Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Alles verloop volgens plan

Digters mag glo nie opinies of planne hê nie, maar Lina Spies druk hare boeiend uit, skryf Daniel Hugo.

Sulamiet deur Lina Spies. Uitgewer: Naledi. Prys: R175.

Peter Blum het gesê dat digters nie opinies het nie. Daarmee het hy waarskynlik bedoel dat die gedig sy eie argument ontwikkel; dat die digter by die eerste poëtiese ingewing self nie weet hoe die eindproduk gaan lyk nie.

W.H. Auden het beweer daar is ’n essensiële verskil tussen die digter en ’n ambagsman. ’n Skrynwerker volg ’n plan en weet vooraf presies hoe die stoel gaan lyk wat hy wil maak. ’n Digter daarenteen laat hom in ’n groot mate lei deur sy medium: die taal self. Die beelde, ryme en woordspel bepaal grotendeels wat die gedig

gaan sê.

Maar Blum en Auden se uitsprake is uiteraard self opinies en getuig van ’n sekere vooroordeel. Want daar is beslis digters wat uit die staanspoor weet wat hulle wil sê en dan die taal aanwend om dit minder of meer oortuigend in digvorm uit te spel (in die slegste gevalle) of te suggereer (in die beste gevalle).

Lina Spies is ’n digter met opvattings oor ’n aantal onderwerpe wat mettertyd haar waarmerk geword het: die onbetroubaarheid van die liefde tussen mense, in teenstelling tot die vertroostende teenwoordigheid van katte; die ware geloof versus kerklike dogma; Judaïsme versus Christendom; haar dubbele lojaliteit aan Suid-Afrika en die Lae Lande, en daarmee saam aan Afrikaans en Nederlands; haar afkeer van onreg, veral teenoor kinders; haar liefde vir die Bolandse natuur; haar stryd om die dood te aanvaar, en haar koestering van die “hiermaals” in teenstelling tot die hiernamaals.

In die meeste gedigte neem sy oudergewoonte ondubbelsinnig stelling in.

Dit alles bied sy aan in helder geformuleerde, onmiddellik verstaanbare gedigte – wat haar sedert haar debuut met Digby vergenoeg in 1971 so ’n gewaardeerde en geliefde digter maak.

In haar jongste bundel, Sulamiet, duik al hierdie temas – minus die katte – weer op. En in die meeste gedigte neem sy oudergewoonte ondubbelsinnig stelling in. Reeds die eerste gedig in die bundel pryk met die selfversekerde titel “Besef” – hoewel die gedig eintlik oor ’n onsekerheid handel en met die woord “dalk” open:

Dalk word die kreeftegang van die

ouderdom

in die aandbries soms ’n wandeling

saam met ’n onvervreemde God

in die tuin van ’n ontwakende aardse lente

en hoor jy skielik ’n voël

sing soos by oggendskemering.

Ek hou van hierdie gedig omdat dit kans kry om sy eie loop te neem: “kreeftegang” word “wandeling”; “ouderdom” word “lente”; “aandbries” word “oggendskemering” en God bevind hom op die aarde. Die digter gaan nie van ’n vooropgestelde mening uit nie, ondanks die misleidende titel.

In die volgende vers gebeur die teenoorgestelde. Direk op die huiwerige titel “Besluitloos” volg twee stellings – die tweede gekamoefleer as ’n vergelyking:

Sonder die ander drie seisoene

kan somer en son en saffier

verveel soos die virtuose derde deel

van Max Bruch se vioolkonsert.

Die poëtiese redenering gaan dan voort wanneer die digter beweer dat anders as die “kortstondige winter” en “langdurige somer” van ander landstreke, die seisoene in die Boland talm – om hulle sodoende “met sekerheid / as onbetwyfelbare seisoene / te laat benoem”.

Dit is presies wat die digter Lina Spies wil doen: dinge met ontwyfelbare sekerheid benoem. En dit maak haar gedigte toeganklik, maar soms ook eenduidig – sonder talmende suggesties of meerduidige moontlikhede. In “Die huis van die digter” haal sy Emily Dickinson aan: “I dwell in Possibility”. Maar Spies se groot bewondering vir hierdie Amerikaanse digteres vind nie werklik neerslag in haar verse nie. Hulle getuig te selde van die verkenning van dit wat moontlik sou kon wees.

