Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Aangrypendste ‘doodsboek’ verdien luide lofsange ...

Hopelik land ’n eksemplaar van ‘Wreed én mooi is die dood’ in elke Afrikaanse huis en skool, want nie   een van dié meer as 30 ‘goue’ bydraes wat lig op  die donker kant van die lewe werp, verdien silwer  of brons nie, skryf Herman Lategan.

Wreed én mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling saamgestel deur Tobie Wiese. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

Hierdie werk is ’n broodnodige boek vir elke huishouding, een wat jou sag gaan streel, maar ook hard deur die gesig gaan klap.

Wreed én mooi is die dood is sonder sentimentaliteit, godsdienstige dwepery of belaglike goedbedoelde wenke. Praktiese raad is daar wel, asook sober verwysings na religie, roerende essays oor sterfte en selfs smaakvolle humor.

Die eerste verhaal, “My lief”, deur Karin Brynard (wat op 5 Mei volledig in Rapport verskyn het), is van die roerendste odes aan ’n afgestorwe man wat ek tot nog toe gelees het.

Stilisties is dit ook van so ’n hoë standaard dat dit vergelyk kan word met die literêre stukke wat in The New Yorker verskyn. By die lewelose liggaam van haar man, Rien van Gils, staan die skrywer en dink: “Jou voete. God, hoe lief het ek jou lelike oumansvoete. Naels horingagtig, een toontjie krom, selfs in die dood.”

“Ek wou van jongs af die vervreemding van die dood oorbrug,” sê hy. “Nou is ons nie meer vreemd vir mekaar nie.”
Tobie Wiese

Die kruieghoeroe Antoinette Pienaar vertel van oom Johannes se seun, Theuns, wat 30 jaar later uit die Kaap terugkom om by sy pa in die Karoo te sterf. “Die Dood het saam met hom in die motor by ons hek ingekom en saam met hom afgeklim op ons werf,” skryf sy.

Terwyl sy seun sterf, het die oom hom vasgehou teen sy bors totdat hy dood is. “Teen twee-uur die middag het die honde begin sing, soos wolwe wat sing vir die maan.”

Dit herinner dié resensent aan W.E.G. Louw se gedig “Ek sal opstaan”: “Ek sal opstaan en na my vader gaan / opstaan uit my vodde en my vuil / opstaan en onder die volle maan / wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil / aan sy breë skouer, en hóm saggies vra / om alles te vergeet, en te vergewe.”

Die rubriekskrywer Wilhelm Jordaan is ’n afgetrede akademikus in die sielkunde wat ragfyn bepeinsings oor die einde skryf, soos om die dood te omhels, te vrees, te vermy en te aanvaar.

Omdat daar meer as 30 bydraes in die boek opgeneem is, is dit onmoontlik om hier oor elkeen te skryf. Buitendien is élke stuk soos goud – hier is nie sprake van oneweredige bydraes wat eerder silwer of brons verdien nie.

Tog wil ek momenteel by sommige stilstaan. Marita van der Vyver skryf met groot sielesmart en sagmoedigheid oor die dood van haar baba, Ian Bishop: “Op 'n winderige herfsdag in 1990 het ek wat oorbly van my seuntjie op my palm gevoel, ’n hopie growwe as styf in my vuis toegeknyp. Ek moes my vuis soos ’n blom laat oopvou sodat die wind die as oor die see kon waai.”

Dana Snyman skryf oor Hennietjie Louw, skaars drie maande oud, se begrafnis, waar hy as kind saam met drie ander seuns die kis in die begraafplaas moes dra. Hy onthou: “Die kissie was lig, asof daar niemand in is nie, en daar wás niemand in nie, want Hennietjie was nou een van Liewe Jesus se engeltjies.”

In die hoofstuk “Om die dood in die oë te kyk” is daar ’n vars, jong stem in Afrikaans, Merwe Wiese, wat, hoewel hy ’n paramedikus is, met die helder derde oog van ’n skrywer na die wêreld kyk. Hy leef sy passie uit: om mense se lewens te red.

Wiese skryf onderhoudend oor die lewe van iemand wat gereeld die eerste op die toneel van ’n ongeluk is. “Ek wou van jongs af die vervreemding van die dood oorbrug,” sê hy. “Nou is ons nie meer vreemd vir mekaar nie.”

Die joernalis-skrywer Valda Jansen vertel oor haar kankerdiagnose. “Ek het nog nooit omgegee om soms alleen te wees nie, maar hierdie was die eensaamste pad. Vir baie mense, onder wie ook familie en vriende, wás ek reeds dood. En dis goed so. Dit was dalk nodig dat dit so gebeur het.”

Die ouduitgewer Kerneels Breytenbach en die joernaliste Heindrich Wyngaard en Jo-Ann Floris skryf ook oor verlies en hunkering. Die psigoanalitiese pastor dr. Kobus Anthonissen neem die leser deur verskillende stadia van die rouproses en bespreek die gevoelens wat by ’n mens opkom, soos verlange, skuld, wanhoop, genesing, ’n nuwe identiteit en ten laaste ’n groter openheid tot die medemens.

Dr. Cas Wepener, akademikus en skrywer, verduidelik meer oor die krag van rituele, soos die Christelike viering van die dood, die rituele landskap in die Afrikaanse gemeenskap en die anatomie van oorgangsrituele.

Prof. Willem Landman se hoofstuk, “Karel Schoeman: Sy laaste dae en wense”, is navrant. Klokhelder verhelder hy die ondergrondse katakombes van Schoeman se hart, tot daar waar die groter blou lug is.

Die wetenskapsjoernalis George Claassen skryf ’n heerlike, soliede stuk waarin hy met homself ietwat die draak steek. Dit is briljant. Hy eindig: “Waar ek ook al lê, sal my sagte weefsel ontbind totdat net my skelet oorbly – maar dié sal ook mettertyd vergaan en die organismes voed wat ná my kom. So hoop ek om my geringe rol in die siklus van die lewe en dood te speel.”

Dié boek van 260 bladsye is in tien hoofstukke verdeel wat wissel van “Begeleiding op die laaste lewensreis”, “Raad vir rou en heling” en “Die dood en wat daarna gebeur” tot, teen die einde, “Terug tot stof”.

Die bundel is knap saamgestel deur die oudjoernalis Tobie Wiese en is waarskynlik van die aangrypendste boeke oor hierdie onderwerp in Afrikaans. Hy en sy medewerkers verdien luide lofsange, want hulle het dit reggekry om die lig te laat skyn op die donker kant van die lewe. Dit kan gerus vir skole voorgeskryf word.

Die boek sluit af met ’n uittreksel uit Ingrid Winterbach se Hertzogprys-roman Die aanspraak van lewende wesens. In dié skryf sy oor ’n vrou wat ’n dodehuis besoek en na van die liggame gaan kyk. Sy wou nie aan hulle raak nie.

“Ek was ook bang vir die taboe van besmetting,” sê sy. “Net die kind. Ek het die agterkant van my hand ’n oomblik teen haar wang laat rus. Die vlees daarvan was koud, dit het nie meegegee nie.”

In hierdie bundel sal ook niks meegee nie . . . by tye dalk jou hart, ja, maar jy sal sterker, ryper, ingelig en ten minste ietwat paraat anderkant uitkom. Want ook jóú tyd sál kom.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis en rubriekskrywer van Groenpunt, Kaapstad.
Meer oor:  Tobie Wiese  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.