Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
FIKSIE
Woord vir woord hou jy op asemhaal
Baie selde nog was daar in Afrikaans ’n debuut soos hierdie. ’n Toekomstige meester het sy eerste buiging op die verhoog van die letterkunde kom maak, skryf Cas van Rensburg.
Francois Smith tydens ’n onderhoud met Murray La Vita. Foto: Liza van Deventer
Fiksie, Kamphoer, Francois Smith, TAFELBERG, R220

Dit is met die spreekwoordelike Bybelse angs en bewing dat ’n mens ’n resensie van hierdie roman aandurf.

Gebaseer op ’n ware verhaal, kondig die uitgewers braaf op die voorblad aan, maar 99,8% van hierdie verhaal vloei uit die verbeelding van die skrywer, en selde, baie selde nog was daar in Afrikaans ’n debuut soos hierdie.

Weliswaar is daar drifsels van die ware verhaal, maar onder lê ’n diep kuil, amper so diep soos Crazywell Pool in Engeland waaroor in die boek geskryf word – ’n kuil so onpeilbaar diep dat dit volgens oorlewering skuiling vir hekse bied.

Die ware verhaal is eenvoudig: ’n Bywonersdogter, Susan Nell, beland in die Anglo-Boereoorlog in die Winburgse konsentrasiekamp waar haar moeder en broertjie sterf. Sy word deur twee Tommies verkrag en vir dood gelaat. Sy val egter van die lykswa af wat die lyke na die lykstent bring en word versorg deur ’n Sotho-geneesheer, ­Tsiisetso, en sy vroulike metgesel, Mamello. Sy beland uiteindelik in Nederland waar sy ’n psigiatriese verpleegster word. In die Eerste Wêreldoorlog gaan werk sy in Engeland in ’n hospitaal vir soldate wat aan bomskok ly. Daar kom sy ná 16 jaar een van haar verkragters teë.

Die leser val egter terstond in dieper waters as net die oppervlakkige weergee van gebeure. Francois Smith kry die onmoontlike reg. Hy dompel jou in die gemoed van ’n getraumatiseerde dog sterk vrou – om saam te swem tussen flertse gedagtes, beelde, herinneringe, onderdrukte pyn en skuldgevoelens.

Dit is inderdaad asof ’n mens deur water boontoe kyk. In die trein op pad na die hospitaal sien sy die groen en bruin landskap van Devon soos “waterverfkleure wat vervloei en aftraan teen die ruit . . . en dit is asof haar gedagtes steeds in die diep koue water versonke is”.

Na buite is sy iemand wat “tuis voel in die saakliker sosiale omgang”. Sy is ’n introvert wat geen gevoelens wys nie en eintlik vervreem is van haar emosies. Sy het Winburg agtergelaat, of onderdruk, ’n term waarmee sy later as aanhanger van Freud bekend sou word.

Vroeg al in die boek, in ’n gesprek met haar hoof in die hospitaal, dring die gedagte tot haar deur: “Jy is nie jou oorlog nie.” Sy dink dat sy dit nog nooit vir haarself gesê het nie, hoewel sy haar hele lewe besig is met háár oorlog. Met verwerking, met afhandeling, met afsluiting. Dit lei ’n mens se gedagtes onwillekeurig na die toneel in Marguerite Duras se Hiroshima mon amour waar die twee minnaars hul ­onderskeie oorlogstraumas in mekaar herken en sê “Jy is ­Nevers” en “Jy is Hirosjima”.

Susan Nell dra swaar aan skuldgevoelens vir iets waarvoor sy nie verantwoordelik was nie: die oorlog, die dood van haar ouers en broer en die verkragting.

Die hele verhaal word gedra deur kragtige en beeldryke prosa soos wat ’n mens selde in Afrikaans vind. Trouens, jy word gedwing om woord vir woord te lees en dit laat jou soms letterlik asemloos. Die langste sin wat ek nog teëgekom het, was in ’n boek deur Hemingway, maar Smith skryf op een plek ’n sin van 13 reëls wat voorstu en jou lig en lig, meevoer tot by die punt – en jy besef jy het opgehou asemhaal.

Maar veral sy brokkies beelde wat as ’t ware verbyflits, oorbluf ’n mens. Dit skep weer daardie sensasie dat ’n mens van onder af deur water kyk. Die beskrywing van vroue in hul glinsterende swart rokke en kappies wat ’n “vlei vul”, die werpsel tente op die godsverlate vlakte, die lansiers op hul perde met blink lanse en die man wat verskrik teen die miershoop skuil, die dans met Tsiisetso en Mamello: “Sj-sj-sj, dans ons, djerre-djerre-djerre . . .”

Die aangrypendste beskrywing is egter dié wanneer Susan Nell vir die eerste keer weer haar verkragter sien: kol. H.A. Hamilton-Peake.

Hy lê in ’n donker kamer met sy gesig na die venster gedraai, sy oor ’n donker flap aan sy kop. “As daar lig was, dink sy, sou sy oor rosig deurstraal en fyn beaard teen die helderte uitstaan, dalk effens skilferend aan die rand van die skulp se vleuel­agtige kurwe.” Dan kyk sy na sy arm wat effens geknak lê met die hand wat oor die heup hang. Die arm wat uitsteek, “is dunner as wat sy onthou”.

By die lees van die sowat drie paragrawe is ’n mens amper geskok oor die neutraliteit van die beskrywing. Dis amper of jy na ’n skildery kyk. En juis daar het Smith homself oortref. Pleks van stuwende emosies skets hy ’n stilte in ’n baie dun glas wat maklik kan breek.

Maar dan kom die tour de ­force. Susan praat haar hoof om om kol. Hamilton-Peake as deel van sy behandeling in die syspan van ’n motorfiets op ’n rit te neem. Hy is ’n wrak met rollende oë wat nouliks kan loop of praat – “ ’n stuiptrekkende geraamte”. Die beskrywing van die rit hou ’n mens vasgevang, maar dit is die laaste deel wat jou tot in jou binneste ruk.

Smith se vermoë om hierdie vrou deur woorde in jou te laat leef, is verstommend. Dit voer jou so mee dat jy jou volkome met haar vereenselwig en jou leeservaring word ’n emosionele belewenis.

Op 70 keer Susan Nell terug na Winburg waar haar ma en boetie begrawe lê, en haar graf ook is – en dit is deel van die ware verhaal. In Smith se vertelling loop sy deur die verwaarloosde grafte en uiteindelik is daar ’n sprankie emosie; dog weer eens neutraal: “Hier is ek dood, hier langs hierdie vullishoop, tussen hierdie steekgras en hierdie skarrelende miertjies so klein, so klein dat jy hulle skaars kan raaksien, so klein.”

’n Toekomstige meester het sy eerste buiging op die verhoog van die Afrikaanse letterkunde kom maak. Ten slotte net dié kritiek: die prosa is inderdaad baie opwindend, maar miskien partykeer nog te selfbewus mooi. – Cas van Rensburg is ’n skrywer van Onrusrivier.

Kliek hier om die boek te koop.

Lees ook Murray La Vita se onderhoud met Francois Smith. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.