Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Afrikaanse romansier se sonderlinge stem

Groen soos die hemel daarbo

Eben Venter

TAFELBERG, R260

Eben Venter Foto: Stephen Fourie

Eben Venter se jongste boek is ’n bietjie reisverhaal, ’n tikkie psigo-joernaal; dis tegelykertyd ’n bundel kortverhale én ’n episodiese roman, skryf Jean Meiring.

Hy kom met die sekelmaan. Of dalk nie.

Eben Venter, een van die rysigste seders in die Afrikaanse romankuns, se nuutste, lieflik benaamde boek, Groen soos die hemel daarbo, vertel greepsgewys die verhaal van Simon Avend, ’n uitgeweke Afrikaanse skrywer wat in Australië ’n boomskraap bestaan slyt.

Simon is gay. Hy worstel met die betekenis van sy seksualiteit, met sy lyflikheid en met sy verlede.

Hieroor beland hy op die welkom-matjie buite die gestileerde tuisspreekkamer van dr. Spiteri, ’n kopdokter wat besonder goed onderlê is in die gordellose lendene.

En sodoende kry die boek ook sy struktuur. In elke hoofstuk ontplooi een van Simon se skunnige avonture – telkens in ’n ander stad, soms in Australië, soms Suid-Afrika en tussendeur elders ter wêreld. Daarna word ’n optekening geliasseer van sy opvolgbesoek aan dr. Spiteri.

Maar uit die staanspoor is dr. Spiteri meer as net ’n slim verhaaltegniek. Voetjie vir voetjie tree sy ook as karakter na vore.

Daar roep dr. Spiteri veelal Michel Foucault die kamer binne, én Aristoteles en die breë Griekse ideëryk. As ambrosia bied sy vir Simon afrodisiakum en kairos aan.

Eersgenoemde flitse word meesal in die eerste persoon weergegee. In laasgenoemde is ’n alsiende derdepersoon-verteller aan die woord.

Hierdie patroon verleen gou aan die boek ’n ritme – soos ’n hart wat klop. Op elke erg persoonlike stuwing bloed volg afplatting en nabetragting.

Maar uit die staanspoor is dr. Spiteri meer as net ’n slim verhaaltegniek. Voetjie vir voetjie tree sy ook as karakter na vore. Die los drade van haar onbereikbare pasiënt word gaandeweg op verrassende wyse in die skering en inslag van haar eie lewe ingeweef.

Boonop is sy ’n ligweg satiriese verpersoonliking van die moderne stedelike Australiër wat knaend aan gefiltreerde water of kombucha-tee teug.

Hoewel dié boek dus nes Venter se My simpatie, Cerise (1999) vir die leser in Afrikaans ’n vreemde ánder wêreld oproep, ver weg van die bloed en stof van Afrika en Afrikaansheid, is dit eweneens in Afrika gewortel.

Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter.

Baie van Simon se seksuele en eksistensiële foltering is juis terug te lei na sy beginjare op ’n plaas in die Noordoos-Kaap. Die boek open immers met die onvergeetlike kamee van Simon se pa wat die prille seun so in die verbygaan na ’n toneel van veeteelt wys en opmerk: “Dis maar net dieselle as ons . . .”

Die pa roep Hendrik Douw Steenekamp, die vaderfiguur in Foxtrot van die vleiseters (1993), in herinnering.

Só is daar etlike ander, soms slim verskuilde verwysings na Venter se ander werke. Mario, die bruin jongman wat in Kaapstad as Simon se begeleier optree, sê op ’n kol, “Ek is lucky,” ’n skalkse buiging na die hoofkarakter in Santa Gamka (2009).

Maar dalk ironies – dalk nie – vir ’n optekening van die binnelewe van ’n gay man is die karakter wat Simon volkome in dwang het sy bejaarde moeder.

Sy reise terug vaderland toe is om háár te sien en te versorg. Ook lê sy ’n laaste wankelende besoek in Australië af.

Onwillekeurig dink die leser aan die opset in Marlene van Niekerk se Agaat (2006) en Mark Behr se Kings of the Water (2009), die ontheemde kind wat na sy ouerhuis terugkeer om self ouer en oppasser te word.

Dis in hierdie grepe oor Simon se ma dat dié boek op sy teerste en roerendste is.

Die moeder is heilig en almagtig, terselfdertyd onuitstaanbaar weens haar flitse kleinlikheid en kleinburgerlike rassisme.

Die toneel waar Simon in die binnehoffie van sy ma se aftreewoonstel op Jeffreysbaai vir haar en haar besoekende vriendinne moet braai, terwyl hulle binne sit en drink en rugby kyk, is ’n klein satiriese meesterstukkie, maar ook stem die maklik herkenbare groteskheid ’n mens droef en leeg.

So groen soos die hemel daarbo is Venter se mees gewaagde boek.

Dis ’n bietjie reisverhaal, ’n tikkie psigo-joernaal; dis tegelykertyd ’n bundel kortverhale én ’n episodiese roman. Daar is duidelik strepe outobiografie, en heelwat fiksionalisering.

Dis haas onmoontlik om te kategoriseer. Dis ’n bietjie reisverhaal, ’n tikkie psigo-joernaal; dis tegelykertyd ’n bundel kortverhale én ’n episodiese roman. Daar is duidelik strepe outobiografie, en heelwat fiksionalisering.

En deur dit als skemer die sonderlinge stem van ’n romansier wat enig is in Afrikaans.

Daardie stem praat ’n taal wat moeilik is om vas te pen. Dit is ontstemmend én verkwikkend.

Dit praat die Afrikaans van ’n digterlike wêreldburger, wat boertig van ’n toorts praat en dikwels die werkwoord vlie (sonder ’n afkappingsteken) gebruik.

Tuis het Simon ’n stoepkooi. Daar’s tooigoed en sierjuwele en kortemetters. Borsteheuwels stry teen ’n slungelkêrel. Daar’s sprake van ’n tregterding en spookbloekoms.

Hier en daar tree vreemde segswyses en elke dan en wan ’n nederlandisme verfrissend in gelid.

En deur die hele vertelling trek ’n rare sinestesie, wat reeds deur die titel gesuggereer word.

Of dit nou ’n klein dood is wat Simon beleef, die heffing wat ’n pil in die hand werk of een van die beproewinge van elke dag, daar is kleur in elke asemteug.

’n Palet van nagklubpers, ryppruim, ylblou, bleikgroen en stofswart – so wyd soos Venter se verbeelding.

Jean Meiring is ’n vryskut­resensent en regsgeleerde van Johannesburg.

Meer oor:  Eben Venter  |  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.