Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Waar Boosheid Broei’-resensie: Meesterverteller mag maar

Fiksie

Waar Boosheid Broei

Peet Venter

Lapa

E-boek: Leserskring-klubprys: R168.30; R187 vir nie-lede

Sagteband: R180

Ek het agter in ’n bus sonder skokbrekers op gehawende paaie aan dié boek gesit en lees. Ek moes verwoed klou, maar ek wou aanhou lees.

Peet Venter het die donker kant van ’n speurverhaal en die anti-held vervolmaak. Sy held “maak mense dood”.

Lesers wat bloot ontvlugting soek, sal dalk terugdeins vir die sielkundige spanning in Venter se Afrikaanse misdaadroman. Staccato-sinne versnel die tempo waarteen die web van intrige blad vir blad momentum opbou.

Venter is ’n meesterlike verteller. Hy loop nie jakkalsdraaie nie, hy vertel ’n ding soos dit is.

’n Gestroopte gedagtestroom-agtige vertelling uit verskeie perspektiewe laat die leser self die stukkies van die legkaart aanmekaar sit. 

Die oudspeurder Thys Krige is die spil waarom Waar Boosheid Broei draai. Dié karakter se soeke na die waarheid vorm deel van ’n reeks boeke uit Venter se pen –

Dieper as die Bloed was eerste en daarna: Ou Bloed .  

Krige is ’n ruwe diamant. ’n Hardekoejawel met ’n innemende geaardheid. Sy menslikheid – feilbaarheid – tree sterk na vore in Waar Boosheid Broei,  die derde Thys Krige-roman (die vierde se titel is Plasenta – lees die resensie ​hier).

■ Klik hier om vir die Leserskring-welkomaanbod vir Plasenta (R92.50) in aanmerking te kom.

Henk Human, ’n vryskutjoernalis, is ’n skadu van die mens wat hy eens was. Snags skreeu hy homself wakker. Iets het in Zimbabwe gebeur en hy is in hegtenis geneem en is intussen uit die tronk vrygelaat. Sy broer stel Krige as ondersoeker aan om uit te vind wat gebeur het. In sy soeke na dié geheime kom hy af op ’n video wat dui op Afrikanerbetrokkenheid by ’n menseslagting in dié buurland. Krige krap ’n miernes van korrupsie, spioenasie en boosheid oop.

Hierbenewens is die lewe van Krige se minnares, Robyn Arendse, ’n ondersoekende joernalis, ook in gevaar nadat sy ’n reeks artikels oor kindersmokkelary geskryf het. Die storielyne raak baie realisties ineengestrengel en bind die verhaal tot ’n hegte literêre eenheid.

Die Thys Krige-karakter herinner aan ander fiktiewe karakters soos Deon Meyer se kapt. Bennie Griessel en Karin Brynard se kapt. Albertus Beeslaar wat ’n reeks speurrillers saamsnoer. 

Krige se wroeging oor die etiek van doodmaak en sy reaksie daarop is deurgaans teenwoordig en dié tema sluit by Human se soortgelyke selfondersoek aan.

Krige stoei met die feit dat hy nie werklik wroeg oor die feit dat hy mense doodmaak nie – hy maak weliswaar net “die regte mense” dood – en om sy eie lewe te beskerm. Hy is nie ’n Robin Hood-moordenaar nie, hy is ’n “geregtenaar”. Hoewel hy onortodokse metodes gebruik om sake op te los, bly hy iemand wat ag slaan op moraliteit, etiek en reëls. Dit is moeilik om nie by die stil “geregtenaar” aanklank te vind of hom minstens goedgesind te wees nie.

Introspeksie van Krige, Arendse en Human dra baie by tot die spanning van die roman. Arendse is onseker oor Krige se rol in haar lewe, en Human worstel met wat hy in die verlede gedoen het, ook aan vroue.

Die sterk sekondêre karakters gee die boek ’n karaktergedrewe kwaliteit en diepte wat bykans ongehoord is in ’n genreroman.

Peet Venter mag maar misdaadromans skryf.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.