Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Afrikaners: 400 jaar in 300 bladsye

In sy verbasend toeganklike ‘Maverick Africans: The Shaping of the Afrikaners’ probeer die swaarkaliber-historikus Hermann Giliomee sy eie mense – en die kragte wat hulle oor byna 400 jaar gevorm het – aan almal ‘buite die laer’ verduidelik, skryf Bruce Clark.

John Vorster in September 1966 op die trappe van die parlement nadat hy verkies is as eerste minister ná die moord op HF Verwoerd. Foto: Getty Images

Maverick Africans: The Shaping of the Afrikaners deur Hermann Giliomee. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R350.

Ek het vol goeie bedoelings weggetrek met Maverick Africans: My plan was om elke bladsy dééglik te bestudeer en de laaste verwysing en voetnoot na te gaan soos dit opduik. Dan wou ek die boek ’n tweede keer lees, effe haastiger, amper soos ’n roman wat jy in die kooi kan kafdraf. Met só ’n “formele” en “informele” lees agter die rug kon ek dan as “buitestander buite die Afrikaner-laer” ’n resensie probeer skryf . . .

Maar teen die derde verwysing was ek totaal verdiep in Olive Schreiner se essay “The Boer Woman and the Modern Woman’s Question” uit die jaar 1890. Ek het vinnig agterin die boek geloer om ’n idee te kry oor hoeveel verwysings nog wag en ontdek dit beslaan ’n volle 32 blaaie – ruweg 20 verwysings per bladsy! – wat vér bo my vuurmaakplek is!

Hermann Giliomee is ’n uitmuntende en internasionaal gerekende akademikus: Sy kennis van die Suid-Afrikaanse politiek en sy lang lys bekroonde publikasies in dié verband is verstommend en onnadoenbaar omvangryk. Ek het gou besef dit gaan ’n onbegonne taak wees om Maverick Africans vanuit ’n “formele” perspektief te beoordeel. Daarom het ek wéér voor begin, maar dié slag al die verwysings geïgnoreer. ’n Wyse besluit.

Die onderwerp van die boek – ’n oënskynlike poging deur Giliomee om sy “eie mense” in Engels aan diegene “buite die laer” te verduidelik – is allermins beuselagtig: Dit dek ’n proses van byna 400 jaar wat die Afrikaner gevorm het.

‘Sommige Afrikaners het besef hulle sal na hul eie belange moet omsien.’

Vir my besonder interessant is die hipotese dat Afrikanervroue een van die vroeë en invloedrykste magte in hierdie verband was. Terwyl die Engelse reg vroue geklassifiseer het as net ’n trappie bo slawe, was hulle volgens die Romeins-Hollandse reg (soos dit in die Kaap toegepas is), min of meer mans se gelyke.

Hierdie gelykheid het eiendomsregte ingesluit wat daartoe gelei het dat vroue fisiek en emosioneel diep betrokke geraak het by die land. Hul gelykheid op opvoedkundige vlak was die vonk vir ’n soort sosiale selfvertroue, wat weer gelei het tot ’n sekere oneerbiedigheid, ’n verbetenheid en ’n gewilligheid om hulle vir ’n saak te beywer wat dikwels dié van die mans te bowe gegaan het. Toe die oorlog uitbreek, het Alfred Milner opgemerk die Boere se liefde vir hul grond en eiendom oortref selfs hul intense haat vir die Britte. Gedurende die oorlog was dit ook die vroue wat die vlam in die kwynende en ál moeër Boerekommando’s aan die gang gehou het. Of soos Maverick Africans dit stel: “It was the valour of the Bittereinders and, above all, the grim Afrikaner women to persevere until the bitter end that won the Boers universal respect as freedom fighters.”

Tog was die Boervroue maar net een van die kragte wat die Afrikaners help slyp en vorm het. Al die ander word ook in die boek bespreek – van wetgewing, kolonialisme, ras, slawerny, taal en die Nederduitse Gereformeerde Kerk tot eiendom, klimaat, reis, kos, landbou, ondertrouery en veel meer.

Dit is wonderlik om ’n geskiedenisboek te lees wat so ’n wydlopende veld dek. Trouens, dit is eintlik iets wat ons mekaar verskuldig is, en vir my was Maver­ick Africans ’n uitstekende plek om te begin.

Asof dit enigsins nodig was om my te herinner, het die boek benadruk dat niks eenvoudig is nie. In ons huidige emosioneel gelade tydvak is dit so maklik om alles in elementêre terme te beskou, in swart en wit, oorsaak en gevolg. Maar geskiedenisboeke wys telkens alles is ’n proses, en in ons geval ’n stadige een daarby.

Soos in die geskiedenisse van alle ontwikkelende lande is ons basiese tydeenheid nie minute nie, maar dekades. Gebeure is ’n reaksie op vroeëre gebeure. Die Boere se haat vir die Britte het nie oornag ontstaan nie. Die Boervroue het nie in ’n kits en met ’n vurige hart op die toneel verskyn nie. Die trek noordwaarts was nie ’n gier wat oornag posgevat het nie.

