Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Amerikaanse top-skrywer pak ‘digitale plagiaat’
Nora Roberts

In wat waarskynlik afstuur op ’n hofsaak wat skrywers wêreldwyd raak, dagvaar die Amerikaanse top-verkoperskrywer Nora Roberts die Brasiliaanse skrywer Cristiane Ribeiro Allevato Serruya vir “veelvuldige digitale plagiaat op ’n ongekende skaal”.

Sy het op 30 April reeds haar eerste oorwinning behaal toe Brasilië se handelshof beveel het dat alle verkope van e-boeke, oudioboeke en fisieke eksemplare van ses van Serruya se titels, insluitende die vertoon van hul voorblaaie of publikasie van skakels, onmiddellik opgeskort word. Enige verkope sal die verkoper boonop ’n stywe boete op die hals haal.

Volgens Roberts se verklaring is digitale plagiaat ’n faktor in 93 van die titels onder Serruya se naam deurdat die werk van 42 skrywers wederregtelik gebruik is. Sy beskuldig Amazon voorts daarvan dat hy weens sy “belaglike swak” uitgewerstelsel medepligtig aan dié vergrype is.

In haar blog, Not a Rant But a Promise, wat sy op 23 Februarie op haar webwerf, Falling Into the Story, gepubliseer het, gebruik Roberts die soort taal wat ewe tuis sou wees in die mond van haar alter ego, die spanningskrywer J.D. Robb – óf Dirty Harry, wanneer sy skryf: “Aan die Swarthoede wat uitbuit, steel, ander leer om dieselfde te doen, julle dag van afrekening kom. Ek sweer ek sal alles in my vermoë doen, enige bronne, bande, invloed of megafoon wat ek kan, inspan om van elkeen van julle ontslae te raak.”

Sy maak geen geheim daarvan nie dat sy Amazon se laks uitgewersreëls verantwoordelik hou vir die wyse waarop dié tipe misdaad floreer.

“Ek kry ’n helse opvoeding uit hierdie siek, gierige en opportunistiese kultuur wat Amazon se belaglike swak stelsel tot gevolg het. En alles wat ek leer, maak my woedend.”

Sy beskryf dié pseudo-skrywers op digitale platforms as groepe wat dikwels saamwerk, gereeld gebruik maak van spookskrywers wat storiestrukture afkyk, of verskillende boeke in een storie saamflans om dit vinnig en goedkoop te kan publiseer.

“Wettige skrywers kan onmoontlik bybly by die blote volume boeke wat op dié korrupte wyse geskep word.”

In haar saak teen Serruya, wat in Rio de Janeiro aanhangig gemaak is, beskuldig sy die Brasiliaan daarvan dat sy boeke skep wat ’n “literêre laslappieskombers” van gesteelde frases en tonele is.

Boonop, beweer sy, maak dié “skrywers” ook gebruik van sogenaamde “klikplase”, waar mense van verskeie toestelle na hul boeke deurklik om selfs meer geld te genereer.

In haar saak teen Serruya, wat in Rio de Janeiro aanhangig gemaak is, beskuldig sy die Brasiliaan daarvan dat sy boeke skep wat ’n “literêre laslappieskombers” van gesteelde frases en tonele is.

Volgens haar maak ’n digitale uitgewersplatform, soos Amazon, dit maklik om verskillende frases en tonele uit verskillende boeke te kopieer. “Soms vang Amazon se algoritme hulle uit, meestal nie.”

As sy die saak sou sy wen, sê sy aan Associated Press, sal sy die geld aan ’n geletterdheidsprogram in Brasilië skenk.

Roberts beloof in haar blog dat sy dit haar missie maak om skrywers aan te moedig om dié praktyk te beveg.

Self is sy op die oorlogspad: “As jy plagiaat pleeg, sal ek jou kry. As jy my werk vat, sal jy betaal en ek sal my bes doen om te verseker dat jy nooit weer skryf nie... Regte skryfwerk vereis tyd en harde werk.”

Serruya het teruggekap en gesê sy maak van spookskrywers gebruik en “kan nie waarborg dat hulle nie dalk steel nie”. Sy gebruik glo nou sagteware om haar romans te fynkam om ooreenkomste met Roberts se werk te soek. Sy het 15 dae om teen die hof se beslissing te appelleer.

Die vooraanstaande Amerikaanse skrywersgilde skaar hom heelhartig by Roberts en sê in ’n verklaring dit is verblydend dat ’n skrywer van haar statuur digitale plagiaat aanvat.

Die vooraanstaande Amerikaanse skrywersgilde skaar hom heelhartig by Roberts en sê in ’n verklaring dit is verblydend dat ’n skrywer van haar statuur digitale plagiaat aanvat.

“Dis ’n probleem wat skrywers wêreldwyd raak en veral dié van genre-fiksie.”

Die gilde het ook reeds met Amazon se verteenwoordigers vergader om ’n doeltreffende oplossing te probeer vind.

Roberts is ’n New York Times-topverkoper wat onlangs in die tydskrif The New Yorker as “Amerika se gewildste skrywer” bestempel is. Sy het reeds meer as 225 titels agter haar naam as Nora Roberts, maar skryf ook as J.D. Robb, Jill March en in Engeland as Sarah Hardesty.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.