Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Adrenalienfix’ in die sakkie

Misdaadfiksie

The Fine Art of Invisible Detection

Robert Goddard

BANTAM PRESS, R320

Met die eerste oogopslag lyk Robert­ Goddard se jongste misdaadfiksie soos ’n wafferse knus-krimi – helderoranje, wit en swart, grafiese silhoeëtte en ’n spitsvondige titel.

Moet hom wel nie op sy baadjie takseer nie. Die inhoud is veel donkerder as wat die stofomslag voorgee.

Hoewel Goddard afwyk van historiese misdaadfiksie, kan lesers steeds sy kenmerkend komplekse storielyne verwag. Hier is meer onvoorspelbare kinkels en draaie as in die Bainskloof-pas. Met ’n legio van karakters en twee oorvleuelende storielyne kan jy maklik die pad byster­ raak as jy nie kophou nie.

Die dodetal styg en daar is genoeg aksietonele om selfs skop-skiet-en-donder-vrate tevrede te hou.

Vir praktiese doeleindes kom ons hou by die twee hoofkarakters – Umiko Wada en Nick Miller. Wada is die onsigbare, gesiglose, middeljarige vrou van die titel­ en omslag. Haar man was ’n slagoffer van die ondergrondse Tokio-gasaanvalle en sedertdien is sy ’n administratiewe­ assistent van die Kodaka-speuragentskap.

Soms vra Kodaka haar om iemand te agtervolg omdat ’n vrou selde verdag lyk en Wada tog so onopvallend is. Om dié rede reis sy namens ’n kliënt na Londen om Martin Caldwell te ontmoet. Hoewel sy nog nooit Japan verlaat het nie en doodtevrede is met haar voorspelbare roetine, stem sy in.

Miller het ook ’n afspraak met Caldwell om meer oor sy afwesige pa te wete te kom. Wanneer Caldwell nie opdaag vir een van die twee afsprake nie, kry Miller en Wada snuf in die neus. Intussen sterf Kodaka in ’n tref-en-trap-ongeluk en Wada vermoed dat ’n berugte Japanse misdaadbaas verantwoordelik is.

Oor die volgende 300 bladsye reis Wada en Miller tot in Ysland om Caldwell op te spoor en die kraaines van onopgeloste vrae uit te pluis. Die dodetal styg en daar is genoeg aksietonele om selfs skop-skiet-en-donder-vrate tevrede te hou. Ten spyte van ’n identiese reisplan en dramatiese grand finale op ’n strand in Cornwall kom Wada en Miller mekaar nooit teë nie.

Dis duidelik dat Goddard met The Fine Art of Invisible Detection besluit het om ’n nuwe rigting in te slaan. Net soos die omslag is die resultaat ’n dissonansie tussen verwagting en werklikheid. ’n Voorval soos die Aum Sjinrikio-kultus se gasaanvalle in Tokio-treinstasies in 1995 is onlosmaaklik deel van die Japanse psige. Die aanvanklike vermelding daarvan word wel verder deurgevoer, maar dit voel soos ’n gerieflik kulturele verwysing eerder as ’n geloofwaardige deel van die storielyn.

The Fine Art of Invisible Detection is ’n plesierrit vir die avontuurlustiges wat misdaadfiksie nie te ernstig wil opneem nie, maar steeds die adrenalienfix soek.

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.