Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Annelie Botes gee 3de bundel rubrieke uit

“Daagliks speel talle klein, skynbaar niksseggende konserte rondom jou af. Neem kennis. Bêre die foto’s en emosies in jou kop.”

So sê die skrywer Annelie Botes oor haar derde rubriekbundel, Voetstoots, wat Penguin onlangs uitgereik het.

Annelie Botes Foto: Salvelio Meyer

“Al wat jy moet doen, is om op te let wat rondom jou aangaan.”

Botes ag eerlikheid en selfoortuiging baie belangrik met die skryf van haar rubrieke.

“Daarom is dit belangrik dat jou oggend- en aandpraatjies altyd moet ooreenstem. En dit geld nie nét vir skrywers nie.”

Sy skryf sedert 2004 rubrieke vir die Die Burger. Sy het ook al vir ander publikasies soos die tydskrif Taalgenoot geskryf.

Haar romans sluit in Raaiselkind, Thula-thula en Trippel Sewe.

Sy het ook outobiografiese romans soos Sabbatsreis en Swart op wit die lig laat sien.

“Die een is nie makliker as die ander nie. Met fiksie moet ’n mens net veel meer navorsing doen en oortuig wees van wat jy skryf. Want jy moet die situasie voorstel asof dit die werklikheid is en die lesers moet dit gló.”

"Ek ontleed wat die negatiewe kommentaar sê en probeer dink of die persoon nie straks reg is nie."

Dis toenemend moeilik vir Botes om niefiksie te skryf.

“Ek het net een lewe en een emosionele platform waarvandaan ek my vertrekpunte kan maak. Om die situasie oor en oor te beskryf, raak later soos die gedrup van ’n kraan, aldus Salomo.”

Sy het self die samestelling van haar nuwe rubriekbundel behartig. Sy het dit sover sy kon volgens temas ingedeel.

Dit sluit in kinders, Kersfees, “doktersorders”, kapteinskap, aanhouer wen en Janusgesigte.

“Dit het fyn dink gekos, want dis onvermydelik dat sommige rubrieke sal oorvleuel.”

Hoewel dit nie chronologies ingedeel is nie, word die oorspronklike datum van elke rubriek aangedui.

“Voetstoots” deur Annelie Botes

Toe sy begin het om rubrieke te skryf, was haar opdrag eenvoudig: ’n woordtal en ’n sperdatum, oor enige onderwerp.

“Ek skryf oor wat op my hart lê. Aktueel of nie-aktueel, ongeag. Kyk byvoorbeeld na ‘ ’n Huldeblyk aan tannie Lettie’ op bladsy 205. Dis absoluut aktueel, maar dit lê nie op mý hart as aktueel nie, maar as diep-diep emosioneel.”

Die reaksie van lesers is merendeels positief.

“Maar daar is lesers, gewoonlik naamloos, wat my soms in die briewekolom uittrap dat my derms spat. Met die jare saam het ek geleer om dit van my te laat afrol.

“Máár, ek ontleed wat die negatiewe kommentaar sê en probeer dink of die persoon nie straks reg is nie. Wat my egter briesend maak, en altyd sal, is as kommentaarleweraars woorde in my mond lê wat glad nie in die spesifieke rubriek staan nie. Hulle besluit en vertolk self wat staan onder die gedrukte woorde, en plak dit dan op mý skoot neer.”

Voetstoots kos R280.

Meer oor:  Penguin  |  Annelie Botes  |  Skrywers  |  Boeke  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.