Giliomee skilder vier eeue in amper 300 bladsye. Om soveel saamvattende geskiedenis in te neem laat jou voel of jy na ’n tydsverloopvideo kyk: As jy dophou hoe water op ’n rots drup, is daar niks anders te sien as druppels water nie, maar as jy die proses oor 400 jaar dophou, merk jy gou dat verandering weliswaar geleidelik dog onafwendbaar is. Só was dit ook met die vormingsproses van die Afrikaners. Elke nou en dan het iets gebeur wat, as jy dit teen die stadige spoed van verandering beskou, ’n diepgaande uitwerking gehad het: Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het byvoorbeeld die magsewewig verander, terwyl die Jameson-inval bes moontlik ’n oorlog begin het.

Die onderwerp is so omvangryk dat ek as’t ware nog ’n boek sal moet skryf om sinvol op Giliomee se boek kommentaar te lewer. Deur slegs op ’n enkele deel te reageer kom daarop neer dat jy vele ander buite rekening laat, en dis tog een van die goed wat die geskiedenis ons hopelik leer: dat niks in isolasie gebeur nie. Lees dus eerder self Giliomee se boek – dis uitstekend.

Wanneer ’n mens die vormingsproses van Afrikaners oor vier eeue volg, kom jy naderhand by ’n punt waar jy vra: Wat nou? Wat is die finale vorm van die Afrikaner ná vier eeue van soveel eksterne magte en invloede?

Net die titel van die laaste hoofstuk, “The Broken Heart of Afrikaners”, was genoeg om my bewoë te maak. As jy glo Afrikaanse kultuur moet bewaar word, iets wat hand aan hand loop met die bewaring van Afrikaans, is Giliomee se feite en redenasie ontstellend.

Kom ons kyk na die feite: Nadat die Universiteit Stellenbosch (US) Afrikaans laat vaar het, is Potch nou die enigste Afrikaanse kampus wat oor is (uit altesame 37).

Oor die US – ’n instelling wat in 1918 sy deure geopen het met die spesifieke ideologiese doel om “the emblem of a particular, vigorous, growing life for Afrikaners” te word – draai Giliomee glad nie doekies om nie. Hy herhaal Van Wyk Louw se waarskuwing dat die “very existence of Afrikaner people was imperilled if a thousand people in strategic positions gave up on being Afrikaners and preserving Afrikaans as a medium of instruction”. Om dié punt tuis te bring skryf Giliomee die ANC-regering het ’n baie marginale rol in die verengelsing van die US gespeel en ook glad nie die soort druk uitgeoefen wat “enige universiteitsraad of -bestuur met ’n ruggraat” sou oordonder nie.

By die Woordfees
Die historikus Albert Grundlingh lei Dinsdag, 10 Maart, ’n gesprek met Giliomee oor Maverick Africans. Dit begin om 12:30 in die Boektent. Kaartjies kos R65 by Computicket of R85 by die deur.

Nogmaals sien ’n mens niks gebeur in isolasie nie. Iets veroorsaak altyd iets anders. Daar is stellig verskeie redes vir die inkorting van Afrikaans op Stellenbosch, maar die gevolge daarvan word gevoel deur ’n gemeenskap vir wie Stellenbosch ’n geleentheid gebied het om van hul reeds gemarginaliseerde lewe te ontsnap.

Dit word perfek opgesom wanneer Giliomee aanhaal uit ’n e-pos wat hy ontvang het van die oudjoernalis en uitgewer Joan Kruger wat betrokke is by remediërende leesklasse op Paternoster: “What has happened at Stellenbosch University is to me a case of high treason perpetrated against children of a rural community. Universities are there to serve communities.”

Vir ’n swaarkaliber-akademikus is Giliomee se skryfstyl verbasend toeganklik en lig. Nadat ek my rug gedraai het op die honderde verwysings, was Maverick Africans: The Shaping of the Afrikaners verbasend maklik om te lees.

Die woord “shaping” suggereer dat die volgende aflewering reeds geskryf word. Terwyl jy hier lees, word ’n Afrikaanse technikon in Centurion gebou, want Afrikaners – of eerder: sómmige Afrikaners – het besef hulle sal na hul eie belange moet omsien.

Dit maak ook nie soveel saak watter vorm die Afrikaner in die toekoms aanneem nie – ’n mens kan wel seker wees hulle sal gesmee word deur een van die woorde in die titel: “maverick” (individualis of jukskeibreker), ’n selfstandige naamwoord vir mense wat in hul denke en dade immer onafhanklik is.

  • Bruce Clark is ’n skrywer van Johannesburg wat die topverkoper-outobiografie Love Sex Fleas God: Confessions of a Stay-at-home Dad geskryf het.
Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Woordfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.