Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Akademie huldig Anna M. Louw met bundel

Die huldigingsbundel Anna M. Louw: Fassinerende, veelkantige skrywer belig die spanning tussen ’n vertroude en onbekende wêreld en religieuse ondertoon in die oeuvre van dié Hertzog-bekroonde skrywer.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel oor Anna M. Louw is onlangs uitgereik.

Dit is onlangs onder redaksie van prof. Chris van der Merwe deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgereik.

Louw is in 2003 op 90 dood. Haar romans sluit in Kroniek van Perdepoort, Wolftyd, Die banneling en Die groot gryse.

Sy het die Hertzogprys ontvang vir Kroniek van Perdepoort, wat deur die skrywer André P. Brink as een van ’n handjievol groot prosawerke in Afrikaans beskryf is.

Dit is in 1975 deur Tafelberg uitgereik.

Hoewel Louw ook kortverhale en dramas geskryf het, het sy met haar romans haar plek in die Afrikaanse kanon verdien, sê Van der Merwe.

“En dit is die wonderlike ding: dat ’n mens nuwe dinge ontdek, ook in haar werk, iets wat nog nie gesê is nie.”

Die bundel sluit ook bydraes in deur haar seun, dogter en skoonseun.

Louw het vyf kinders gehad.

“Jy kan die skrywer as mens sien, maar ook die verband tussen lewe en werk,” sê Van der Merwe.

“Haar dogter Editha Wilson is oorlede kort nadat sy haar bydrae voltooi het.

“Ek is so bly dat ek haar nog in die hande gekry het. Dit is so ’n persoonlike bydrae, sulke interessante staaltjies wat sy vertel.”

Louw is op 31 Desember 1912 op Calivinia in die Noord-Kaap gebore en het op die plaas Soetwater in die distrik grootgeword.

“Sy het in ’n soort konserwatiewe huisgesin grootgeword, onder die invloed van die Calvinisme en Christelike godsdiens. Maar daar was ook ’n verlange in haar om uit te reik na ’n onbekende wêreld.”

Wieland Gevers (haar skoonseun) vertel hoe sy ’n studie van Oosterse godsdiens gemaak het.

Anna M. Louw met die voltooide manuskrip van ‘Die groot gryse’. Foto: Naln
Anna M. Louw sit op haar gunstelingstoel in Mowbray, Kaapstad, in 1999.
Anna M. Louw (1912 – 2003). Foto: Naln

Sy is eers getroud met ’n Engelse psigiater (in ’n totaal Engelse familie) en daarna met ’n Duitser (van gemengde afkoms, deels Joods).

“So dis weer eens daardie spanning tussen waar sy vandaan kom en waarnatoe sy uitreik. Ek dink ’n mens sien dit in sowel haar lewe as werk. Dit is asof sy hierdie groot tema keer op keer aanpak, maar telkens uit ’n nuwe hoek. Sy gebruik die tradisie waarin sy grootgeword het as uitgangspunt, maar bevraagteken dit elke keer.

“Sy is beslis ’n mistikus. Sy het vertel hoe sy in daai landskap van Calvinia – die plaas waarop sy grootgeword het – soms mistieke ervarings gehad het. Ek dink sekerlik sit haar jeug nog in haar werk en lewe.”

Verskillende bydraes is oor Kroniek van Perdepoort geskryf.

“Sy gebruik die tema van die sewe doodsondes. En dis ou temas, maar die karakters wat sy geskep het, klink soos van vandag. Nie eens net in 1975 nie, maar weer en weer voel jy dít is die probleme waarmee die mens van vandag worstel.”

Van der Merwe skryf oor Louw se roman Die donker kind.

“Dit is nie een van haar beste werke nie, maar dit gaan oor ’n vrou wat ’n rol waargeneem het wat gewoonlik deur mans vervul word: om ’n skipper te word. As jy dit met vorige werke (oor skippers) vergelyk, kry jy tog ’n interessante perspektief. Die ontwikkelinge wat in die ideologiese tradisie plaasvind.”

Die bundel let wel op na geringe feitefoute wat Louw in sekere romans gemaak het.

Maar ondanks dit is haar visie van die tyd en die persoon reg, skryf Fransjohan Pretorius (emeritusprofessor in geskiedenis).

“As jy as romanskrywer geskiedenis in ’n roman gebruik, selekteer jy. ’n Tema wat haar altyd geïnteresseer het, is hoe om wysheid te bereik. Sy het digterlike seleksie gemaak. Daai soeke na wysheid.”

  • Die boek kos R350 plus R80 vir koerierkoste. Stuur ’n e-pos na melanie@akademie.co.za om ’n eksemplaar te bestel.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.