Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Uitstekende tweede digkuns-aanbod smaak na meer
Fiksie: Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, Andries Bezuidenhout, PROTEA, R150

Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, Andries Bezuidenhout se tweede bundel, volg sewe jaar ná sy debuut, Retoer.

Bezuidenhout het egter nie in dié tyd stilgesit nie. Hiervan getuig die datums onderaan sommige van die gedigte.

Die bundel is voltooi as deel van ’n meestersgraad in skeppende skryfwerk onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker aan die Universiteit van Stellenbosch.

En te oordeel na die produk was die wag die moeite werd. Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle bevat heelwat minder gedigte wat origens meer gedronge is en gekenmerk word deur ’n groter vormbewustheid as wat die geval was met Retoer.

Enkele gedigte, soos “Soveel blitse, soveel dae” en “Palomar Place, Observatory”, is nog onaf, maar sulke verse is die uitsondering eerder as die reël.

Soos in Retoer word sommige gedigte in Veelvuldige gebruike vergesel van Bezuidenhout se sketse. Dié sketse, waarin Bezuidenhout bestaande patentesketse nageteken het, is ongelukkig net te klein gedruk om enigsins tot hul reg te kom, wat jammer is.

Sekere motiewe in Retoer duik wel weer in Veelvuldige gebruike op, soos dié van reis en ’n omgang met die geskiedenis, maar ander is verfrissend nuut. Hier is dit veral die gerf aangrypende natuurgedigte – waarvan sommige as ekologiese gedigte gelees kan word – wat ’n tematiese verruiming in Bezuidenhout se oeuvre meebring. Die slotstrofe van die openingsgedig, “Kombuiskomplot”, gee reeds blyke van ’n ekologiese bewustheid: kan tentakels wat toestelle konnekteer dalk iets in die lug bespeur, ’n ramp, armageddon, die atmosfeer wat verdamp?

“Sonnewende”, ’n natuurgedig waarin die broosheid van die mens se bestaan in die slotstrofe met dié van populiere in verband gebring word, is ’n juweel, terwyl Bezuidenhout verras met sy vindingryke ontginning van die woord “piet-my-vrou” in “Vrae oor vere” – ’n gedig waarin hy ook sy kop knik in die rigting van Afrikaans se ekologiese digter, Johann Lodewyk Marais.

Waar die digterstem in Retoer oorwegend dié van ’n ontnugterde jong man is wat afreken met sy aandadigheid aan “die gatkant” of aan apartheid, is die stem wat in Veelvuldige gebruike aan die woord is, meer beleë. Die spreker verwys selfs in “Kerkgebou, Vrystaat” na homself as ’n “middeljarige besoeker”. Aansluitend hierby is die stemtoon in heelparty gedigte, soos “1. NG Kerk, voorstede”, “Die Handpalmleser van Swakopmund” en “Welverdiend”, nostalgies getint.

Maar daar is ook gedigte wat die leser in die intieme ruimte van die huis innooi, wat jou terugneem na die spreker se kinderdae met ’n afwesige rondloperpa (“Die jaar toe Pa die skottelgoedwasser gewen het” en “Draalgedig vir ’n derde kind”). Die intieme, huislike sfeer word ook betrek in die talle gedigte oor huishoudelike toestelle.

Om meevoerend oor toestelle soos wasmasjiene en yskaste te dig sit nie in enigiemand se broek nie, maar Bezuidenhout doen dit met flair.

Soos in “liewe wasmasjien”, ’n pikante liefdesgedig gerig aan ’n wasmasjien wat “ ’n slow dance in die kombuis se hoek” doen.

Die mees geslaagde van dié soort gedigte is dié waarin ’n verband tussen mens en toestel getrek word of waar toestelle menslike eienskappe aanneem en andersom, soos in die sinistere openingsgedig “Kombuiskomplot”, die hartseer “Koelkas”, die skalkse “Rent-a-husband” en die verruklik buitenissige liefdesgedig “Alles wat die lug indamp stol en word solied” – een van die hoogtepunte in die bundel.

Nog ’n besonder geslaagde gedig is “Onderdele”, waarin die rol van toestelle en onderdele in geskiedkundige gebeure – in dié geval die gedwonge verskuiwings van swart mense na townships onder apartheid – by wyse van ’n dramatiese opstapeling van woorde uitgebeeld word. Die gedig kry ook ’n bykomende betekenislaag met die gebruik van die woord “ons” met verwysing na die onderdele, asook die frase “ons tonge sleep swaar aan skuld”, wat ’n sinspeling is op die spreker en sy generasie se aandadigheid aan die vorige bestel.

Die gesprek met mededigters in die Afrikaanse kanon word ook in dié bundel voortgesit. Daar is spore van Breytenbach en Cussons, asook ’n repliek op Gert Vlok Nel in “Johannesburg, someraand”.

Op die keper beskou verteenwoordig Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle die konsolidasie van ’n jong digterskap binne dié kanon; ’n digterskap wat net in statuur kan groei. – Rudolf Stehle is ’n lid van Beeld se kunsredaksie.


Koop die boek hier. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.