Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Antoinette Louw skryf 1ste kinderboek

Die aktrise Antoinette Louw het ’n kinderboek oor die volkslegende Racheltjie de Beer geskryf en daarmee amptelik haar debuut as kinderboekskrywer gemaak.

Die aktrise Antoinette Louw se eerste kinderboek, Die storie van Racheltjie de Beer.
Antoinette Louw Foto: Verskaf

Die storie van Racheltjie de Beer, wat in Oktober in boekwinkels landwyd beskikbaar sal wees, val saam met die uitreiking van die langverwagte rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer, waarin Louw die rol van Sara Lundt vertolk.

Louw sê haar “oulike” pa, prof. Dap Louw, het haar die idee vir die boek gegee – ’n boek wat sy op Facebook haar “eersteling” genoem het.

“Dit was ’n baie lekker geboorte,” skerts sy. “Vandat ek ’n kind was, was my ouers altyd ondersteunend oor my skryfwerk, maar die oomblik toe hy dit (die idee vir die boek) noem, was ek dadelik opgewonde oor die moontlikheid van so ’n projek.

“Eerstens is dit ’n heerlike uitdaging om iets nuut te probeer. Tweedens is daar ’n groot behoefte aan oorspronklike Afrikaanse kinderboeke – die meeste is vertaal – en daarby is volksverhale (in Afrikaans) so skaars soos hoendertande. As kind het ek daarmee grootgeword en ek wil graag die tradisie met die nuwe generasie deel sodat dit nie verlore gaan nie,” sê sy.

Lesers wat die volksverhaal goed ken, is bewus van die tragiese einde, maar Louw het in haar debuut heelwat by dit wat die slot voorafgaan, bygewerk.

“Ek het probeer om waar moontlik humor in te bring, veral in die dele waar die kinders (Racheltjie en haar broer) met mekaar praat,” sê sy. “Ek het ook – met die toestemming van die draaiboekskrywers – elemente van die fliek ingebring, soos Racheltjie se liefde vir plante.”

Die volksverhaal is ’n storie met “universele en rou menslike emosies”, sê sy. “Emosies waarmee ons almal kan identifiseer, soos liefde, opoffering en verlies. Hoewel die verhaal tragies is, wys dit tog ook die mooi kant van die mensdom. Ek dink almal van ons dra die eienskappe van ’n Racheltjie binne ons – en dit gee die hart hoop.”

Hoewel die boek haar debuut is, is die bekroonde aktrise eintlik reeds ’n gesoute skrywer: Naas ’n bydrae in die kinderboek Poenankies: ’n Versameling kinderstories deur bekendes, wat onlangs uitgereik is, sal veral Beeld-lesers haar as die skrywer van die rubriek “Saterdag met Antoinette” ken.

“Ek skryf al amper drie jaar die rubriek en het sopas die 86ste een voltooi. Ek is ongelooflik dankbaar daarvoor, want dit forseer my om te skryf. Dit het my weer selfvertroue gegee om aandag te gee aan my skryfwerk. Ek wil nie by Racheltjie stop nie,” sê sy.

“Ek dink volksverhale is belangrik; dit vorm deel van ’n identiteit en dra so baie kennis en wysheid. Suid-Afrika is ’n skatkis van volksverhale – baie waarvan ons nie eens weet nie. Ek sien daarna uit om daardie skatkis oop te maak en te verken.”

  • Die boek Die storie van Racheltjie de Beer kan reeds op www.naledi.online bestel word. Dit is van Oktober in boekwinkels landwyd te kry.
  • Die rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer word op 18 Oktober landwyd uitgereik.
Meer oor:  Boeke  |  Flieks  |  Antoinette Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.