Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Al wat werk, is om te gaan sit en jou storie te begin skryf

Helene de Kock is ’n heeltydse skrywer wat al sowat 50 boeke geskryf en gepubliseer het. 40 daarvan was romans. Sy is ook lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die VLU van Noordwes het haar vanjaar as hul skrywer van die jaar gekies. Sy beantwoord Terésa Coetzee se vrae.

Die skrywer Helene de Kock.Foto: Hanneri de Wet

Vertel ons meer oor jou skryfwerk.

Ek skryf graag verhoudingsverhale. Wat my betref, hoef ’n mens geensins aan die estetiese in te boet as jy ontspanningsverhale skryf nie. Goed geskrewe werk is goed geskrewe werk en as dit by ’n gerespekteerde uitgewery gepubliseer word, het dit meriete. Die digteres Petra Grütter reken dis ’n beskouingsfout om ’n verskil te maak tussen genot en erns by die skryf van ’n boek. Daarmee stem ek volmondig saam.

My ander boeke is kortverhaalbundels en ’n paar kinderboeke, asook bydraes tot kortverhaalbundels en ook geestelike werk.

Hoe het jy begin skryf?

Ek het op universiteit begin skryf en ’n kortverhaal in Huisgenoot gepubliseer. Daarna het ek gedink ek kan skryf en toe lank niks gepubliseer gekry nie. Later het ek weer vir Huisgenoot en Sarie en Rooi Rose geskryf en wyle Koos Human van Human & Rousseau het my werk raakgelees en dit in boekvorm begin uitgee.

Ek het op Boksburg in ’n NG pastorie grootgeword. Ons was ’n gelukkige gesin en dit het ’n geweldige indruk op my gemaak. Ook my baie teologiese gesprekke met my pa, ds. Herman van Schalkwyk, het my sekerlik help vorm. My ma was die Engels-departementshoof van die hoërskool Dr. E.G. Jansen.

Ek dink hul invloed op my en my suster, Sunet, was onuitwisbaar. Om daardie rede skryf ek al my verhale vanuit ’n Christelike perspektief, hopelik sonder om prekerig oor te kom.

Hoe lyk jou lewe deesdae?

Ek en my man, dr. Jos de Kock, woon in Midstream Estate. Ons is al 52 jaar getroud. Groot genade. Ons kinders, Herman en Emmie de Kock en Sylvia de Kock, asook ons kleindogters woon tot ons vreugde baie naby ons.

Jy het ook al met die donker kant van die lewe te doen gekry toe julle jul seun verloor het . . .

Ons oudste seun, Jaco, is in 2004 op 33-jarige ouderdom die oggend op pad werk toe in ’n motorongeluk dood. Dit was vanselfsprekend ’n geweldige slag vir ons en vir almal om hom. Sy broer, Herman, het sy troosdiens gelei en sy teksvers was uit Markus 5:36: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”

Al wat ek kan sê, is dat dit die enigste manier is om uit ’n diep put van selfbejammering, rou smart en swartgalligheid te kom. Om God eenvoudig te vertrou en aan te stap. Ja, natuurlik is die gemis daar. Ja, daar is dae wat dit mens wil platdruk, maar dit is ongetwyfeld moontlik om God te vertrou en krag en kalmte sodoende te verkry. Ons ervaar dit al amper 16 jaar lank. Daarby was Jaco ’n gelowige en ons weet waar hy is. Dit is sekerlik die grootste troos wat ’n ouer kan hê.

As dood lewe word is die titel van ’n boek wat ek geskryf het oor Jaco se dood en hoe ons dit ervaar het. Dit is deur CUM uitgegee en die Engelse weergawe daarvan, When Death Becomes Life, is as e-boek op Amazon te kry. Afgesien daarvan dat ons as gesin baie oor Jaco en sy afsterwe gepraat het, kon ek ook die ervaring woord vir woord neerpen. Dit het my verder gehelp om die trauma en gemis te verwerk.

Wat is jou definisie van geluk en wat maak jou gelukkig?

Geluk is vir my die samesyn met geliefdes en vriende. Veral om ’n etenstafel. Maar, aangesien ek ervaring het dat ook dít ’n mens kan ontval, weet ek daar is ’n dieper behoefte wat net God kan vul.

Vertel ons van jou skryfproses.

Ek probeer elke dag skryf. En oor die skryfproses het ek al ’n doktorale proefskrif geskryf. Dis nogal ingewikkeld as ’n mens daarop ingaan, maar die heel belangrikste is dat die skrywer moet weet dat dit sy eie werklikheidsbeeld is wat in die boek gaan deurslaan. Sy of haar siening van die werklikheid gaan beslis neerslag vind. Dit is onvermydelik. Maar dit beteken nie dat die skrywer se eie stem te duidelik moet wees nie.

