Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Almal reisigers met te veel swaar bagasie

’n Baie lang brief aan my dogter is ’n nostalgiese dog onsentimentele tuiskoms en ’n onkreukbare weerspieëling van die tydperk se zeitgeist, skryf Sonja van der Westhuizen.

Niefiksie

’n Baie lang brief aan my dogter

Marita van der Vyver

TAFELBERG, R330

Moedersdag – die een dag in die jaar wat gemengde gevoelens van dankbaarheid, nostalgie en soms ook verlies opwek.

Die onmisbare rol wat ’n ma in iedereen se lewe speel, is klinkklaar, meer so die leemte wat ’n ma se afwesigheid kan laat.

Marita­ van der Vyver doen wat menige van ons wens ons ma’s ook wou doen – haar lewensverhaal op skrif sit vir haar kind.

’n Baie lang brief aan my dogter is deels ’n memoire van Van der Vyver se jeug- en tienerjare, deels handleiding vir Mia, haar Frans gebore dogter. Dis ’n boek oor die liefde vir ’n taal, kulturele identiteit, die gewig van ons land se verlede en die uitdagings van ons hede.

Lesers staan nie eenkant as literêre voyeurs buite hierdie intieme gesprek nie. Inteendeel, hulle word binnegenooi, betrek en medepligtig aan ’n onstuimige tydperk in die skrywer se lewe en ons land se geskiedenis.

Die rede vir hierdie toeganklikheid is tweeledig. Die gemaklike, dikwels humoristiese verteltrant en informele, pretensielose styl gerig op haar dogter skep ’n onverwags welkome gevoel van familiariteit.

’n Spesifieke demografie lesers sal ook hul grootword­jare in die skrywer s’n herken. Cowboyflieks by die inryteater, dorpsbiblioteekbesoeke en vakansies by die see skets ’n sorgelose jeug, maar ook die besef dat alles verganklik is. Wanneer sy later teruggaan na die plekke waar sy grootgeword het, is die familie se huise onherkenbaar of bestaan nie meer nie.

Herinneringe is bittersoet en dikwels bedrieglik. Sy verstaan dat sy as kind in ’n klimaat geleef het wat mense verkeerdelik uitgesluit en benadeel het, “afgesonder van die res van die mensdom, soos om in ’n borrel van salige onkunde te lewe”.

Hoe versoen jy jou ouers en voorouers – vir wie jy ook lief is – se bewustheid van die onreg wat gepleeg is met hul rol as goeie, Christelike, Afrikaner-mense? As sy terugkyk, skep haar onkunde as kind en onvermoë om iets daaraan te kon doen, innerlike konflik – “(O)ns wond is die kwessie van aandadigheid”. Sy vergelyk dit met die Duitsers se Vergangenheitsbewältigung, die wroeging om vrede te maak met die verlede.

Net so min soos ons kon kies dat ons in hierdie land gebore is, net so min kon ons ons voorsate kies. Dieselfde voorsate – oumas, oumagrootjies en al die onverskrokke vroue moes opofferings doen om Mia se lewe moontlik en beter te maak as hul eie. Vroue wat moes sterk staan in uitdagende omstandighede, wat kinders op ’n jong ouderdom verloor het en moes klaarkom sonder voorbehoedmiddels of gevorderde gesondheidsorg. Vroue wat moes sterk blý ondanks die trauma van veelvuldige geboortes en herhaaldelike kindersterftes.

Vanuit ’n feministiese oogpunt word die uiteenlopende wêrelde waarin sy en haar dogter grootgeword het belig, asook haar bewustheid van die ongelykheid: “( . . .) lank voor ek daardie f-woord die eerste keer gehoor het, het ek geweet iets is verkeerd in ’n wêreld waar die helfte van die mensdom laer geag word as die ander helfte.”

Afrikaans is die taal van haar hart, Engels en Frans die taal van haar verstand. Daarom vertel sy haar storie in Afrikaans.

Afrikaans is die taal van haar hart, Engels en Frans die taal van haar verstand. Daarom vertel sy haar storie in Afrikaans, al sal Mia haar tot die Engelse vertaling moet wend. Hierdie skynbaar sterwende taal wat nie meer as hooftaal in enige openbare universiteit gepraat word nie, bly steeds die tuiste van haar hart, al sit en skryf sy dit in Frankryk, ver weg van sy oorsprong.

Vir haar is dit “. . . my moedertaal, letterlik my moertaal, dit kom uit my baarmoeder, uit my maag, my hart en my longe, uit die murg van my beendere”.

Maar hierdie moeder van ’n taal is ook gewond op die politieke slagveld. Hoe vereenselwig jy jou met die negatiewe bagasie wat jou taal steeds dra? Dit bly jou taal. Jy is lief daarvoor net soos jy lief is vir jou ouers en voorouers ten spyte van hul feilbaarheid.

Marita som dit só op: “Ons is almal reisigers met te veel bagasie, te swaar vir ons om alleen te dra. Ons wortels is deel van ons bagasie.”

Knelpunte wat soms onnodig versigtig met handskoene hanteer is, word hier deursigtig sonder beskuldiging of oordeel kaalvuis getakel. Van der Vyver probeer nie polities korrek wees nie, maar vokaliseer bloot wat dikwels verswyg word.

Haar vernuf as storieverteller is onmiskenbaar. Haar vermoë om die outobiografiese grepe naatloos te versmelt met aktuele onderwerpe en intertekstuele verwysings is benydenswaardig – en ook so ’n bietjie uitgeslape. Soos ’n ma wat ’n lepel slegte medisyne wil toedien, maar eers die kind se aandag moet aflei. Hierdie dosis onsmaaklike kasterolie is wel nodig vir ons kollektiewe gesondwordproses.

’n Baie lang brief aan my dogter is ’n nostalgiese dog onsentimentele tuiskoms vir dié wat die 1960’s en 1970’s as kind beleef het en ’n onkreukbare weerspieëling van die tydperk se zeitgeist vir generasies wat dit nie ervaar het nie.

Dit verval nie in ’n voorspelbare, liniêre, outobiografiese styl nie, maar los eerder, in ware Marita­-sprokiestyl, ’n lukrake spoor van broodkrummels vir Mia en haar lesers.

“As mens eers weet waar jy vandaan kom, verdwaal jy nie so maklik nie,” sê Marita, maar as jy wel die pad byster raak, “vra maar vir jou ma.”

  • Sonja van der Westhuizen is ’n resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.