middel van ’n konserwatiewe plattelandse omgewing, waar swart en Spaanssprekende studente in die minderheid is. Die studente het by mekaar geleer, vertel sy. Van die Amerikaners glo hulle het selfs meer geleer as hul gaste, wat skielik daar in die vreemde ontdek het dat hul gedeelde geskiedenis van worstel met hierdie probleme ’n ryk bate kan wees.

Een van die sterkste punte van die boek is Bryson se empatie met elkeen van die spelers. Sy gaan haal Kovsies se geskiedenis by die Vrouemonument en dus die konsentrasiekampe. Sy stel elkeen van die studente en kampusleiers voor deur hulle hele familie uiteen te sit, sodat vooroordele, vrese en aspirasies uit die karakter straal, eerder as om van buite as debatspunt geopper te word.

Die boek is deurlopend optimisties. Transformasie, so aanvaar die skryfster, is noodsaaklik. Dit is moeilik, bitter moeilik, en dit gaan jare duur, maar daar is mense wat sterk en opreg daaraan werk, ter wille van Suid-Afrika in sy geheel. ’n Opmerking oor Benito Khotseng, wat in 1993 aangestel is as een van die universiteit se eerste swart bestuurders, vat dit saam:

“Khotseng shows an adeptness for adaptation I have come to see as quintessentially South African. His own story . . . could have been a blueprint for bitterness. But I hear strength in the calm with which he tells his story to me. His is a journey that tempers and teaches.”

Te midde van soveel witwarm retoriek as wat tans weer gepleeg word oor hierdie reis van Suid-Afrika, kan hierdie boek ook kalmeer en leer.

Nie dat dit ooit lerend is nie. Bryson vertel ons stories. Miskien is dit tyd dat ons dit weer hoor. – Ruda Landman is ’n oud TV-joernalis en direkteur van Media24.

Kliek hier om die boek te koop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.