Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Antjie Krog wen Hertzogprys
Antjie KrogFoto: ANTONIA STEYN

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Hertzogprys vir poësie gaan vanjaar aan die veelbekroonde digter Antjie Krog.

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans genl. J.B.M. Hertzog.

Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde.

Krog het die prys vir haar bundel Mede-wete ontvang wat in 2014 by Human & Rousseau verskyn het.

“Die bundel het al ’n hele ruk gelede verskyn, so dit was heel onverwags so op ’n harde Donderdag,” het Krog gesê.

“Nadat ek my man gebel het, was dit vir ’n oomblik vreeslik om te weet dat ek nie my ma kan bel nie.”

In ’n ongewone stap het die Akademie ook nie minder nie as drie Eugène Marais-pryse bekend gemaak: vir poësie, prosa én ’n dramateks. Die prys word toegeken vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ’n persoon toegeken word.

Bibi SlippersFoto: ADAM HEYNS
Lien BothaFoto: RAYMOND SMITH

Bibi Slippers, wat die Eugène Marais-prys (poësie) vir haar bundel Fotostaatmasjien ontvang, het gesê sy het duidelik die regte uitgewer gehad (Tafelberg).

Sy het ook bygevoeg: “Pryse soos dié sterk mens beslis in jou kwaad. Dis aanmoediging om aan te karring.”

Lien Botha, wat die Eugène Marais-prys in die roman-afdeling vir Wonderboom, haar roman van 2015, ontvang, was heeltemal uit die veld geslaan.

“Jislaaik, man, ek gaan nou in die see loop swem,” het ’n uitgelate Botha gesê. Sy het by dié navraag nog nie gehoor sy is een van die drie ontvangers vir vanjaar se Eugène Maraispryse nie.

“Ek buig in nederige dankbaarheid. Haal Die huis van die vier winde (van Marais) van die boekrak af.

“Voorin het my moeder op 25 Desember 1968 aan my ouma ’n Kersboodskap geskryf.

“Ja-nee, my moeder sou nou hiervan gehou het, dis vir seker.”

Die derde Eugène Maraisprys is toegeken aan Amy Jephta vir haar dramateks Kristalvlakte.

Ander pryse sluit in:

Die SA Akademieprys vir vertaalde werk word toegeken aan Daniel Hugo vir sy vertaling van Oorlog en terpentyn (Protea Boekhuis).

Die L.W. Hiemstrapys vir niefiksie word toegeken aan Carel van der Merwe vir Donker stroom (Tafelberg).

’n Erepenning vir die bevordering van geskiedenis word vanjaar toegeken aan Nicol Stassen van Protea Boekhuis

’n Erepenning vir radiodrama in Afrikaans word toegeken aan Marita van der Vyver vir haar radiohoorspel Genade.

Die volledige lys wenners is by www.akademie.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.