Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Vintage’ Engelbrecht deel satiriese klappe uit

Papegaaislaai deur Theunis Engelbrecht. Uitgewer: Umuzi. Prys: R180. Resensent: Joan Hambidge

Papegaaislaai is die skrywer en musikant Theunis Engelbrecht se langverwagte roman ná Om ’n laaitie te maak (1986), wat indertyd deur my positief geresenseer is, maar deur André P. Brink vernietig is.

Toe het die digter-skrywer as Randy Rambo belangrike grens­oorskrydende lirieke geskryf en lekker musiek gemaak met die Rough Riders. Hierdie skrywer het nog altyd ’n sintuig vir die absurde en die transgressiewe gehad en indertyd in Stet en die tydskrif De Nieuwe Poes as Koekie Ziervogel.

Daar is ’n tradisie van transgressiewe, satiriese romans in Afrikaans: RR Ryger se Beertjie en sy boytjies (2006), Jeanne Goosen se ’n Paw-paw vir my darling (2006) en Koos Kombuis se Raka – die roman (2006). In 1994 was daar ook Triomf van Marlene van Niekerk met sy grimmige blik op die werkersklasbestaan. Lambert is immers die Ampie van die nineties . . .

Die verheerliking van die werkersklasbestaan en ’n satiriese blik op die “gemoedelike lokale realisme” is die kentekens van hierdie romans, wat werk met oordrywing, vermaaklike jukstaposisies, absurde naamgewing en ’n voorliefde vir die abjekte.

Ryger, Goosen en Kombuis – om drie uit te sonder – se tekste verheerlik en banaliseer hierdie bestaan. Dit wil die leuens van die wit middelklaslewe aan die kaak stel en vir die leser wys dat dit ’n onheilige plek is van leuens, dwelms en ander verskrikkinge . . .

Beertjie en sy boytjies het ek destyds in die begin 1990’s vir die eerste keer gelees en my buite weste gelag.

Die Gottie Hansen-skool en ander smoelneukers het deel van my parlando geword; net soos daardie wonderlike uitspraak van die vinger wat so diep opgeskuif sal word dat selfs die Snydokter van Stalin­grad dit nie sal kan vind nie . . .

Ek het hierdie novella oor ’n foon voorgelees aan ’n vriend in Pretoria wat met my saamgestem het dat dit ’n oneerbiedige, briljante roman is.

Die voorblad – die sogenaamde parateks in Genette se terme – het ’n papegaai (na-aper, naprater?), met die aaptwakkies bo die lieflike bont voël. Tussen die titel en die lieflike papegaai – gebaseer op ’n foto – staan daar “ ’n rowwe roman”, met ’n duidelike waarskuwing dus dat jy hier die aweregse arena gaan betree.

In die kolofon word die ongekroonde gemeente van die aweregse en die transgressiewe vermeld: Uittreksels uit lirieke van Die Antwoord . . .

En Die Antwoord gaan natuurlik uit hul pad om die Afrikaner as “benede peil” voor te stel. Soveel so dat Amerikaanse joernaliste selfs by Afrikaanse kritici wil weet hoe lyk die moderne Afrikaner dan. Representeer Ninja en Yo-Landi “ons”? Hoeveel onse is daar in jou pond? Hoeveel Vi$$ers? Hoe lyk zef dan regtig?

Engelbrecht se verhaal handel oor ’n vermiste Afrikaanse sanger. Malletjie en Rocky is twee speurende helde. Boonop is die einde van die wêreld in sig. In hierdie dae waar Steve Hofmeyr se lewe bedreig word deur doodsdreigemente loop hierdie roman fiksie vooruit. En die oordrewe bemarking van die speurverhaal word ook gesatiriseer.

Dit is Engelbrecht-vintage.

Oubaas en Hilda heet die twee honde. Trouens, ’n taalkundestudent sal ’n hele dissertasie kan skryf oor die naamgewing in hierdie roman: Maggie Laubserstraat, Anton van Wouwstraat en so meer.

Daar is ’n gespot met new age-sieninge en op bladsy 158 word die mees absurde titels naas mekaar gestel. ’n Satiriese klap na moderne skrywers wat so ewe slim-slim vir hul lesers wenke in die teks gee na die sleutels om die boek “reg” te verstaan. Hier staan Potjiekos van Matie Brink nie om dowe neute nie. En dis presies wat hierdie roman doen. Die grappe is opgesluit in die vreemde mengsels.

 Joan Hambidge is ’n digter, akademikus aan die Universiteit van Kaapstad en kritikus.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.