Spies het wel bekwame vertalings van Dickinson-verse gemaak, soos “Die gewig van pyn” in hierdie bundel. Daar staan ook tien vertalings in haar opstelbundel oor Elisabeth Eybers en Emily Dickinson, Die enkel taak (1995). Die beste vertaling daar is “Diens”:

Ek hou die sabbat deur tuis te bly;

ander woon ’n kerkdiens by.

Dis ’n boomgaard wat my koepel bou,

een koorlid is ’n Piet-my-vrou.

Geen predikant wat my verveel:

ek hoor alleen dié soet gekweel.

Geen koster lui sy somber klok:

ek’s ’n pelgrim sonder Sondagrok.

God – die Meesterdominee –

voer in my kerk die woord

en ek – hemelsgelukkig –

luister ongestoord.

In Sulamiet betrek Spies hierdie Dickinson-gedig by die vers “Skynsel” waarin sy die hooftema van die bundel uitspel. God het hom uit die tuin van Eden onttrek, maar dit is deur die digter van die Bybelse Hooglied “herskep tot ’n liefdeslushof”. Die geliefde in Hooglied is ’n Sulamitiese meisie – vandaar die bundeltitel. In die slotstrofe herskryf Spies die Dickinson-vers soos volg:

En as in die kerk die gemeente sing

niks is op aarde rein nie,

kan jy die erediens buite bywoon

en op alles die skynsel sien lê

van God wat sy handewerk nie

minag nie.

Die verwoording neig hier – anders as by liries-kriptiese Dickinson – tot uitgesponne prosa.

In die beste gedigte temper Spies haar sekerhede met paradoksale stelwyses, soos in die lieflike vers “Herlewing”. Die hele gedig is gebou op teenstellings wat ’n klimaks in die slot bereik met: “tot nou met die herfs se koms / ek weer in my grein / die ­lewe kan voel vlam”.

Die slot van “Verjaardagpresent” bevat ook so ’n gevleuelde paradoks. Die seuntjie koop vir sy ma ’n kunslelie as geskenk. Dit is ’n “blom wat nie doodgaan nie”. Later eers sal hy besef dat dit ’n geurlose grafblom was en “sal hy blomme koop wat verwelk / om die misterie van die liefde te vier / wat die wisseling van getye kan weerstaan”.

Een van die hoogtepunte van Sulamiet is die kort vers “Hipotese”. Hier oorheers die onsekerheid oor die liefde en dit word deur ’n verruklike beeld geïllustreer:

’n Laat liefde is dalk bedoel

net vir onpaar maats:

twee eensaamhede wat mekaar bewaak

soos wat ’n halfmaan

in ’n helder poel weerkaats.

Die rympaar “maats” / “weerkaats” is onverbeterlik binne die konteks van die gedig. Die onvolmaakte halfmaan van die enkelmens word later in die bundel (in “Skynsel”) implisiet gekontrasteer met die vol gloed van die son waarin ons moet leef. Dit is maar ’n enkele voorbeeld van die talle skakels tussen gedigte wat Sulamiet ’n ryk en genuanseerde eenheids­bundel maak.

Die Hooglied-gegewe verkry ’n verdere dimensie deur Spies se vertaling van Paul Celan se beroemde “Todesfuge” waarin die Semitiese Sulamiet gekontrasteer word met die Ariese Margarete. Daarmee aktiveer sy die Sjoa – die uitwissing van die ­Jode deur die Nazi’s – wat Spies al sedert haar eerste bundel besig hou en uitgeloop het op haar bekroonde vertaling van Anne Frank se dagboek.

Die digter identifiseer haar in hierdie bundel dus op ’n paradoksale manier met sowel die donker Sulamiet, die geliefde, as met die blonde Margarete, die skuldbewuste Christen.

Anders as Blum en Auden glo ek wel dat ’n digter opinies mag hê en volgens ’n plan mag werk. Dit hang net af van hoe subtiel en oortuigend hy dit hanteer. Lina Spies is as ambagsvrou vaardig genoeg om die leser nog steeds te kan meevoer en verras.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.
Meer oor:  Lina Spies  |  Daniel Hugo  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.