Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Woudfontein’: ‘Spanningsroman’ lei lekker om bos
Sit agteroor vir ’n vrek plesierige satire wat die draak steek met die spanningsgenre sonder om karakters en intrige in te boet, skryf JB Roux.

Woudfontein deur Hannes Haasbroek

Uitgewer: Umuzi

Prys: R180

Hannes Haasbroek het, volgens die flapteks van sy debuutroman, onder meer tydskrifverhale en ’n biografie oor Bram Fischer, ’n Seun soos Bram (2011), gepubliseer. In Woudfontein: ’n spanningsverhaal, maak luitenant Roelf Bester moles en word vir sy moeite beloon deur tot kaptein bevorder en na ’n piepklein polisiestasie op die piepklein dorpie Woudfontein, buite Knysna, gestuur te word.

Hy word deur die pittige konstabel Woody Forrest en die bekkige Fien Le­patle bygestaan en maak kennis met Veronica, met wie hy meer as vriende sou wou wees. Wat bronstigheid betref, hoef Roelf nie vir ander helde in dié genre terug te staan nie. Wat maak dit tog saak dat haar ma ’n selferkende alkoholis is?

’n Kliniek vir geestesversteurdes – om die een of ander rede genoem na Pik Botha – het onlangs naby Woudfontein geopen. Tron Marais, Roelf se nemesis, is in dié kliniek opgeneem. Marais is ’n moorddadige psigopaat en hy het sy mes in vir die jong polisieman omdat hy (Roelf) die onaangename gewoonte het om Marais met ’n almagtige vuishou plat te slaan. Dié vyandigheid is wedersyds: Roelf hou selfs minder van Marais nadat dié gesorg het dat Roelf na ’n gehuggie gepos word.

’n Russiese femme fatale, ’n bliksem met ’n masjiengeweer, is versot op Marais en moet hom help ontsnap. Dié spulletjie word deur ’n eksentrieke sekte met ’n eksentrieke pastoor, ’n Knysna-olifant, ’n tantetjie wat booswigte met ’n enorme pistool platskiet, twee houtkappers uit ’n vergange era, ’n ontsnapte luislang en ’n drankverslaafde psigiater aangevul.

Lesers kan nie verkwalik word as hulle, nadat hulle met die karakters en agtergrond van die verhaal kennis gemaak het, agteroor sit om ’n vrek lekker storie te geniet nie.

’n Storie – of ’n sirkus?

Haasbroek se tong is diep in sy kies: Woudfontein is eerder ’n draakstekery met spanningsromans as ’n spanningsroman op sigself. Die karakters, agtergrond en intrige smeek om nie ernstig opgeneem te word nie, maar die verhaal is oortuigend genoeg (vir ’n satire).

Die intrige is boeiend, maar die redigering is nie goed genoeg nie, met flaters soos “die geritsel van koppies en pierings” (bl. 17) en “yster valdeure” (bl. 160) moet “staaldeure” wees. Dit pla ook dat die skrywer amper elke karakter en ding (soos ’n houtkappersmes, die pastoor se motorfiets en daardie einste tantetjie met die “kanon” in haar handsak) by die laaste hoofstuk indruk om dit funksioneel te maak: dié geskarrel voel geforseerd.

Al is daar tekortkominge, voel die lees van Woudfontein nie soos tydmors nie en die meeste boeklesers wat ’n stórie wil hê, gaan hulle nie aan teksfoute steur nie. Dis wel jammer dat die ietwat kleurlose voorblad nie die trant van die verhaal weerspieël nie.

’n Mens hóú van die karakters. Ondanks die kwinkslae en kaskenades is hulle méér as hansworse. Dis geen grap vir ’n skrywer om snaaks te wees en terselfdertyd geloofwaardige karakters te skep nie.

Daar is te min humor in die onlangse Afrikaanse literatuur en dié boek is groot sports. Beginner-romansiers van Haasbroek se formaat verdien erkenning.

 JB Roux is ’n vryskutjoernalis.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.