Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Alexander Strachan oor Nuwe roman:
Verhaal oor oorloë ‘groot uitdaging’
‘Nie geweet hoe die verhaal gaan eindig’
Alexander Strachan is vir sy nuwe roman, Brandwaterkom, met die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Romanwedstryd bekroon. Hy het Willem de Vries se vrae beantwoord oor hierdie roman waarin die Anglo-Boereoorlog en die ­Angolese grensoorlog oormekaar skuif.
Die Afrikaanse skrywer Alexander Strachan. Foto: Jaco Marais
Die omslag van Alexander Strachan se nuwe roman.

Wat staan vir jou voorop in hierdie verhaal waarin twee krygsgeskiedenisse met mekaar in verband gebring word?

Voorop in Brandwaterkom staan die kwessie van verraad. En dan praat ek van verraad op meer as een vlak: die werkplek, die ­sake-wêreld en die huwelik. Niks onder die son is nuut nie. Die ­struwelinge en kwessies van meer as ’n eeu gelede kom vandag nog in ons lewens voor. Minderhede teenoor meerder­hede, vrou teenoor man, man teenoor man, magsbeheptheid, die rassekwessie, die een mag wat nie voor die ander wil swig nie, ontrouheid, ensovoorts.

Die naas mekaar stel van oorloë en hul onderskeie tydperke word ­verken. Het jy geweet hoe die roman gaan eindig?

Ek het nie van die begin af geweet hoe hierdie roman gaan eindig nie. Dit vertraag die skryfproses nogal heelwat. Die skrywer moet die einde so gou moontlik kry, want dit help dat jy nie van jou sentrale lyn afwyk nie.

As jy na ’n sigbare eindpunt toe skryf, sal jy minder geneig wees om dinge by te sleep wat nie ter ­sake is vir jou storie nie.

Die naas mekaar stel van die Grensoorlog en die ABO was vir my ’n groot uitdaging, omdat ek nie van ander werke weet waarin dit gedoen is nie. Dit het baie ­konsentrasie en herskryf geverg om die twee temas naatloos oor mekaar te laat skuif. In welke­ ­mate ek dit reggekry het, sal die leser self oor moet oordeel.

Die Grensoorlog het nog geen berusting gevind nie, sê een karakter. Is dit ’n wesenstrek van oorlog?

Toe die Bosvegters terugkeer, het hulle allermins ’n heldeontvangs gehad, en het dit ook nie verwag nie. Baie van die soldate het ­gevoel dat hulle oorbodig was en uit die openbare oog gehou moes word. Boonop was hulle belet om oor hul ervarings te praat. Dit is waarskynlik een van die redes waarom die soldate nie ­berusting of afsluiting van ­daardie oorlog kan kry nie. En dit is hoekom daar nou, in vryer tye, so baie ­publikasies oor hierdie ­onder­werp bly verskyn.

As ’n mens op die internet gaan kyk, bestaan daar ook talle “Grensgroepe” – mense wat nie hul “houvas” op die oorlog wil of kan prysgee nie. Die ABO was ­anders en mense soos De Wet en De la Rey het groot ­erkenning geniet.

De Wet en ander het ook hul ­erva­rings geboekstaaf.

Tog bly die ABO selfs ná meer as 100 jaar steeds aandag trek. ’n Mens kan dit met die plaasroman in Afrikaans vergelyk, sodra jy dink die tema is uitgeskryf, verskyn ’n nuwe publikasie.

As jy die gevegsetiek van die twee tye, soos die romankarakters, met mekaar vergelyk, stem jy saam met hulle of beskou jy dit anders?

Die gevegsetiek in die ABO was baie anders as wat dit in latere oorloë sou wees, dit is hoekom dit die laaste “Gentleman’s War” ­genoem word – ’n oorlog waarin die witvlag gerespekteer is.

Na afloop van ’n veldslag was daar ’n skietstilstand sodat die ­gewondes versorg en die dooies begrawe kon word.

Daar was selfs ligter, humoristiese oomblikke: Op dag 101 van die beleg van ­Ladysmith het ’n Boereheliografis vir sy opponent gesein “101 and not out”. Toe sein die Kakie terug: “Still ­batting.”

En op Kersdag het die Boere ’n skadelose bom met Kerspoeding gevul en luglangs na die beleërde dorp ­gestuur.

Latere oorloë, soos die Grensoorlog, was veel meedoën­loser en genadeloser. Bogenoemde ­humor was ongekend. Die witvlag het lankal nie meer bestaan nie en die opponerende magte het naamloos vir mekaar geword. Op geen dag sou daar ’n duit toegegee word nie, die reël van die bos het gegeld en dit het beteken “survival of the fittest”. Iets soos oorgee om ’n krygsgevangene te word, was nie ’n woord wat bestaan het nie.

Karakters is nomades, hulle beweeg uit een boek na ’n volgende in jou werk. Eintlik is elke boek deel van en belig ander aspekte van ’n langer verhaal. In hoe ’n mate was feite vir die verhaal ­belangrik?

Vir sommige ­skry­wers is karakters ­nomades, vir ander nie. Lesers hou ­nogal daarvan om ’n bekende figuur in ’n volgende boek raak te lees. Daar ontstaan dan dadelik ’n bepaalde verwagtingshorison van só ’n figuur en die boek word saamgelees met ander ­verhale van die skrywer. ’n Mens kan die leser natuurlik ook vervreem van ’n karakter deur hom/haar anders aan te bied as wat die leser verwag het.

’n Terugkerende karakter kan ’n tema of simbool word, soos ­Bullet in my werk wat vir baie ­lesers die ongeslypte kant van die skrywer verteenwoordig. Sommige lesers identifiseer met só ’n ­karakter. Die skrywer moet daarop bedag wees om die leser nie te veel van een karakter te voer nie, want dan kan verveling intree.

Werk jy tans aan ’n volgende boek?

Toe ek Brandwaterkom ingehandig het, het ek dit sterk oorweeg om dadelik verder te skryf oor die laaste twintig lewensjare van my hoofkarakter, Fanie ­Vilonel – ’n tydperk wat nie deur die roman gedek word nie.

’n Goeie Kaapse vriendin en ­bekende literator het my egter hierteen gewaarsku. ’n Roman soos dié moet volgens haar juis nie afsluiting kry nie sodat die ­leser kan bly wonder oor die gebeure. Nietemin bly ek lus vir die ­historiese roman en hoewel ek Vilonel dan in Senekal gaan agterlaat, mag ek dalk met een van die mindere karakters na ’n nuwe milieu reis om die geskiedenis van daardie landskap te gaan ontgin.

​Resensente sê

Twee resensies van Brandwaterkom:

Alexander Strachan is ’n fyn stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld Sonder Grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die Jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.Min skrywers het al oorlogs-geweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Op Soek na Generaal Mannetjies Mentz op. – Joan Hambidge, Boeke24

Hy fokus veral op geskied-kundige figure, soos sir Redvers Buller wat op amper komiese wyse uitgebeeld word. Selfs tydens die droewige oorlog is daar talle humo-ristiese beskrywings van die lewe op kommando, maar veral van Buller se karakter. Soos in Ingrid Winterbach se Buller se Plan, word die veldslae waarby Buller betrokke was, noukeurig beskryf. Strachan se skerp sin vir detail en fyn sintuiglike waarnemingsver-moë stel lesers in staat om die veldslae mee te maak asof hulle self daar teenwoordig was. – Dewald Koen, By 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.