Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Agter elke stroper is ’n storie

In ‘Poacher’ werp ’n joernalis en oudstroper nuwe lig op perlemoenstropery en die gulsigheid maar ook desperaatheid wat daaragter skuil, skryf Herman Lategan.

Poacher: Confessions from the Abalone Underworld deur Kimon de Greef en Shuhood Abader. Uitgewer: Kwela. Prys: R255.

Klipkous, oortjie, siffie, skulpdier, noem dit wat jy wil, maar perlemoen bly die kroonprins van fynproewerskos uit die see, veral in China. Om te dink dit is maar ’n buikpotige se vaal voet.

Afhangende van die grootte kan jy in Hongkong vandag tot R4 000 vir ’n vars een betaal. Hierdie resensent het ’n paar eetplekke in die Kaap gebel om uit te vind hoeveel dit hier kos: Die gemiddelde prys is R2 000 per kilogram, skulp ingesluit, wat nie te versmaai is nie, want jy is sommer ’n asbakkie ryker.

Dit was nie altyd so nie. Op sy dag was perlemoen armmanskos, boonop pasella uit die groot blou dam. Jy kon armsvol gaan uitduik of spotgoedkoop by ’n restaurant met ’n koue bottel Bellingham Johannisberger afsluk (daardie bottels was veeldoelig, baie het as kershouers geëindig).

As jy in die 1970’s in Seepunt en omtrekke hierdie seedier bestel het, het kossnobs gedink jy is ’n bietjie kommin. By die ou Clifton-hotel en die Ritz Plaza was dit van die goedkoopste geregte op die spyskaart.

Abader vertel hoe die wit mense in die ou dae die eerste groot stropers was.

Wat het gebeur? Die knap jong joernalis Kimon de Greef en ’n oudstroper, Shuhood Abader (’n skuilnaam), het bymekaargekom en saam aan ’n boek gewerk wat antwoorde probeer gee. Dit laat jou voel asof jy met ’n flits deur die diep, donker seebodem van die onderwêreld rondswem.

Die beskrywings van middernagtelike duikery in ruwe waters waar die branders jou kan papslaan teen die rotse, asook die kleurvolle seelewe daaronder, voel by tye soos ’n rolprent wat voor jou afspeel.

De Greef, wat ’n meestersgraad in bewaringsbiologie aan die Universiteit van Kaapstad behaal het en al oor stropery in Suid-Afrika vir The New York Times, The Guardian en National Geographic geskryf het, se woorde is gestroop maar opwindend en hy weet hoe om atmosfeer te skep, al is dit niefiksie.

Abader vertel sý fassinerende lewensverhaal, waarvan ’n groot deel van sy grootmenslewe as stroper ontvou het.

Dit was beslis nie ’n saai voorstedelike lewe met ’n posbus wat soos ’n gholfbal lyk en ’n gladdehaar-chihuahua keffend op ouma se skoot nie.

Die man was al ’n paar keer in die tronk en gee eerstehandse insigte oor hoekom daar tot dusver in minder as twee dekades 96 miljoen van hierdie seediere onwettig gepluk is. Dit is ongeveer 15 000 elke dag!

’n Boek soos dié kan maklik met ’n opstapeling van statistieke vir Jan Alleman laat gaap, maar gelukkig word dit nie in daardie strik gevang nie. Uiteraard is die navorsing uit die boonste rak, maar saai raak dit nooit nie.

Die Chinese is ongelukkig die groot sondaars, want vir meer as 2 000 jaar reeds is perlemoen vir hulle ’n enorme statussimbool. As jy gaste uit die sakewêreld in ’n restaurant wil beïndruk, is Suid-Afrikaanse perlemoen, naas dié van Japan, die sleutel wat deure vir jou sal laat oopgaan.

In 2016 het Hongkong 5 000 ton uit ons land ingevoer, waarvan 3 000 van stropers afkomstig was.

De Greef het dié wêreldstad besoek om agter die kap van die byl te kom. By baie plekke was plakkate van perlemoen opgesit, maar toe hy by restaurante navraag gedoen het oor hoe hulle dié gereg in die hande gekry het, is hy weggejaag of aangegluur. Hier heers groot mafia-agtige geheimhouding oor die bron van hierdie kossoort.

Abader vertel hoe die wit mense in die ou dae die eerste groot stropers was. Met die koms van apartheid is meestal bruin vissersgemeenskappe uit byvoorbeeld Simonstad verjaag na Ocean View aan die ander kant van die berg.

Daar het hulle verarm en vir ekstra geld het baie van die mans met sindikate deurmekaar geraak en begin stroop om brood op die tafel te sit.

Die geld was goed en die tentakels het later versprei na dwelmsindikate. So verstrengel het alles geraak dat daar in Houtbaai se Hangberg mense is wat glo tik word van perlemoen gemaak.

Die aangeleentheid is meer genuanseerd as om hier in ’n paar woorde op te som, daarom beveel hierdie resensent lesers aan om eerder die boek te lees. Dit werp werklik nuwe lig op ’n ramp wat hom hier in ons seelewe afspeel.

Wees eerder ingelig oor ’n kwessie van nasionale belang en nie iemand wat maar by die braaivleisvuur sit en blaf oor stropers nie.

Agter elke stroper is ’n storie en De Greef en Abader het dié boewery wat uit desperaatheid gebore is, vermenslik. Oor die Chinese smulpape se invloed sal die leser self moet besluit.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis en rubriekskrywer van Groenpunt, Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.