Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ali in twee broers se verhaal

Roman

The Distance

Ivan Vladislavic

Umuzi

Om te sê dat Ivan Vladislavic se jongste roman, The Distance, oor boks gaan, sou met die eerste oogopslag moontlik kon wees, maar gewis nie die volle waarheid nie. Ja, dit is so dat Joe Blahavic, ’n hoërskoolseun van Pretoria, begoël raak met Muhammad Ali en tussen 1970 en 1974 verskeie plakboeke oor dié swaargewig-wêreldkampioen maak, maar in Vladislavic-tradisie weet ’n mens ’n voertuig is ondergeskik aan die reis, en argiewe ondergeskik aan ’n geleefde werklikheid.

40 jaar later daag Joe, ’n suksesvolle skrywer, by sy broer, Branko, ’n klankregisseur, op met die plakboeke en die versoek dat die twee saam werk aan ’n boek oor hul gedeelde verlede, ’n herordening van gebeure, ’n kroniek van ’n lewe. Tussen dié twee het daar met verloop van tyd ’n afstand (waarna die titel sou kon verwys) tot stand gekom; ’n gaping wat groter is as die afstand van die noordelike voorstede van Johannesburg waar Branko woon en ’n buurt “suid van Louis Botha” waar Joe woon.

Oor die gloriejare van Ali, gebore Cassius Clay, kom ’n mens heelwat te wete. Maar dit is die maniere waarop hierdie kennis tot stand kom wat belangriker word: dié van ink op papier, in die woorde van skrywers. “If it wasn’t for the calm world of the broadsheets. . . he would never have ‘fallen in love’ with Muhammad Ali” (173), sê Branko oor sy broer. Joe se plakboeke, waarna hy self deurgaans as argiewe verwys, het tot stand gekom voor 1976, voor die koms van televisie; “[t]he nationalists thought it would be bad for us” (170).

Radio, die ander beskikbare medium, het weinig dekking gegee aan Joe se belangstelling en hy het Ali se stem byvoorbeeld nooit gehoor nie. Dit is die kalmte van beriggewing, die afstand, die tweedehandse weergawe van (73) inligting wat as’t ware die geboorte van Joe die skrywer tot gevolg gehad het. Die manier waarop die sportskrywers van die 1970’s die waarde van koerante benut het om dokumentering en verstaan van die wêreld teweeg te bring het juis dié vlam by Joe aangesteek.

n Mens kan nie help om met Vladislavic se oeuvre in gedagte raakvlakke te sien tussen die skrywer en die Joe-karakter nie.

’n Mens kan nie help om met Vladislavic se oeuvre in gedagte raakvlakke te sien tussen die skrywer en die Joe-karakter nie. Is Joe (John) nie die Engels-ekwivalent vir Ivan nie? Dié ooreenkoms is “too much of a coincidence” soos Mrs Malgas in Vladislavic se eerste roman, The Folly, oor naamgewing opgemerk het. Joe se dokumentering en behoefte om die wêreld van sy hoërskooljare te verstaan, is so noukeurig priemend soos Vladislavic se formulering daarvan in taal: met ontsag vir die grein én die grint, stil soos swart-wit foto’s. Dat iemand so fyn kan waarneem en registreer is merkwaardig, nie net ten opsigte van feite nie, maar ook die timbre van die tyd.

Benewens bokser kom Ali ook as skrywer (van twee biografieë) en as woordkunstenaar wat met kwinkslae sy opponente tart: “Boxing was a kind of physical wit; verbal wit was a kind of sparring” (144).

Dié veelfasettigheid vind ’n eggo in die veelvuldige manifestasies van die argief soos dit gestalte kry in Joe én Branko se lewe: benewens genoemde koerantberigte en skryfwerk soos dié van Leslie Charteris (die skrywer wat die kronieke van die anti-held Simon Templar as The Saint opgeteken het) is daar ook Joe en Branko se ma wat ’n aantekeningboek bygehou het, verwysings na musiek en klankbane, na “newsreels” en eksperimentele dokumentêre programme en die Amerikaanse western Butch Cassidy and the Sundance Kid.

Met dié gegewens en materiaal (met die nadruk op “listen to the material”) weef Vladislavic ’n gelaagde “boyhood”-verhaal waarin betekenis juis gestalte kry in die gapings, in die hiate in argiewe; in wat gedokumenteer word; maar eweso in wat ongesê bly.

Johan Myburg is ’n digter en kunsskrywer van Johannesburg

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.