Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeke
Van Heerden ken nes klimtolspeler die trieks
Klimtol, Etienne van Heerden, TAFELBERG, R220
Speel is ’n belangrike tema in hierdie roman. Ludo as hoofkarakter roep immers iets op van homo ludens – die mens as speler.

Toe ek nog op skool was, het daar ’n keer of wat ’n klimtolspeler op ’n oggend in die saal ’n vertoning kom gee. Daardie klimtolkampioene kon verbysterende toertjies uitvoer. Vir weke daarna het ons dan hul toertjies probeer nadoen, totdat klimtolspeel op ’n dag skielik uit die mode was en almal weer in die pouses raakrugby of handtennis begin speel het. Ek het nog nooit nagedink oor wat van daardie klimtolkampioene geword het nie.

In Klimtol vertel Etienne van Heerden ’n storie van só ’n kampioen, Ludo Loeloeraai. Ludo het gedurende die 1960’s van dorp na dorp in die Karoo gery en sy klimtolvaardighede in skoolsale, kerksale en by landbouskoue voor elke denkbare gehoor opgevoer. Vandag is “oom Ludo” ’n bekende gesig waar hy in sy aftreehuisie in Paternoster woon en saans te veel in die kroeg kuier en dan so af en toe probeer om nog ’n triek of twee vir kroeggangers te wys.

Ludo is ’n verhoognaam. Sy eie naam het Ludo lank tevore verruil vir sy “speelnaam” en hy het eintlik die rol van Ludo begin speel. (Ludo is afgelei van die Latynse woord vir “speel”). Hy het as’t ware sy toertjies geword.

Tot sy pa se ergernis volg Ludo nie ná skool ’n gerespekteerde werkloopbaan nie, maar hy aanvaar ’n borgskap van Coca-Cola en hy maak ’n bestaan deur te speel. Hy werk sy vertonings haarfyn uit, oefen gedurig en leef vir die oomblikke wanneer hy homself volkome in die toertjies verloor (en sy gehoor met hom saamneem).

In sy speeldae het Ludo egter ’n ongeluk gehad wat hom steeds pla, ’n gewetenswroeging wat soms soos ’n vlieënde piering by hom opdaag. (Vandaar die bynaam “Loeloeraai” wat Langenhoven se ruimtereisiger oproep.)

Ludo word deur ’n hedendaagse klimtolkampioen opgespoor en sy oorreed hom om saam met haar aan internasionale kompetisies deel te neem. (Daar is regtig sulke internasionale kompetisies – gaan kyk gerus op YouTube!). Die jong meisie Doris blyk egter meer te wees as net ’n bedrewe klimtolkampioen en krap veel meer van sy (en haar) verlede oop.

Vervleg met Ludo Loeloeraai se storie word die verhaal van Snaartjie Windvogel ook vertel. Lesers van In stede van die liefde sal haar onthou as die meisie van Matjiesfontein met die aanleg vir vioolspeel wat deur dwelmhandelaars ontvoer is. In Klimtol word haar verhaal verder vertel – sy oorleef die dwelmsmouse wat haar vier jaar lank as prostituut in Kaapstad gevange hou, ontsnap en beland uiteindelik in Paternoster. Maar vir iemand wat seksuele toertjies uitvoer, is inpas in die gemeenskap onmoontlik.

Speel is ’n belangrike tema in hierdie roman. Ludo as hoofkarakter roep immers iets op van homo ludens – die mens as speler. Spel word in verband gebring met kuns – as mors van tyd, mors met die erns. Spel bied ’n boeiende, betowerende ruimte buite die daaglikse roetine waarheen spelers sowel as gehore meegevoer word. Soos in Die swye van Mario Salviati, word hierdie speelruimte (die “wêreld van die kunswerk”) ook ’n plek van waar anders teruggekyk word na die “gewone” wêreld. Sodoende word vrae aan die gewone wêreld gestel, grense word versit. Die spel word ’n manier om sin te maak van die lewe.

’n Tweede tema wat ook sedert Toorberg soos ’n refrein deur Van Heerden se romans loop, is die klem op skuld. ’n Onafgehandelde verlede bly pla (dink onder andere aan Christine in In stede van die liefde, die hele gemeenskap van Tallejare in Mario Salviati). Demone bly spook, soos in Kikoejoe en Dertig nagte in Amsterdam. In Klimtol word spel ook ’n manier om die demone te besweer en om te oorleef.

Hierdie temas word nie slegs op verhaalvlak as idees hanteer nie. Van Heerden is ’n stilis wat deurgaans met die taal speel soos Ludo klimtol speel. Hy ken al die trieks van vertel en benut hulle effektief.

In sommige van Van Heerden se romans kry mens die indruk dat vertel-trieks baie selfbewus aangewend word. Hier nie. In Klimtol is ’n derdepersoonverteller deurgaans aan die woord, maar die verteller is digby sommige karakters – só naby dat ’n mens die verteller dikwels as eerstepersoonverteller ervaar. Die klein afstand wat tussen verteller en karakter bestaan, skep ’n ruimte vir ironie, dat die leser ook kan agterkom wat die karakter se mistastings is. Deur verskeie herhalende motiewe (o.m. water en honde) word Klimtol ’n digte en komplekse teks ondanks die oënskynlike speelsheid.

Ludo voer aan dat ’n klimtolgooier geleidelik die gehoor se agterdog moet oorwin, hul vertroue moet wen, sodat hulle meegevoer en oorbluf kan word. Van Heerden doen dieselfde deur boeiende karakters te skep, deur die vinnige vloei van gebeurtenisse en die spanning van ’n speurverhaal (lyke spoel immers by Paternoster uit en almal is verdagtes). Klimtol trek die leser speel-speel in ’n ander wêreld in wat jou dwing tot nadenke oor ons bestaan, oor die belang van spel, oor skuld, oor plig, oor eerlikheid, oor oorlewing in hierdie land. – Willie Burger is professor in die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

.......................................

'n Ander mening:

Roman geen eenvoudige triek

Klimtol is ’n pragtige, oortuigende en onthutsende roman - ’n hoogtepunt in Etienne van Heerden se oeuvre, skryf Annemarié van Niekerk.

Maar toe gebeur daar iets op die pad buite Tweefontein waarna Loeloeraai nooit weer dieselfde was nie. Nou is hy oud en alleen.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.