Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vernuftige spanningsverhaal deur woordargitek

Fiksie

Ewebeeld

Chanette Paul

LAPA, R194

Daar is sekere mans wat mos ’n “tipe” het. Sy móét ’n blondine of brunet wees. Moet lang bene, of perfekte kurwes hê . . .

In Chanette Paul se nuutste spanningsroman, Ewebeeld, neem die aardskurk Ludolf von Fürstenberg sý voorkeure skrikwekkend ernstig op – vandaar die titel.

Sy nuwe vrou, Lanie du Toit, trek al hoe meer op sy derde eggenoot, Aurora, nes dié ook darem maar net te veel na Ludolf se tweede, vrou, Zerilda, gelyk het. Gelyk hét ja, nie lyk nie, want Zerilda en Aurora is dood en dit is nie moeilik om snuf in die neus te kry oor wie daarvoor verantwoordelik was nie.

Ewebeeld is Paul se tiende spanningsroman en haar naam behoort meer gereeld gehoor te word as daar oor Afrikaans se bestes in dié genre gepraat word.

Haar karakters is mense van vlees en bloed, van hul unieke geite tot hul bagasie, infleksies en maniërismes. Daar is Lanie, wat haarself in ’n helse huwelik bevind met ’n man wat kan “toor”. Sy is egter g’n vloerlap nie en is ’n protagonis wat jy van die kantlyn af wil aanmoedig. Dieselfde geld Roux, die loodglaskunstenaar wat in Ludolf se web vasgespin raak. Hy is ’n talentvolle, maar gewone man. Een met foute. Juis daarom hou jy soveel meer van hom.

Daar is ook JoJo, die vlymskerp navorser cum private speurder ­van Benoni wat lief is vir haar Southern Comfort; en Ludolf, een van die mees narcistiese skurke in ’n lang tyd.

Omdat baie mense betrokke is, begin jy in ’n stadium wonder hoe op dees aarde alles bymekaar gaan kom. Maar Paul hou die leisels stewig vas; knoop die spanningslyn geleidelik al stywer en los in die ontknoping alle raaisels op waaroor jy dalk sou wonder.

Paul is ook op ander maniere ’n vernuftige woordargitek. Daar vloei geboue en plekke uit haar pen dat dit later vir jou begin voel jy was dalk al self daar.

Paul is ook ’n skrywer wat weet hoe om navorsing te doen en die verhaalwêreld daardeur soveel meer geloofwaardig te maak.

In Ewebeeld bly sy ook nie net by fiksie nie. Die verhaal is ekstra sappig omdat dit in die nuuswaardige 2014 plaasvind, te midde van onder meer Oscar Pistorius se moordverhoor. Hier en daar kon die taalversorging beter wees en die spanning sou selfs nog sterker wees as ’n bladsy of tien gesny is.

Maar mens hoop Paul laat jou gou weer paaie kruis met Lanie en JoJo. 

■ Riëtte Grobler is nasionale leefstyl- en -vermaakredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie.

Klik hier om die boek te koop. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.