Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Afrikaanse roman in Turks vertaal
Martin Steyn met sy debuutroman, Donker spoor.

Jou oë rek van verbasing as jy sien ’n Afrikaanse roman word in Turks vertaal. Maar vat jy die spoor na dié skynbare onwerklikheid is die antwoord tog realisties.

Die Wes-Kaapse skrywer Martin Steyn vertel hy het sy debuutmanuskrip, Donker spoor, vele kere vir publikasie gestuur en dit net soveel keer met ’n afkeurbriefie teruggekry. Tot 2013 toe Lapa-uitgewers dit aanvaar het.

Twee jaar later is sy krimi met ’n ATKV-Woordveertjie vereer waarna Steyn se skrywersloopbaan spoed opgetel het.

Hy het Donker Spoor self in Engels vertaal sodat dit deur Catalyst Press as Dark Traces in die VSA uitgegee kon word. En toe kom die groot nuus: Dark Traces is met ’n Kirkusster vereer.

Izak de Vries, die bemarkingsbestuurder van Lapa-uitgewers, sê “dit is ’n enorme prestasie komende van ’n tydskrif wat sedert 1933 bekend is vir vlymskerp kritiek”.

Hier hou die goeie nuus nie op nie. Kirkus ken jaarliks ’n groot prys van $50 000 (sowat R700 000) toe waarvoor alle boeke wat ’n Kirkusster ontvang het, outomaties in aanmerking kom.

Die feit dat Donker Spoor in Engels gelees kan word, maak dit uiteraard toeganklik vir ’n internasionale mark. Dit beteken ook die boek kan op buitelandse boekmarkte voorgelê word, soos die London Book Fair en die reuse-Frankfurtmark.

Dark Traces het daar ’n Turkse uitgewer geprikkel en al wat nog nodig was, is vir Lapa se agent Catrine Wessels om die verkoop van die vertaalregte deur te voer.

Die verhaal

Donker Spoor gaan oor ’n hoërskoolmeisie se lyk wat buite Durbanville gevind word. Wanneer die patoloog sien die meisie is gehang, onthou sy ’n soortgelyke geval.

Die middeljarige inspekteur Jan Magson is alles behalwe lus vir ’n reeksmoorddossier, maar saam met inspekteur Colin Menck volg hy die spoor.

Die heeltyd is daar ook die donker spoor wat die kankerdood van Magson se vrou in hom agtergelaat het, sy stukkende verhouding met sy seun in Engeland en alleenaande saam met sy dienspistool.

Nog ’n meisie word in ’n veld gekry. Dan verdwyn nog twee meisies binne twee dae.

Boos en broos
Chanette Paul, Lapa se manuskripontwikkelaar, sê in haar opsomming: “Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ? manuskrip soos met hierdie een. Dis ? grusame verhaal waarin afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid – die goeie en die bose word op skitterende wyse teenoor mekaar gestel. In sy geheel is die manuskrip van internasionale gehalte.”

Paul het dié opmerking gemaak lank voordat Donker Spoor oorsee indruk gemaak het.

Sy sê ook: “Ek kan nie aan een speurkarakter dink wat my al ooit so ontroer het soos Mags nie. Ek hou veral daarvan dat hy nie die suiplap en rokjagter is wat al ’n cliché geword het nie. Die persoonlike demone wat hy beveg, is eg menslik en oorspronklik aangebied.”

Steyn het intussen nog twee krimi’s die lig laat sien, Skuldig en Swartval en in Oktober verskyn Losprys.

Skryfspoor

Stephen King se bonatuurlike en gruwelverhale was die inspirasie vir Steyn om te lees en skryf. Aanvanklik het hy in Engels geskryf en op universiteit eers na Afrikaans oorgeskakel.

Hy het sielkunde en kriminologie deur Unisa studeer, later ’n aanlyn skryfkursus gevolg en heelwat wyser geraak oor romans onder Wilna Adriaanse as studieleier.

Steyn sê in die tyd toe reeksmoorde veral in die Wes-Kaap op die voorgrond getree het, het hy al hoe meer in die polisieondersoeke belang gestel. Hy het baie tyd by spesialiste en die forensiese laboratorium deurgebring om die prosesse te verstaan.

De Vries glo dit is juis Steyn se kennis van en realistiese beskrywing van ondersoekwerk wat sy misdaadromans laat uittroon.

Meer oor:  Atkv  |  Lapa  |  Atkv-Woordveertjies  |  Martin Steyn  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.