Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Agter ’n gordyn van woorde

Hans Pienaar se ‘Seisoene op parool’ bied ’n unieke perspektief, skryf Hein Viljoen.

Seisoene op parool deur Hans Pienaar. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R220.

Hans Pienaar is ’n veelsydige kreatiewe gees. Hierdie is sy derde digbundel ná Die taal van voëls (2002) en Notas uit die Empire (2010). In 2018 is sy grensroman Die generaal aangewys as naaswenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Hy is ook bekend as joernalis, onder meer vir sy historiese werk Die derde oorlog teen Mapoch (1991, oor die staat se geheime oorloë teen die Ndebele), fotograaf en dramaturg.

Die eerste afdeling, “Seisoene”, bestaan uit nege rymlose sonnette wat sowat ’n jaar bestryk, van “Prilapril” tot “Laatmaart”. Dit word algaande duidelik die gedigte is eintlik beskrywings van die seisoene in beelde uit die onderwêreld: skollies, alarms, messe, gysel, wegkomkar, parool. In “Vroegoggend” sluip die lig “verby, hurk agter heinings, wag vir die regte tyd”.

“Eerste reën” is soos “die lem wat by jou kraag insypel en streel oor jou sleutelbeen, kil van dodelikheid”. Dit skep ’n baie ongewone blik op die seisoene – en op die menslike gesteldheid.

In “Diefwering”, die tweede en mees geslaagde afdeling, kry ons ’n soortgelyke vermenging van die liefdesdiskoers met ander diskoerse, soos vye en musiek, die geografie en die maan, of die attribute van ’n kroeg. Dit lewer pragtige verse en treffende beelde op.

“Skaammaan” open met die pragtige vers “[d]ie maan kom skaam haar weer vanaand”. In “Diefwering” word die idee van ’n hartedief verletterlik en kry die gewoonste dinge ’n erotiese lading: Die geliefde “kom soos ’n skurk in die nag” wat “deur die diefwering / van jou borste breek . . . / die sleutelbene van jou kluis / ontsyfer en die skyfie melktert / met die spikkels kaneel opslurp in jou spens”. In die slot skort die spreker egter die beelde op “om alles terug te sit nes dit was”.

“Entropie”, die derde afdeling, is myns insiens die mins geslaagde, al is daar ’n aantal baie slim gedigte oor verskynsels soos die oerknal, die boson, sonsverduistering, reën, die “selluloïde lyding” in die bioskoop en hongerte.

Prometheus sien nuwe afgode: “die godin van plastiek”, “die god van die bom” en “die god van gedrogte”.

Die vierde afdeling, “Hondsegedagte”, bevat ’n reeks gedigte in reaksie op die aktualiteit. Hier gaan dit letterlik oor aan die hond dink – nie die gewone betekenis van “hond se gedagte” om agterdogtig of wantrouig te wees nie. ’n Gedig soos “Amerika” is darem baie retories, geswolle, maar daarom dalk tipies Amerikaans. Die slotgedig in dié afdeling is ’n lofwaardige poging om Kevin Volans se strykkwartet White man sleeps in taal na te boots:

nou, wit man slaap sy witmanslaap

gestrek soos berg onder sy droomboom

anderman trap sy andermanstrap

hinkvoet slapstap sleeploop hoptree

hare blinksweet soos blitschroom

In deel 5 word die mite van Prometheus herdig in 18 verse in verskillende toonaarde. Die digter laat die versteende Prometheus by die mense pleit om sy vryheid en kla hulle aan oor die besoedeling en vergiftiging van die planeet. Maar in kosmiese tyd sien hy ook hy die einde van hierdie era, die “uur van vuur, die vonk se nanosekond”. Prometheus sien nuwe afgode: “die godin van plastiek”, “die god van die bom” en “die god van gedrogte”. Hy verlang na sy redder, ’n Herculina wat “ ’n driedubbele backflip met haar vuurwieltrek” maak en nog twaalf take bykry: “skottelgoedpak, oorleg met die yskas, hondedrolle oes, stap met die troetelbot”. Die steler van vuur sien op die ou end ? apokaliptiese visioen van die mens se ondergang aan die tegnologie, maar ook ’n nuwe vermengde toekoms. Hy is self ’n Mengoturanite, met ander woorde ’n mengsel van mens, god, kreatuur en mite, en hy sien, ná die apokalips, weer ’n “skuinsskeefopkykskaars na die son” en nuwe vorms soos “meganorganismes”, of “hormotoromone”. Hy noem homself ’n “hibriesende rebel” as voorloper van die naamlose rowers van die toekoms. Prometheus word ontnaam (nie ontman of ontbind nie) in hierdie reeks, maar baie gaan verlore agter die groot woorde waarvoor die digter so lief is.

In Seisoene op parool is’n sterk dog soms duister digterstem aan die woord, maar een wat ’n unieke perspektief bied uit ’n ryk en stout eksperimentele verbeelding. Ondanks die beskeie “sand van verleentheid” wat die spreker in die heel eerste vers, “Veters”, in sy vuis het, demonstreer die bundel ’n ryk verskeidenheid gekoppel aan ’n sterk, geleerde ekologiese bewussyn.

  • Hein Viljoen is ’n buitengewone professor by die navorsingseenheid tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.