Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Alle oë op die Nobelprys vir letterkunde

Met Bob Dylan se Nobelprys vir letterkunde wat nog wapper in die wind, is dit ’n ope vraag wie die Sweedse Akademie vanjaar met dié eer gaan beloon.

Dylan se prys, wat die Akademie vir die “skep van nuwe poëtiese uitdrukkings binne die groter Amerikaanse liedjie se tradisie” toegeken het, het vriend en vyand verras.

Gaan Haruki Murakami se status as ewige strooimeisie voortduur?

Die Akademie is bekend daarvoor dat sy keuses dikwels op andersins redelik obskure keuses kan val: soos Svetlana Alexievich van die Oekraïne in 2015 en die Fransman Patrick Modiano die jaar voor dit.

Konsensus tot dusver blyk te wees dat die toekenning vanjaar ’n tipe korrektief op verlede jaar se toekenning aan Dylan gaan wees. Verwag dus ’n nóg meer obskure en onbekende skrywer vir ons gewone sterflinge.

Maar, die hoop beskaam nie. Gunstelinge onder die wedders blyk die Japanse skrywer Haruki Murakami te wees, asook die Keniaan Ngugi wa Thiong’o.

Volgens The Guardian is die Amerikaner Toni Morrison (in 1993) die laaste swart skrywer wat die Nobelprys vir letterkunde gewen het en die Nigeriër Wole Soyinka (in 1986) was die laaste swart skrywer van Afrika wat dit gewen het.

Te oordeel na die wedders, staan die Kanadees Margaret Atwood, veral onlangs bekend vir The Handmaid’s Tale, skynbaar ’n goeie kans (in die derde plek) asook die Suid-Koreaanse digter Ko Un.

Die 18 lede van die Akademie moet uit sowat 350 voorstelle van oor die wêreld sif om uiteindelik by die wenner uit te kom.

Voorstelle word deur literêre kenners gedoen, asook vorige Nobelpryswenners.

Sedert 1901 is die prysgeld van SKr 9 miljoen (sowat R15 miljoen) aan 113 skrywers, onder wie 14 vroue, toegeken.

Gaan Margaret Atwood se The Handmaid’s Tale vir haar die knoop deurhak?

Volgens Alex Shephard, nuusredakteur van The New Republic, is dit “in die dae van Trump” ’n redelike goeie ding om die skrywer van The Handmaid’s Tale te wees.

“Hoewel dit Atwood nie eintlik help dat sy Kanadees is nie, aangesien Alice Munro skaars vier jaar gelede gewen het.

“Ek sien ook nie werklik enigiemand in die celebrity-skrywer-kategorie wat wen nie . . . wat beteken Atwood se naam is hier waarskynlik meer wensdenkery.

“Maar dit sal gaaf wees!”

Shephard skryf oor Murakami se kanse is hy nét so oortuig daarvan dat hy nie sal wen nie, soos hy oortuig was dat Dylan nooit sou wen nie . . .

“So neem dit maar met ’n knippie sout.

“Maar Murakami se plek as die Nobelprys se ewige strooimeisie is geheel en al op sy status as die wêreld se gewildste skrywer gebaseer.

“Hierdie is nie ’n gewildheidskompetisie nie en, gegewe twee onortodokse jare, gaan die Nobelprys ook nie sommer gou een word nie.”

Die prys sal na verwagting Donderdag om 13:00 bekend gemaak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.