Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Afrikaanse filosofie: Taal en denke op die voorgrond
Pieter Duvenage

Kaapstad. – Afrikaanse filo­sofie se bydrae by hoofsaaklik Afrikaanse universiteite die afgelope 100 jaar word in ’n nuwe publikasie, Afrikaanse Filosofie: Perspektiewe en ­dialoë, ondersoek.

Die boek deur Pieter ­Duvenage, professor, hoof van die departement filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en ereprofessor in politieke filosofie aan die Universiteit van Cardiff, is “werklik ’n waardevolle kultuurhistoriese dokument en ’n enorme bydrae tot die intellektuele geskiedenis in Suid-Afrika” volgens die akademikus Desmond Painter. Dit wys, volgens die filosoof ­Johann Rossouw “nie net watter boeiende denkarbeid in die skadu van apartheid deur hierdie denkers in Afrikaans en ander tale verrig is nie, maar ook watter uitdagings die plaaslike ­konteks steeds stel”.

Ontwikkelingsgang in SA

Vir die boek het Duvenage verskeie hoofstukke geskryf en gesprekke met Afrikaanse denkers gevoer. “Die keuse van die agt gespreksgenote wat in die dekades van die 1920’s tot die 1950’s gebore is, naamlik Piet Dreyer, Bert Meyer, Johan Degenaar, André du Toit, Danie Strauss, Bert Olivier, Johan Snyman en Danie Goosen was nie ­kwalitatief nie,” het hy gesê.

“Hierdie boek soek nie na die beste Afrikaanse filosowe nie – hoewel sommige van die gespreksgenote onder diesulkes sou kon tel. Die uitgangspunt was eerder strategies in die opsig dat dit die ontwikkelingsgang van filosofie in die Afrikaanse histories-universitêre opset naspeur. Die ‘filosofiese’ kan nie net verskraal word tot die streng akademiese diskoers nie en die uitdaging is dan om Adam Small, Marthinus ­Versfeld en ander regmatig in gesprek te bring”.

Denke en konteks

Die gesprekke, wat van “streng en omvattend dink” (Van Wyk Louw) getuig, bevat ook anekdotiese inligting. Wat konteks betref, het hy sy ­ge­spreks­genote oor hul lewens uitgevra: Waar kom hulle vandaan en watter gebeure, mentors, instellings en denkstrominge het hulle beïnvloed?

“Wat laasgenoemde betref, gaan dit vir my oor denktradisies en ‘konseptuele werktuie’ wat hulle gebruik het om die land en sy probleme aan meer universele kwessies te verbind – en weer terug te kaats na ons konteks.” Hy skryf dat “denke in die hede ’n verantwoordelikheid het teenoor die verlede om in die toekoms te kan voortbestaan” en dat “denke ook dank” is.

Samelewingsgesprek

Hy eien “ten minste ses ­sistematiese kwessies wat in die Afrikaanse filosofie opgeduik het wat tot vandag van groot betekenis vir ons same­lewingsgesprek en openbare ­lewe is”: In die eerste plek is daar die kwessie van die ­moderne wêreld, wat sterk verband hou met die snelle verstedeliking wat baie Afrikaanse mense sedert die begin van die 20ste eeu ondergaan het. Hierdie punt hang saam met die invloed van die mynbou-industriële kompleks op ons geskiedenis, soos Moeletsi Mbeki dit stel. Vervolgens is daar die kwessie van geloof en moderne wetenskap, ’n soort kernprobleem in Afrikaanse denke sedert die 1862-Sinode van die NG Kerk en een wat steeds met ons is. In die derde plek is daar, hopelik, die ­kreatiewe spanning tussen die partikuliere en die universele.

Dit het ook ’n politieke kant waar dit met diversiteit, pluralisme en ’n meer federale perspektief op die politiek te doen het. Vierdens is daar die kwessie van die verhouding tussen taal en denke. Sedert Herder in die 18de eeu aangevoer het dat taal ’n invloed op denke het, is dit op die filosofiese agenda. Die manier waarop jy in Afrikaans dink, is anders as in Engels, of enige ander taal, en dit moet gerespekteer word, sê hy.

“Dit impliseer nie taal-relativisme nie, dit is eerder ’n ­pleidooi vir meertaligheid en die wonderlike uit­daging om tussen tale te vertaal. Suid-Afrika is in dié opsig nie ’n Engelse land nie, maar ’n vertalende land.” In die vyfde plek is daar historiese trauma, met die Anglo-Boereoorlog en apartheid wat geen egte denke in Suid-Afrika kan systap nie, sê hy. In die laaste plek is daar die kwessie van kritiek. “Die debat oor betrokke en onbetrokke kritiek in ons ­letterkunde sedert die 1960’s het ook sy ekwivalent in ­Afrikaanse ­filosofie.”

Beskerm meertaligheid

Suid-Afrikaners besef nie die belangrikheid van die lokale oftewel kontekstuele vir ons denke hier nie, sê hy.

“Dit impliseer natuurlik taal. Enige denker begin sy loopbaan vanuit ’n partikuliere taal en kultuur en reik dan na die universele uit. Die idee dat ons ewe skielik dieselfde taal moet praat of dat Engels die enigste toegang tot denke en die universele is, is waansinnig. Kortom, in ’n land soos Suid-Afrika beteken dit ons moet tale en meertaligheid beskerm, veral op universiteitsvlak. Om tussen tale te kan beweeg en die groot uitdaging van vertaling en vertolking te aanvaar, is nie net vir my ’n Afrikaanse en Suid-Afrikaanse uitdaging nie, maar ook ’n kwessie van menswees en beskawing.”

  • Die uitgewer is SUN Press.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.