’n Mens kry onder skrywers die ek versus die nie-ek. Volgens Jung is dit die “I versus the not-I”. Die skrywer behoort ’n ‘not-I’ te wees. Dis die skrywer se karakters wat die sê het.

Die skrywer moet waarneem, nie die een wees wat waargeneem word nie. Bostaande het ek in een van my lesings gebruik en dis te boek gestel in Skryfateljee, wat deur Dawie Steenberg en Hans du Plessis saamgestel is.

Hoe sal jy ander jong skrywers inspireer om te skryf?

Inspirasie is ’n populêre mite. Na my mening kom inspirasie net as ’n mens eers deeglik aan die werk is. Al wat werklik ’n bydrae met die skryfproses maak, is om te gaan sit en die werk te doen. Jy moet stamina en dissipline hê en bereid wees om aanhoudend te herskryf.

Besluit wat jou tema is. ’n Tema is nog nie ’n storie nie. Egskeiding is ’n tema. As jou boek net by die tema bly, word dit wat die Amerikaners “a parade of sensitivities” noem. Iets wat om die as van eie argumentasie draai. Jy moet eenvoudig ’n storie hê.

Kies verder die ruimtes waar jou verhaal afspeel, met sorg. Dit behels nie net die konkrete plekke en jou deeglike kennis daarvan nie.

Wat onvermydelik belangrik is, is die abstrakte ruimte waarbinne die karakters leef. Aspekte soos die tydgees, die kultuur, die godsdiens (indien enige) wat hul lewe rig, ensovoorts.

Dink die storie uit of dan ten minste die begin daarvan. In fiksie is konflik natuurlik broodnodig.

Stel ’n raamwerk op, as jy dit sou verkies. Die raamwerk sal waarskynlik later verval namate die karakters verlewendig. Kies derhalwe die hoofkarakters met sorg en besluit uit wie se perspektief jy die verhaal gaan vertel. En bly binne daardie karakter se perspektief. Meer perspektiewe in dieselfde verhaal is vir meer gevorderde skrywers. Moet nooit moed opgee nie. Net jy kan skryf soos wat jý skryf. Hou net aan.

As jy ’n lysie van tien boeke kan maak wat ’n mens moet lees in jou leeftyd?

Afgesien van die Bybel, dink ek die ou klassieke werke soos die volgende is onontbeerlik vir ’n ernstige leser:

Pride and Prejudice – Jane Austen;

Sense and Sensibility – Jane Austen;

Die broers Karamazov – Fjeodor Dostojewski;

Macbeth – William Shakespeare;

Hamlet – William Shakespeare;

Sy kom met die sekelmaan – Hettie Smit;

Kroniek van Perdepoort – Anna M. Louw;

Spertyd – Elsa Joubert;

Magersfontein, o Magersfontein – Etienne le Roux; en

Die biblioteek aan die einde van die wêreld – Etienne van Heerden.

Voel jy hoopvol oor ons land?

Ek is wel diep besorgd, maar ek is ook hoopvol. Hier is werklik vele goeie mense in ons land. Ons oorlewing berus tot ’n groot mate in ons vermoë om saam te staan ten spyte van ons ryke diversiteit. En as ons leiers werklik wil, kan hulle besliste besluite neem wat hierdie land kan red. Buitendien, nêrens skyn die son so geel, so helder soos in Suid-Afrika nie.

Jy het al wonderlike reise onderneem. Watter lande staan uit?

Ons was bevoorreg om asembenemende plekke te besoek. Wat altyd sal uitstaan, is ons sewe besoeke aan Rome – ’n stad wat myns insiens onuitputlik is. Italië en Kroasië trek my in die besonder. Frankryk insgelyks. Besoeke aan die legendariese Mont Saint Michel, die Loire-vallei met sy fabelagtige kastele, die Riviera en ook Monaco het ons bekoor. Ek is veral versot op museums, kastele en katedrale.

Brittanje het ook vir my groot aantrekkingskrag. Streke soos die Cotswolds, die laaglande in Skotland en ook Wallis het ek geniet. Nederland en België was fassinerend. Die Griekse eilande soos Corfu, Santorini en Mykonos het eweneens my asem weggeslaan. Om van groot stede soos New York, Boston, Athene, Parys en Londen nie te praat nie.

Watter kwaliteite in mense beïndruk jou?

Bo alles beïndruk integriteit my. Sonder integriteit kan ’n mens nie saam met iemand lewe nie. Daarby is deursettingsvermoë, vriendelikheid en hoflikheid seker ook onmisbaar.

Wat sal jy graag nog in jou leeftyd wil doen?

Ek sal graag nog wil reis, nog boeke skryf en baie saam met my geliefdes kuier. En sommer net sit en luister na ’n stil aand, my verkyk aan ’n sonsopkoms, en met my man, my kinders en kleindogters gesels. Ons gesels raak nooit op nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.