Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
ABO-trauma trek drie verhaallyne slim byeen

Talle Britte leef steeds in ontkenning oor hul gruwelrol in die Anglo-Boereoorlog (ABO), maar in ‘You Will Be Safe Here’ slaag die Brit Damian Barr daarin om dié deel van ons gedeelde geskiedenis met die nodige sensitiwiteit te ondersoek, skryf  Herman Lategan.

You Will Be Safe Here  deur Damian Barr. Uitgewer: Bloomsbury. Prys: R295.

Dit is die jaar 1901 in die ou Oranje-Vrystaat. Sarah van der Watt en haar sesjarige seun, Fred, wag op die onafwendbare: die Engelse, die afbrand van hul plaashuis en dan die konsentrasiekamp. Haar man is weg op kommando om teen die Engelse te veg.

In die vorm van ’n dagboek skryf sy op Dinsdag 1 Januarie net ná ontbyt: “We know they are coming. We’ve watched the smoke rise for two weeks now knowing they will soon be at our gates . . . day by day, farm by farm, the English draw closer.”

Dit is die eerste van drie verhale met ’n gedeelde onderliggende tema van onderdrukking wat veelvlakkig en oor geslagte onbewustelik herhaal word. Ander temas wat verken word, sluit in die patriargie, onreg teen vroue en kinders en diskriminasie teen mans wat nie in ’n macho- raamwerk pas nie.

Dat ’n Britse skrywer so sensitief oor hierdie deel van ons gedeelde geskiedenis kan skryf, is merkwaardig.

Die eerste afdeling is sekerlik van die mees poëtiese stukke oor wat onder sulke ongenaakbare omstandighede (soos die Anglo-Boereoorlog) in ’n vrou se gedagtes aangaan. Daar is plek-plek raakpunte met Francois Smith se roerende roman Kamphoer (2014).

Dat ’n Britse skrywer so sensitief oor hierdie deel van ons gedeelde geskiedenis kan skryf, is merkwaardig, veral omdat daar baie Britte is wat nog in ontkenning leef oor hul gruwelike rol in die ABO.

Barr kry dit reg om jou deur die hekke van die plaas te neem reg tot daar waar Sarah haar dagboek skryf. Hy neem jou oor die werf. Jy voel die onheil nader kom. Is dit perde wat jy hoor? Het ’n deur geklap?

“Soon,” skryf sy, “everything we’ve built in our ten years here will be gone.” En sy is reg: Die ergste gebeur en God draai sy gesig weg en kug verleë.

“They came at dawn,” teken sy aan. Sy bevind haar met haar kind op ’n trein. Daar is geen vensters nie. Ook nie kos of water nie.

Op Donderdag 10 Januarie skryf sy vanuit die kamp in Bloemfontein daar is sewe in hul tent. “Our tent,” skryf sy “is like the lung of an ailing sheep.” Die nagte is koud, net soos die dae warm is.

Damian Barr

Die reuk van siekte, ontlasting en die dood kleef aan alles. Iewers huil iemand. ’n Hoes weergalm. Elke keer as iemand sterf – en dis gereeld – blaas ’n fluitjie. Die res van hierdie hoofstuk wieg en pols van verdriet en verlange. Verdriet omdat sy nie weet of haar seun gaan oorleef nie. Verlange na haar man en die onsekerheid of hulle ooit weer saam sal wees.

Die lewe soos sy en al die ander vroue en kinders dit geken het, is verby. Hierdie deel van die boek het filmiese eienskappe wat die leser ook binne die gevoelswêreld van Sarah neem. Dit het die potensiaal om uitgebrei en ’n roman op sy eie te word.

Die toonaard verander wanneer die roman tot 1976 verskuif. Dit voel ligter, maar moenie hierdeur geflous word nie. As ’n muskiet op jou sit, voel jy dit skaars totdat die suigslurp jou vel deurboor. Hier ontmoet ons vir Rayna, ’n karakter wat nogal goed in Marlene van Niekerk se Triomf sou pas. Sy is ietwat zef, maar haar hart is hertzoggies. Sy word op 16 swanger toe sy verkrag word. Haar dogter, Irma, word óók vroeg verwagtend met Willem, wie se pa meestal afwesig is.

Albei vroue is aan die ontvangkant van mans wat hulle gebruik en die mans se woede en onvermoë om sinvol hul onopgeloste emosionele bagasie uit te pak en te ontleed. ’n Mens wil nie veralgemeen nie, maar in Suid-Afrika klink dit nogal na ’n bekende argetipe.

Willem, Irma se jong seun, word helaas van vroeg af by die skool getart en geboelie omdat hy nie in ’n hipermanlike boks pas nie. Hy word ’n moffie genoem omdat hy nie van sport hou nie en graag dans. Wat sake vererger, is sy ma wat verlief raak op ’n militante, rassistiese veiligheidswag, ene Jan, met ’n voorliefde vir gewere en die ou weermag.

In die derde deel van You Will Be Safe Here ruk sake handuit. Die adolessente Willem is ’n teleurstelling vir Jan, wat voorstel hy moet na ’n paramilitêre kamp gaan waar hulle van hom ’n regte man kan maak.

Sy ma het min beheer oor hierdie besluit, iets wat haar later groot smart besorg. Die man wat die kamp bestuur, is duidelik bossies en ’n sosiopaat. Willem word erg mishandel deur dié man, wie se bynaam Generaal is.

Teen die einde sal dit vir die oplettende leser duidelik wees hoe die drie dele inmekaar steek en watter voortdurende invloed die trauma van die Driejarige Oorlog op die psige van ons land het.

Hierdie roman word onderskryf deur die gerekende letterkundige Diana Athill, wat onlangs op 101-jarige ouderdom oorlede is. Sy was by tye die teksredakteur van skrywers soos Philip Roth, Norman Mailer, John Updike, Simone de Beauvoir, V.S. Nai­paul en Jack Kerouac.

Wees gewaarsku: Moenie deur die titel van die boek om die bos gelei word nie. Dit is ’n growwe leuen.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis en rubriekskrywer van Groenpunt.
  • Lees ook Herman Lategan se onderhoud met die skrywer.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.